Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Wat ‘n belewenis!

‘n Groep jong predikante en proponente het op 3 en 4 Maart deelgeneem aan ‘n opleidingsgeleentheid te Menuha, 20 km buite Brandfort. Dié geleentheid het gehandel oor praktiese leiding rondom trauma by sterfgevalle – veral onnatuurlike sterfgevalle.  Me Hanneke Lubbe het gedien as die gespreksleier.

So baie maal word leraars gekonfronteer met trauma en sterfgevalle, maar hoe praat ‘n mens daaroor? Hoe kommunikeer jy rondom terminale siekte? Hoe deel jy slegte nuus mee? Wat is dood en hoe voel ons self daaroor? Hoe praat ons met kinders oor die dood? Verlies, en die verwerking daarvan? Wat het ouers nodig wat ‘n kind verloor het? Wat is die nut/rol/betekenis van rituele, soos byvoorbeeld begrafnisse? Hoe begelei jy ‘n mens wat in depressie geval het? Hoe bied jy vir iemand hoop? Kán jy hoop gee?

Wel, gelukkig is daar verskeie maniere hoe ‘n pastorale versorger kan help om lig te werp rondom al hierdie vrae. Daar ís ‘n lewe van hoop en oorwinning. Gelukkig en ongelukkig is baie leraars die enigste “hospice” werkers in die dorp en daarom is dit nodig dat hulle nuwe vaardighede leer.

Me Lubbe het die gesprek gelei en die jongleraars het baie lekker aan die gesprek deelgeneem. Baie leraars het hulle eie verhale met mekaar gedeel en mekaar begelei tot antwoorde en moontlike oplossings.

Die belangrikste ding wat ‘n pastorale versorger moet doen is om die lydende persoon se menslikheid raak te sien. Of die persoon ly aan ‘n terminale siekte of deur trauma gaan as gevolg van iemand anders se dood, is dit baie belangrik om die persoon se menslikheid raak te sien en te erken. Die emosies wat beleef word is werklike emosies en kan nie net onder die mat gevee word nie.

Jy moet kan identifiseer of die persoon se lyding fisies, emosioneel, kognitief of geestelik is. Wat is vir die persoon belangrik in die tyd van lyding? Familie, vriende, kerk, vakansie, ‘n “bucket list”? Waarmee kan jy as pastorale versorger help om lyding te verminder of die aandag van lyding af te trek en die las vir die persoon ligter te maak? Dalk kan jy ‘n tipiese “Patch Adams” wees.

Jy moet ook weet om die werklikheid aan hulle duidelik te stel, om dit op ‘n sensitiewe wyse te doen, maar nie om doekies om te draai nie. Hoe vinniger die werklikheid ‘n realiteit word, hoe vinniger en makliker kom die aanvaarding en die bereidheid om die “nuwe jy” te wees. As versorger moet jy ook weet om die persoon te kan verwys na iemand wat jy weet jou regterhand kan wees in die herstelproses.

Maar bo alles moet jy as pastorale versorger ook jou identiteit as God se verteenwoordiger inneem.  Indien jy die persoon se toestemming het, moet jy hom/haar ook begelei na ‘n volle oorgawe tot die Groot Geneesheer, Jesus Christus. Hy het reeds al ons sondes, ons siektes, ons swakhede, ons pyn, ons trauma, ALLES, op homself geneem aan die kruis. Deur jouself ten volle aan Hom oor te gee, kan Hy al jou pyn en hartseer neem en jou ‘n nuwe lewe gee. Dit is immers waarvoor Hy gekom het en vir ons beloof. Hy is die Een wat werklike hoop en nuwe lewe gee.

Dit was ‘n wonderlike voorreg gewees om net weer ‘n paar gereedskap in ons gereedskapskis by te voeg.  Ons kan nie wag vir die volgende geleentheid nie!

Foto’s verskaf deur ds Elandé Swartz
116 | Maatskaplike NOODLYN