Deur Mariëtte Odendaal | Ekologie Netwerk
“Toe ek verlede jaar in September as dosent aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) in Bloemfontein begin werk, was ek geskok om vullishope regoor die hele stad te sien. Ek het weer dieselfde opstandigheid ervaar as kind in Citrusdal; wanneer trokke en trekkers vullis reg oorkant ons huis op die vullisstortingsterrein afgelaai het.”
Dr Daniël Andrew
Dosent: Departement Missionale Teologie, UV
As ons so om ons kyk, sien ons hoe oorloë wêreldwyd toeneem. Miljarde word aan groot moondhede se militêre begrotings spandeer, wat noodwendig tot gevolg het dat begrotings vir opvoeding, maatskaplike dienste, mediese sorg en nog vele ander onontbeerlike dienste aan landsburgers toenemend krimp. Dis ’n tragiese situasie waarin die mensdom hom bevind.
Maar daar kan iets aan gedoen word. Dr Daniël Andrew het onlangs tydens ’n Talking Theology-aanbieding ’n lesing by die Fakulteit Teologie en Religie aan die Universiteit van die Vrystaat aangebied. Ons wou egter eers meer gaan uitvind oor die mens agter hierdie aanbieding.
Daniël, jy is in die Swartland gebore en het in die sitruswêreld daar langs die Olifantsrivier grootgeword. Vertel ons iets van jou grootwordjare.
“Ek is ’n plattelander in murg en been; ek is in Moorreesburg gebore, het grootgeword in Citrusdal en het gematrikuleer in Piketberg.
“My pa was Gereformeerd, so ek kon Kinderbond deur die week bywoon. My ma was Anglikaans en daar het ek weer Sondae Sondagskool bygewoon. Ek was dus baie bevoorreg om ’n ekumeniese of interkerklike geloofswyse letterlik met moedersmelk in te kry. Daarom glo ek dat ons as Christene soveel meer het om ten opsigte van ons verskeidenheid te vier, sowel as dít wat ons met mekaar deel en dít wat ons saambind.”
Wat het jy studeer en wat was jou motivering daarvoor?
“Ek het van kinds af ’n roeping gehad om vir God te werk en diensbaar vir my medemens te wees. Dit is waarom ek besluit het om teologie te gaan studeer. Danksy dr Japie Lapoorta, jarelange prinsipaal van die AGS se Teologiese Kollege te Sarepta en dosent aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), kon ek teologie aan die UWK gaan studeer.
“Die UWK se Fakulteit Teologie het twee bane aangebied; een vir die studente wat predikante in die NG Sendingkerk (later die VGK genoem) wou word en die ander baan vir studente uit ander kerkverbande, soos die Anglikane, Presbiteriane, Lutherane, Congregationals, Pinkster-groepe, Baptiste, ensovoorts. Byna die hele Bruid van Christus op aarde was in ons klasse verteenwoordig; ’n baie belangrike faktor wat my die waarde van ons verskeidenheid laat besef het.
“En dít was die plek waar ek bevoorreg was om my BTh, MTh, MA (Ontwikkelingstudies) en PhD te kon verwerf. Veral professore Dirkie Smit, Kobus Schoeman en Lucius Botes het in hierdie tyd ’n groot impak op my studiejare en geloofsontwikkeling gehad.”
Hoe het jou loopbaan tot dusver verloop?
“As AGS-pastoor het ek die afgelope 28 jaar by vier gemeentes gedien; twee in die platteland en twee in die stad. Laasgenoemde was in bende-geteisterde areas.
“Ek was ook dosent aan die AGS se opleidingskollege, die Sarepta Teologiese Kollege in Kuilsrivier, die Hugenote Kollege, die Calvynse Protestantse Kerk se Seminarium, die UWK en die Universiteit van die Vrystaat waaraan ek tans verbonde is as dosent in sendingwetenskap (missionale teologie).
Daniël, jy het onlangs ’n aanbieding, War on Waste, by ’n Talking Theology-sessie by die UV aangebied. Vertel ons meer daarvan.
“Ek het die sessie begin deur aan elke deelnemer te vra of hulle kan onthou waar die vullisstortingsterrein in hul grootword-dorpe was.
“Ons kon dit almal onthou: dit was nog altyd in of naby gebiede waar mense van kleur gebly het. Hierdie verskynsel word omgewingsrassisme genoem. Intussen is daar nog bitter min gedoen om mense uit daardie areas te verskuif.
“Ek het aan die gehoor vertel hoe geskok ek was toe ek verlede jaar in September aan die UV in Bloemfontein begin doseer en vullishope regoor die hele stad opgemerk het. Ek het weer dieselfde opstandigheid ervaar as kind in Citrusdal; wanneer trokke en trekkers vraghope vullis reg oorkant ons huis op die vullisstortingsterrein afgelaai het.
