Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Voëlkykers is toe nie so “weird” nie!

“Kyk na die wilde voëls: Hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?”.
MATTEUS 6:26

Ek is en was nog nooit ‘n voëlkyker nie. Tog val die helfte van my familie onder die kategorie van “voëlkykers”. In my eie denke bly dit ‘n spesie van die mensdom wat aan die weird kant is, want indien daar êrens heen gery moet word, moet die verkyker en voëlboek eerste ingepak word. In hierdie voëlboek word dan aangeteken dat ‘n spesifieke voëltjie op ‘n sekere plek en op ‘n sekere dag raakgesien is. En dan kan die geselskap so maklik oorgeneem word deur opgewonde voëlkykers se eerste gewaarwording van ‘n baie “seldsame” voëltjie asof dit in die hele geselskap se belangstellingsveld val.

Daarom bly dit vreemd dat wanneer Jesus oor ‘n lewe in God se Koninkryk (vgl Matteus 6:33) praat, Hy sy volgelinge oproep om na wilde voëls te kyk. Jesus sê: “Kyk na die wilde voëls: Hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?” (Matteus 6:26) Die woordjie “kyk” kom meer as 1300 keer in die Bybel voor. Die meeste Engelse vertalings van die Bybel gebruik die woord “behold”. ‘n Goeie sinoniem vir “kyk” sou dus ook kon wees “om te aanskou”. Om te aanskou dui op ‘n dieper kyk of ‘n aanhou-kyk. Dit is om te kyk met intensie en verwagting. Dit is ‘n verwagting dat, as ek aanhou kyk, ek iets kan “sien” van dit waarvan ek nie nou bewus is nie. Wat behoort ek raak te sien en waarvan moet ek bewus raak?

Jesus wil hê dat ons na die wilde voëls moet kyk sodat ons op ‘n dieper vlak ‘n konneksie kan maak tussen ‘n wilde voël en ons hemelse Vader. Ons hemelse Vader is ook wilde voëls se hemelse Vader wat vandag vir hulle gee wat hulle nodig het. Hý sorg vir hulle. Indien jy dit kan insien, sal jy ook bewus raak van ons hemelse Vader wat altyd vir jou sorg, want “Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het.” (Matteus 6:26)

Voëlkykers is toe nie so weird nie, want deur na wilde voëls te kyk, word ons gehelp om in God se Koninkryk te lewe en saam met God te leef wat daagliks vir jou sorg. Daarom lig Jesus ‘n lewe vry van bekommernis uit as ‘n uitstaande kenmerk van ‘n lewe saam en in diens van God en sy Koninkryk (vgl Matteus 6:34).