Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Wat laat ons agter?

Deur Celicia McLean, redakteur van die Vrypos-nuusbrief van die NG Kerk Vrystaat

Erfenismaand laat ’n mens maklik terugkyk. Na waar jy vandaan kom. Na die mense wat voor jou hier was. Maar dalk moet ons vanjaar ook ’n ander vraag vra: Wat gaan ná óns oorbly?

September is Erfenismaand.

En skielik is daar weer foto’s van kos, klere, taal, tradisies en alles wat vertel waar ons vandaan kom. Dis goed so. ’n Mens behoort te weet waar jou wortels lê, maar ek wonder soms wat ons as kerk bedoel wanneer ons oor erfenis praat.

Is dit die kerkgebou op die dorp? Die orrel? Die ou kansel? Die doopregister waarin jou oupa en oumagrootjie se name nog staan?

Dit is alles deel van ons storie. Maar sekerlik nie die belangrikste deel daarvan nie. Ons grootste erfenis kan nie in ’n argief gebêre word nie. Dit leef in mense.

Dit leef in die ouma wat jou geleer bid het. In die dominee wat jou naam onthou het toe jy nog ’n kind was. In iemand wat kos by ’n deur gaan aflaai het sonder om te vra of die persoon dit “verdien”. In ’n gemeente wat opgedaag het toe ’n familie se wêreld uitmekaar geval het.

Dalk is geloof juis só van een geslag na ’n volgende aangegee. Nie altyd deur groot woorde nie. Dikwels net deur mense wat probeer het om Jesus te volg.

Ons verlede was nie perfek nie

Dit moet ons ook kan sê. Om ons erfenis te waardeer, beteken nie dat ons alles wat voor ons tyd gebeur het, hoef goed te praat nie. Ook die kerk se geskiedenis het mooi én moeilike hoofstukke. Daar was tye van groot geloof en opoffering, maar ook tye waarin ons verkeerd gekies het, mense uitgesluit het en nie mooi genoeg geluister het nie.

Ons hoef dit nie weg te steek nie. Genade gee ons juis die ruimte om eerlik terug te kyk, uit die verlede te leer en anders vorentoe te leef, want die Christelike geloof vra nie dat ons die verlede moet bewaar asof niks ooit mag verander nie. Dit vra dat ons sal onthou Wie deur al die veranderinge heen getrou gebly het eendag, wanneer hulle van óns vertel. Dít is die gedagte wat my hierdie Erfenismaand bybly.

Ons praat maklik oor die mense wat voor ons gekom het, maar ons is nou besig om iemand anders se erfenis te word. Ons kinders kyk. Ons gemeenskappe kyk. Mense wat dalk lanklaas in ’n kerk was, kyk.

Hulle hoor hoe ons oor mense praat wat anders as ons dink. Hulle sien wie welkom voel en wie op die rand bly staan. Hulle sien hoe ons mekaar behandel wanneer ons verskil. Hulle kom agter of ons geloof net op ’n Sondag werk, of ook op ’n gewone Woensdag wanneer niemand kyk nie. Dit laat ’n mens wonder: Wat sal hulle eendag van óns onthou? 

Dat ons mooi kerke gehad het? Of dat ons deure oop was? Dat ons ons tradisies geken het? Of dat ons mense geken het? Dat ons baie oor Jesus gepraat het? Of dat mense iets van Jesus by ons beleef het?

Die spore wat bly

Ons weet nie hoe die kerk oor vyftig jaar gaan lyk nie. Waarskynlik anders as vandag, en dit is oukei, want ons roeping is nie om seker te maak alles bly presies soos dit was nie. Ons roeping is om in óns tyd getrou te wees. Om lief te hê. Om te vergewe. Om plek te maak. Om op te staan vir dinge wat verkeerd is. Om langs mense te gaan sit wanneer hulle seerkry. Om ons kinders te leer dat geloof nie bloot iets is wat ’n mens bely nie, maar iets wat ’n mens leef.

Dít is die soort erfenis wat nie ’n gedenkplaat nodig het nie. Dit laat spore, en dalk is dit genoeg om hierdie Erfenismaand een eenvoudige vraag saam te dra:

As iemand eendag in ons spore loop, sal dit hulle nader aan Christus bring?