Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Ons staan in Koninkrykstyd, en alhoewel mens dalk veel eerder, wat die liturgiese jaar betref, stilte met Lydenstyd sou wil verbind, wonder ek hoe ons die rol van stilte in Koninkrykstyd sou kon verstaan en verbeeld. Hoe sal ons die verband tussen Woord en sakrament, mistiek en profetiese optrede, inkeer en uitgaan kon verstaan? Ek nooi jou om vir ’n oomblik saam met my hieroor na te dink.

In ’n poging om stilte te beskryf en daarmee ook op die gewig van woorde wat in stilte gebore is te wys, is dit miskien beter om na die teenoorgestelde kant van stilte te kyk, of dan “cliché”, soos Johan Cilliers in een van sy werke, Silence is golden, die afwesigheid van stilte beskryf.

“It says the “right” word at the wrong time or the “wrong” word at the right time. Clichés are always untimely, always missing the kairos. Karl Barth calls people who use such language fools: “Foolish people are always either too early or too late. They sleep when they should be awake, and are awake when they should sleep. They remain silent when they should speak and speak when it would be better to remain silent. They laugh when they should cry and cry when they should be comforted and could have laughed. They work when they must pray and pray when only work could make the difference. They consider everything at the wrong time; say everything to the wrong people; do everything in the wrong direction; always choose the complicated but irrelevant things, while the simple but crucial are required …”

Dit wil voorkom of stilte dikwels as leeg gesien word. Asof dit geen betekenis dra vir gelowiges se publieke optrede nie. Asof woorde soos mistiek en profeties as streng alternatiewe verstaan word. Tog verduidelik Len Hansen in sy werk A “private side” to public theology? hoe die een die ander ondersteun, komplementeer en verryk. Hy verduidelik hoe ’n oomblik van inkeer, stilword en gebed belangrike sosiale gevolge inhou. Alhoewel kontemplatiewe stilte dikwels gesien word as iets wat eenkant, alleen en geskei van die groter samelewing geskied, en selfs soms ook as ’n ontvlugting van die werklikheid beskou word, verduidelik Hansen die rol van die mistieke in profetiese optrede deur die mistieke as ’n proses te beskryf. Hy sien dit as ’n proses wat ’n oomblik van onttrekking (withdrawal), transformasie (transformation) en terugkeer (return) behels. Die tydelike onttrekking van die samelewing waarna Hansen verwys, sensitiseer ons vir beide geregtigheid en ongeregtigheid. Met die onttrekking verkry ons ’n ander perspektief op die werklikheid. Die samelewing word as ’n onafwendbare eindbestemming van stilte verstaan. Stilte is dus nie iets wat net deur sommiges of slegs iewers in ’n klooster beoefen word nie. Dit is ook nie ’n soort dekmantel wat die waarheid probeer wegpraat, goedpraat of ignoreer nie. Inteendeel, die stilte ontbloot en skep.

Dit is in die stilte waar nuwe skeppings gebore word: woorde gebore uit die stilte wat die werklikheid kan ontdek en ontbloot. Dit skep ’n groter sensitiwiteit teenoor beide geregtigheid en ongeregtigheid wat in die samelewing is en wil wees. Die stilte verskerp ons sintuie. Ons leer om te kyk en te luister voor ons praat. Stilte stel ons in om meer as woorde te lees, om ook tussen die lyne te lees. Om meer as woorde te hoor, om ook dit wat nie gesê word nie, te hoor. Die stilte stel ons in staat om betekenisvolle mymerings, kontekstuele woorde wat sin maak, in ons liturgieë te gebruik. Dis asof Hansen ons gedagtes oor die verband tussen stilwees en verkondiging wil kom verruim en pleit, nie net vir eksplisiete doelbewuste oomblikke van stilte in ons liturgieë nie, maar ook dat die woorde wat ons in die erediens gebruik, van stilte en van ’n ontmoeting met God sal getuig.

116 | Maatskaplike NOODLYN