“In Bloemfontein is daar egter een groot verskil – hier is geen kleuronderskeid nie; jy sien die vullishope oral in die stad. Hierdie skokkende toestand hou verreikende veiligheids- en gesondheidsrisiko’s in vir beide mens en dier, asook vir ons mooi natuur. Dink net aan ons kinders wat buite speel, mense wat buite moet werk en selfs diegene wat weens armoede noodgedwonge op straat moet leef.
“Dit het my laat besef dat daar iets drasties gedoen moet word; dit kán mos nie aanvaarbaar wees nie! Ek het daaroor begin lees en die navorsingsonderwerp War on waste is as gevolg daarvan geskryf. Ons slagspreuk, Cleanliness is next to Godliness, is toe ook ontwikkel en verwoord baie duidelik hoe ons as gelowiges en Christus-navolgers oor hierdie verskynsel behoort te dink.”
Dit het jou toe op ’n navorsingspad geneem. Vertel meer.
“Ek kom toe af op die Verenigde Nasies se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (Sustainable Development Goals of SDGs). Daarin word dit duidelik uitgespel dat hul elfde doelwit is om van stede menslike nedersettings te maak wat inklusief, veilig, veerkragtig en volhoubaar is.
“Binne die Suid-Afrikaanse konteks word daardie doelwit in die beleide van ons Grondwet (Wet 106 van 1996), die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis (Wet 59 van 2008) asook die regulasies van plaaslike munisipaliteite wat verantwoordelik is vir die uitvoering daarvan, helder en duidelik saamgevat.
“Dus het ons genoeg wetlike skietgoed wat ons in staat stel om op te tree indien hierdie beleide nie nagekom word nie. Die vraag is waar die probleem lê. Hierdie mislukte vullisstortingspraktyke in ons land is nie net onveilig en ongesond nie, maar dis ook verontmenslikend (dehumanising); dit skrei ten hemele en teen God se hartklop vir ons.
“Ek moes toe in die studievelde van omgewingstudies, ontwikkelingstudies en teologie/godsdienste na hierdie kwessie gaan kyk. Dit was nie net ’n interdissiplinêre ondersoek nie, maar ook, soos dr Jiona Havea van die Metodiste-kerk in Tonga dit stel, ’n transtekstuele ondersoek. In hierdie proses het ek veral gefokus op die oorsprong (root causes) van hierdie gebrekkige ingesteldheid, gedrag en optrede van ons plaaslike regerings wat vir my, andere en die omgewing so ernstig bedreig.
“Ek het bevind dat hierdie bedreiginge ’n drievoudige planeetkrisis, naamlik klimaatsverandering, verlies aan biodiversiteit en besoedeling veroorsaak. Hierdie krisis kán afgeweer word as die verantwoordelikheid ten opsigte van afvalvullis deur álmal ernstig opgeneem word, naamlik vullisvermindering asook die hergebruik en herwinning van gebruikte artikels.
“Bogenoemde drie fokusse van die elfde Verenigde Nasies-doelwit kan help om beheer oor vullisbestuur te kry, om dit ekologies verantwoordelik te bestuur en dan die sirkulering van vullis as ’n beduidende sekondêre hulpbron van ekonomiese waarde te beskou.
“As dít begin gebeur, is ons nader daaraan om nedersettings te begin skep wat inklusief is, wat skoon water het, wat gesonder plaasomgewings verseker en genoeg herwinbare energie verskaf, veral gegewe ons kraglading.
“Gegrond op die Verenigde Nasies se leuse, Leaving No One Behind, sal ons dan die vyf P’s in gedagte moet hou, naamlik People, Planet, Peace, Prosperity (vooruitgang waarby almal kan baat vind) en Partnership (vennootskap en deelnemende bestuur).”
Jy het ook op baie interessante dokumente in jou navorsing afgekom. Vertel meer daarvan.
“Vanuit die Drie-eenheidsbestaan van God rus daar op ons as toesighouers en opsieners van God se skepping ’n etiese verantwoordelikheid om na die skepping en die omgewing om te sien, wetende dat God die einde van dit alles sal bepaal (God’s got the whole world in God’s hand). Vanuit hierdie drie-eenheidsverhouding kry ons dan ons ingesteldheid, houding, gedrag en optrede teenoor die verantwoordelike en volhoubare bestuur van die ekologie.
“Die wêreldwye ekumeniese kerk het in 2019 in Wupperthal, Duitsland bymekaargekom en onder andere die volgende in die Wupperthal Call verklaar: … towards a comprehensive ecological transformation of society … answering to an urgent crisis that demands from us to read the signs of the times, to hear God’s call, follow the way of Christ, discern the movement of the Spirit and recognise positive initiatives from the worldwide church (Andrianos, 2019).
“Dit word ook beskou as ’n oproep tot ’n ekologiese bekeringservaring waarin Christene hul aandeel aan die gesentreerdheid van die mens in die skeppingsorde erken; vandaar hul heerskappy oor die aarde en uitbuiting van haar hulpbronne.
