Deur Mariëtte Odendaal
Die Kersliggies brand al vanaf Oktober oral in die winkels, Black Friday is op ons en die supermarkte loop oor van mense wat vroegtydig hul Kersfees-inkopies doen. Maar agter die vrolike gewoel skuil daar soms mense wat juis hierdie tyd gebruik om ander se vertroue, goedhartigheid en geld uit te buit. Hoe kan ons, en veral ouer mense wat nie altyd so vertroud is met kuber-aanslae nie, die feestyd met vreugde tegemoetgaan sonder om onnodige risiko’s te loop?
Met die nodige veiligheidsmaatreëls en waaksaamheid kan ons Kersfees met gemoedsrus tegemoetgaan.
Bedrog en slenters
In die volgende paar weke voor Kersfees sal uitbuiters met mening toeslaan. Wees op jou hoede vir die volgende:
- SMS’e en whatsApp-boodskappe oor pakkies, bankrekeninge, boetes, ensovoorts wat vreemd klink, nie sin maak nie en glad nie ’n klokkie lui nie.
- Mense wat hulle as bankamptenare, polisielede of ander amptenare voordoen.
- Vals beleggingsgeleenthede en beloftes van vinnige wins – as dit te goed is om waar te wees, ís dit te goed om waar te wees!
- Persone wat geld vir ’n sogenaamde noodgeval by ’n familielid vra.
- Moet nooit jou PIN, wagwoord of eenmalige bankkode (OTP) met iemand deel nie.
Moenie toelaat dat die persoon wat met jou kommunikeer, se dringendheid jou oordeel beïnvloed nie. Verifieer eers die egtheid daarvan voordat jy betaal of persoonlike inligting deel.
Winkels, kontant en bankkaarte
Die winkels is besig, mense is haastig en daar is baie afleidings; die ideale tyd vir skelms om toe te slaan.
- Wees bedag op sakkerollers en diefstal van handsakke en selfone.
- Moenie groot bedrae kontant saamdra of geld openlik tel nie.
- Beskerm jou PIN wanneer jy betaal.
- Wees versigtig vir vreemdelinge wat aanbied om by ’n OTM te help.
- Moenie onder druk aankope doen of meer bestee as wat jy kan bekostig nie.
Kersfees gaan nie oor hoeveel jy koop of weggee nie.
Huisveiligheid en vreemdelinge
Wanneer jy met vakansie vertrek, of wanneer jy alleen tuis is, is dit belangrik om op jou hoede te wees.
- Moenie onbekendes sonder duidelike verifikasie in jou huis toelaat nie.
- Wees versigtig vir mense wat ongevraagd herstelwerk of dienste aanbied.
- Hou deure en vensters gesluit, ook wanneer jy tuis is.
- Wees diskreet oor vakansieplanne en wanneer jou huis leeg sal staan.
- Reël met ’n betroubare persoon om na jou huis om te sien wanneer jy weggaan.
Finansiële druk en mense wat jou goedhartigheid misbruik
Feestye kan die druk verhoog om geskenke te koop, familie te help of bydraes tot verskillende projekte te maak.
- Stel vooraf ’n begroting op.
- Moenie uit skuldgevoel geld uitleen of borg staan nie.
- Verifieer liefdadigheidsversoeke voordat jy geld skenk.
- Onthou dat jy nie jou liefde hoef te bewys deur meer te gee as wat jy kan bekostig nie.
Vrygewigheid is ’n goeie eienskap, maar dit hoef nie jou finansiële sekuriteit in gevaar te stel nie.
Eensaamheid, emosionele kwesbaarheid en gesinsverhoudings
Nie almal beleef Kersfees as ’n gelukkige tyd nie. Vir sommige mense bring dit herinneringe aan geliefdes wat oorlede is, familiekonflik of die pyn van alleen wees.
- Wees versigtig vir aanlyn-kennisse wat vinnig emosionele bande wil vorm en later geld vra.
- Moenie onder druk instem tot besluite waaroor jy ongemaklik voel nie.
- Aanvaar uitnodigings en reik ook self uit na ander.
- Praat met iemand wat jy vertrou wanneer jy oorweldig of onseker voel.
Jy hoef nie jou kwesbaarheid alleen te dra nie. Om hulp te vra, is ’n teken van wysheid. Kontak gerus daardie hartsvriend of -vriendin indien nodig.
Gesondheid, reis en persoonlike veiligheid
Die somerhitte, besige paaie en ’n veranderde daaglikse roetine kan ekstra uitdagings meebring.
- Drink genoeg water en vermy oormatige blootstelling aan die son.
- Maak seker dat jy genoeg medikasie vir die vakansietyd het.
- Beplan reise en rus gereeld tydens lang ritte.
- Wees bedag op gly- en valgevare wanneer jy inkopies doen of by familie kuier.
- Maak seker dat iemand weet waar jy is as jy alleen reis.
En bo alles – geniet ’n kommervrye, geseënde tyd saam met jou geliefdes in die feesdae wat kom.
Kyk ook gerus na die waardevolle inligting op YouTube oor die onderwerp Beskerm jouself teen kubermisdaad en aanlyn-bankbedrog wat onlangs op 23 September 2026 deur dr Cornelie Crous aangebied is.

