Wát ‘n jaar was 2020 nie, en is 2021 steeds… vanjaar vier ons vir die tweede keer opeenvolgend Vryheidsdag, terwyl ons weliswaar nié so vry is nie. Dié keer word ons almal oor dieselfde kam geskeer, en word niemand gespaar nie.
Hierdie “on”-vryheid waarin ons ons tans bevind, kan egter in geen opsig vergelyk word met die geskiedenis van ons droewe land, wat tot die eerste Vryheidsdag in 1994, aanleiding gegee het nie.
Om ons geheue te verfris: Vryheidsdag is ‘n openbare vakansiedag in Suid-Afrika wat op 27 April gevier word. Dit vier vryheid en herdenk die eerste na-apartheid verkiesings op daardie dag in 1994 gehou. Die verkiesing was die eerste nie-rassige nasionale verkiesing. Almal met ‘n stemouderdom van ouer as 18, wat as permanente burgers woonagtig in Suid-Afrika, toegelaat is om te stem. Voorheen, onder die apartheidsregime, het nie-blankes in die algemeen slegs beperkte stemreg gehad, terwyl swart Suid-Afrikaners hoegenaamd geen stemreg gehad het nie.
Met die aanbreek van die dag, die 27ste April 1994, kon baie mense vir die eerste keer uiting gee aan die opwelling van emosie. Gevoelens vroeër onderdruk kon na die oppervlak kom, want skielik was daar nou soveel potensiaal tot nuwe moontlikhede; die toekoms het skynbaar blink voor almal gelê.
Nou, soveel jare later, is daar egter soveel ontnugtering en ontsetting, waarvan die vergrype, staatskaping en ander blatanthede deur magsbeheptes. En boonop tref COVID-19 ons almal, maar weer eens, ironies genoeg, vir sommiges meer as vir ander.
Maar weer, en steeds, het ons die een vryheid wat niemand van ons kan wegneem nie, en dit is die vryheid om te besluit hoe ons wil en gaan reageer.
Soos altyd, kan ons put uit die Woord. Dit is presies wat die Bybel ook sê en vra: Galasiërs 5:13 “Julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ‘n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde.”
Daarom dat vryheid en verantwoordelikheid soos die twee kante van ‘n munt is. Die een altyd saam met die ander, en sonder die een, is die ander nie geldig of outentiek nie.
Iewers lees ek: vryheid en verantwoordelikheid is soos ‘n vis en water. ‘n Vis is vry om uit die water te spring, maar dit gaan sy dood beteken. Om te lewe, aan te hou lewe, moet jy binne die ruimte van verantwoordelikheid (“accountability”) bly.”
Só werk dit: ek is net vir myself verantwoordelik, maar ek is wel verantwoording aan jou verskuldig.
Sou ons net die vryheid gebruik, en daarop teer, en ook misbruik, dan sit ons binne die kring van die vegters vir vryheid, wat ná die verkryging van die vryheid, soos (Johannes 10:8) diewe en rowers steel, slag en uitroei.
Hierdie is ‘n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van die NG Kerk Vrystaat nie.