“Geen ander teoloog in Suid-Afrika het daardie fokus meer beklemtoon as prof Ernst Conradie nie. In al sy werke tel jy elke keer hierdie verwysing na die Anthropocene op; die mens se rol in die vernietiging van die aarde.”
Wat het jy alles tot dusver op hierdie pad wyser geword; tot watter insigte het jy gekom?
“Die Wuppertal Call noem dit as volg: A bondage to sin that among others includes arrogance and pride to assume the whole creation centres around humans; trapped by the desire for unlimited material growth driven by consumerist greed; exploited God’s gift and hurt the dignity of our fellow humans, land, animals …
“Soos Conradie (2022) dit verder stel: Ons is in ’n krisis, komende van die Griekse woord krinos wat beteken, turning point or a time of danger, suspense and of making crucial decisions. Conradie gee dan vir ons vyf profetiese en pastorale sleuteltake wat die kerk in ag sal moet neem, naamlik simptome (om die tekens van die tyd te lees), diagnose (om die grondoorsake van hierdie vernietgingsdrang teenoor die omgewing te verklaar), onderskeiding (om te onderskei waar die Gees werksaam is), vertel (om die storie van God met ons en die omgewing te verkondig) en laastens, visie (om die profetiese visie van wat die wêreld kan wees, te behou en te volg).
“Prof Klippies Kritzinger (1991) praat van die morele ekologiese gedrag wat ons as mense teenoor mekaar en teenoor ons omgewing moet handhaaf, gegewe ons interafhanklikheid in ons (Suid-) Afrika-konteks. Nie ons of die omgewing moet die sentrale punt wees nie, maar God, soos Psalm 24:1 dit stel: Die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan.”
Wat sou jy sê is die rol van die kerk op hierdie pad?
“Ek dink in my vorige antwoorde word ons rol in die kerk alreeds binne die oproep om ’n morele ekologiese hervorming geplaas. Ons word opgeroep om met, wat prof David Bosch ‘dappere nederigheid’ (bold humility) noem, ons rol as toesighouers en opsieners van God se skeppingswerk ons profetiese en pastorale take baie ernstig op te neem.
“Dit moet gedoen word sodat ons ’n deeglike diagnose kan maak van die oorsake en gevolge van die ekologiese krisis. Wat verlang God van ons in hierdie tyd van ekologiese krisisse waarin ons leef, veral in hierdie konteks van die plaaslike regering van Mangaung (Bloemfontein)?
“Ons moet verantwoordelike ekologiese volgelinge van Christus wees en God se liefde wat alles-insluitend en alles-verheerlikend is aan die wêreld verkondig. Met ander woorde, die kerk het ’n onontbeerlike rol te speel in ekologiese transformasie. Dit spruit voort uit ons belydenis van God as Skepper en Vader van die skepping, ons beeld van God soos ons dit uit die verlossings- en bemiddelingswerk van Christus leer ken het, en deur die kragvolle werking van die Heilige Gees – in ons en deur ons vir ons medemens, dier, omgewing en alle vorme van lewe.
“So, in ons lees van die Bybel en die verstaan daarvan moet ons seker maak dat ons die ekologiese strekking nie sal miskyk nie; dat ons eko-vriendelike gemeentes sal raak wat eerstens sal vra: Is ons omgewing inklusief, veilig, gesond en volhoubaar?
“Dat ons dan ook na ons groter gemeenskappe sal gaan waar ons daagliks as navolgers van Christus moreel-ekologiese agente sal wees. Ons moet daarmee op die tuisfront begin en die slagspreuk Cleanliness is next to Godliness by ons kinders en jeug inskerp en dit ook in ons aanbidding en leefstyl werkbaar en sigbaar maak.
“As ons deurentyd aan ons huidige ekologiese uitdagings aandag gee en fokus op volhoubare ontwikkeling, sal dit beslis verseker dat ons toekomstige geslagte eendag die voordele daarvan sal geniet.”
Daniël, wat is jou droom vir die toekoms?
“Dit is om in my leeftyd te sien hoedat ons al hoe meer ’n regverdige en gelyke bestel sal help skep waar almal ons Godgegewe menswaardigheid kan vier en geniet.
“Nog ’n droom is dat ons sal leer om in ware eenheid met ons diversiteit saam te leef, nie as ’n verskoning om uit te sluit, te onteer en uit te buit nie, maar om ons missionale mandaat as geroepenes en gestuurdes, uit gehoorsaamheid aan God se sending (Missio Dei), uit te leef as ware dissipels van Jesus. Dit sal gedoen kan word deur die kragvolle werking van die Heilige Gees.
“Hiervan wil ek nie net droom nie, maar dit ook uitleef en oordra aan my studente, ons toekomstige predikante asook die volgelinge van Jesus.”
Vir meer inligting kan dr Daniël Andrew gekontak word by danieln.andrew@gmail.com
| verskaf: Dr Daniël Andrew, dosent: Departement Missionale Teologie, UV