In 2 Samuel 6 word die verhaal vertel van Dawid wat die ark van God wil bring na Jerusalem. Net in die vorige hoofstuk het Dawid, met sy privaat weermag, die Jebusiete verslaan en Jerusalem gesteel. Die subteks in die verhaal van die ark is dit: Dawid wil ’n nuwe politieke rigting inslaan, geografies onafhanklik van die tradisies en verlede van Israel, daarom die nuwe stad. Maar nou sit hy met ’n probleem: Hoe sal hy verseker dat die Israeliete sy nuwe rigting van politieke samestelling navolg? Sy oplossing is om die ark van God na Jerusalem te bring. Sodoende gee hy legitimiteit aan sy nuwe geografiese sentrum deur die simboliese teenwoordigheid van God. Waar die ark is, daar is God. Waar God is, daar is outoriteit volgens God se wil. Dawid verseker hiermee legitimiteit en lojaliteit.
Dit is die plan van Dawid. Maar dit misluk.
Jy ken die storie, soos wat Dawid en sy manne die ark vervoer, is daar ’n oomblik waar dit blyk dat die ark gaan val. Een van Dawid se manne, Ussa, gryp die ark vas om te keer dat dit val en word dadelik deur die toorn van God gedood. Dawid het so groot geskrik dat hy eerder die ark elders stuur. En so sê die teks dit ook: “Dawid het daardie dag bang geword vir die Here” (vers 9).
Hierdie oomblik is beduidend in die verhaal van Dawid, alhoewel hy tog weer in die toekoms optree sonder vrees vir die Here. Maar die dag wat Dawid bang geword het vir die Here toon op ’n belangrike potensiële verandering in sy koningskap. Daar is die moontlikheid dat hy nie so onafhanklik en self-regverdigend sal optree soos hy gedink het hy sal kan met sy nuut-gevonde mag en onafhanklike stad nie. Dat hy nie net kan plunder en steel, moor en manipuleer nie. Hy moet mooi dink oor die nagevolge van sy aksies in die toekoms.
Uiteraard is daar ook seën in die verhaal oor die ark betrokke. Die huis van Obed-Edom, waarheen die ark gestuur is na die Ussa-insident, word geseën. Vrees en seën. Vreesloosheid en oordeel. Dalk is die verhaal van Dawid se koningskap eerder een van oordeel as van seën.
Nietemin, die punt wat ek maak uit die verhaal, is dat vrees vir Here ’n belangrike idee is. Daar is moontlikhede van hoe vrees vir die Here geïnterpreteer kan word. Soms het predikers dit goed gevind om te preek oor die oordeel wat ons sal ontvang in ewige hel, as ons nie reg lewe nie. Ek’s nie oortuig dat dit ’n goeie interpretasie is nie. ’n Ander moontlikheid is dat vrees eintlik net respek vir die Here beteken, maar dit het net nie dieselfde retoriese erns as die woord vrees nie.
Hier is ’n voorstel. Vrees vir die Here is ten diepste ’n vrees vir die toekoms. Om te leef asof die Here die eerste en mees belangrikste agent in jou toekoms is. So gedink aan vrees vir die Here, rig dit ons gedagtes in die hede om ten diepste te vra na die aksies en besluite wat ons sal neem na ’n toekoms waar ons die Here met waardigheid kan ontmoet. Uiteraard, beteken hierdie vrees ook dat ons nie ’n toekoms wil ingaan wat slegter is as die hede nie. Maar juis dat ons onderhandel met die Here deur ons lewens, denke en geloof sodat die toekoms ten minste beter is as die hede – alhoewel nie perfek nie.
“Vrees vir die Here is die begin van wysheid”, lui die bekende gedeelte uit Spreuke. Wat die wysheidsliteratuur ons wil leer is eintlik baie menslik, banaal en wêrelds. Hoe om eenvoudig te leef binne die kompleksiteit van ons daaglikse lewens. Dalk, in tye van ideologiese verwarring, teologiese bevraagtekening en allerlei chaos in ons samelewing, sal dit goed wees om eenvoudig na te dink aan en na te spreuk dit wat wys is in ons doen en late. Hoe om orde te skep. Hoe om saam te werk. Hoe om met respek te verskil. En hoe om die toekoms te betree met vrees vir wat ons daar mag vind.