Hoewel die gemeenskap van Reitz hier in die Oos-Vrystaat al oor die jare ‘n kultuur van voedselhulp vir minderbevoorregdes ontwikkel het, het die Korona-pandemie dit verder versterk.
Die driemanskap, naamlik VKB, die plaaslike gemeentes sowel as Engo het dit hul taak gemaak om daadwerklik ‘n verskil in die moeilike ekonomiese tyd te maak waar vele gesinne en individue onder armoede gebuk gaan.
VKB het lojaal aan die wit mieliemeel-projek deelgeneem en ‘n groot aantal 10 kg-sakkies daarvan beskikbaar gestel.
Die twee NG Gemeentes, Reitz-Wes sowel as Reitz, is as verspreidingsdepots ingerig en daar is aan ‘n groot aantal hulpbehoewende gesinne deurlopend skenkings gemaak om in hierdie tyd die pot aan die kook te hou.
Engo was die altyd-getroue-vennoot wat die mees kwesbare gesinne wat nie deel van die gemeentes is nie, met die voedselhulp te ondersteun.
VKB het ook hul hulpverlening verder uitgebrei en hoenderstuk-pakke aan die behoeftiges beskikbaar gestel volgens ‘n koeponstelsel. Hierin is veral Engo gebruik as verspreidingsbasis.
Bogenoemde aksies van VKB, die gemeentes en Engo het ook die res van die boerderygemeenskap gemotiveer om by die hulpverleningsproses betrokke te raak.
• Boereverenigings het skenkings van verskeie produkte gemaak wat aan die gemeenskap versprei is via die kerke.
• Individuele boere het produkte in die vorm van suikerboontjies en aartappels geskenk.
• Gesinne is deur die inisiatief aangesteek en twee gesinne het selfs ‘n groot hoeveelheid wildsvleis geskenk wat deur die gemeente en Engo versprei is.
Terwyl die Korona-pandemie soveel onsekerheid en moedeloosheid blootgelê het by hulle wat nie het nie, juig ons hier in die Reitz-gemeenskap vir die voorreg om juis te kan gee en so die boodskap van God se beskermende genade te kan uitdra.
Aan Hom al die eer!