Professor Landman van die teologiese fakulteit van Unisa stel voor dat kerke hierdie Vrouedag moet praat oor wat kerke doen rondom vroue se liggaamlikheid, weerloosheid en eensaamheid. Die voorstel is gemaak nadat hy hartroerende stories vertel het van vroue wat nie ‘n veilige plek gehad het om heen te gaan nie. Van vroue wat uit desperaatheid na township-klinieke sonder kos en water gegaan het, sodat hulle in die geheim kon aborteer, tot vroue wat geweier is om bedien te word met sakramente, oor een eensame aand waarin hulle ‘n fout gemaak het.
Dis geen geheim dat Suid-Afrika met ‘n enorme probleem sit rakende verkragting nie. Volgens die SAPD se jongste misdaadstatistieke word vyf vroue elke uur in Suid-Afrika verkrag. Dis 120 per dag. Die gevolg is dat mense bang of verveeld raak met vroue se stories. Dalk as die kerk die situasies in ‘n nuwe lig sien. Deur die oë van Jesus. Jesus verhef die vrou wat deur die gemeenskap verwerp is, om die belangrikste rol in die gemeenskap te speel. Dit sien ons veral in die verhaal van die vrou by die put.
Twaalfuur die middag kom daar ‘n Samaritaanse vrou water skep by die put. Dis ‘n vreemde tyd van die dag om water te skep. Mense kruip weg in hulle huise 12 uur die middag tot dit koeler is. Waarskynlik verwerp deur die ander vroue en die gemeenskap. Sy gesels skrikkerig met Jesus. Dalk eensaam omdat sy ‘n persoon is waarmee niemand regtig te doen wil hê nie. Jesus ken gelukkig nie haar geskiedenis nie. Of so het sy gedink.
As sy tog maar net ‘n manier kon kry om nie meer water te kon skep nie, sou sy ook nie hier met mense in aanraking hoef te kom nie. Vir altyd wegkruip van ‘n veroordelende gemeenskap. Sou dit werk? Sy kruip weg omdat sy nie die seer van verwerping wil beleef nie, maar is die seer van eensaamheid ‘n genoegsame plaasvervanger? Dis ‘n Hopelose situasie, eintlik.
“Wat sê U daar, meneer? U kan my probleem oplos. U kan vir my water gee dat ek nooit weer dors sal word nie?” Dit sal help. “Wat? Wat sê U daar? U wil hê ek moet my man gaan roep?” Hy gaan my ook verwerp as hy hoor hoeveel mans ek al gehad het. Hy gaan ook net een van die menigte mense word wat my verwerp. Kom ek antwoord hom so dat hy nie my verlede sal agterkom nie, dink sy by haarself . Dit is die enigste oplossing vir my situasie. “Ek het nie ‘n man nie”, antwoord sy vir Jesus.
Jesus se reaksie slaan haar uit die veld! Hoe kan hy tog weet dat ek al 5 mans gehad het, en dat die een wat ek tans het ook nie my man is nie. Nog meer verbasend: Hoe praat hy met my, terwyl hy heeltyd my verlede ken? Dan wil hy nog vir my die grootste geskenk gee wat ‘n mens op aarde kan ontvang: Die ewige lewe! Ek kan nie stilbly nie – ek moet almal gaan vertel van Jesus.
‘n Hopelose situasie word die mees hoopvolle verhaal. Die persoon wat deur die gemeenskap verwerp was, word die mees bruikbare persoon in die koninkryk van God. Uit al die mense wat Jesus kon gebruik het om die Samaritane te bereik, gebruik Jesus die persoon wat deur almal verstoot is.
Dalk maak ons dieselfde fout as die Samaritane – om juis die persone te verwerp wat deur Jesus sou gebruik word as instrument.