Moderature van Gereformeerde Familie in Vrystaat
– saam op reis –
Om familie te wees en aan dieselfde tafel te gaan sit en kuier, is ’n groot voorreg, want dit sê ‘jy behoort’. En as dit jou nog boonop die geleentheid gee om oor diep en uitdagende sake na te dink en saam daaroor te besin, maak dit so ’n saamkuier iets heel besonders.
Op 24 en 25 Januarie het daar so ’n byeenkoms in Bethlehem plaasgevind.
Die moderature van die NG Kerk Sinode Vrystaat, die NG Kerk in Afrika Sinode Vrystaat, die VGKSA Streeksinode Vrystaat en die Reformed Church in Africa (RCA) het vir twee dae by die Pope John Paul ll Konferensiesentrum van die Katolieke Kerk daar plaaslik, vergader.
Dit was ’n historiese gebeurtenis, omdat dit die eerste keer in ’n lang tyd was dat hierdie groep moderature weer vergader het, veral na die Covid-19-pandemie. Wat dit ook baie besonders gemaak het, was dat die RCA, ons susterskerk wat uit die bediening aan ons Indiër-medegelowiges onstaan het, ook deel van hierdie vergadering was.
In die laaste week van Januarie het dié kerkleiers saam om die Woord van die Here gaan vergader en besin oor wat die rol van die kerk in die Vrystaat is; nie net vir 2023 nie, maar ook vir verder in die toekoms. Nadat kundige gassprekers ’n inleiding tot verskillende brandpunt-vrae gegee het, is dit in diepte bespreek en is daar gemeenskaplike sake van belange geïdentifiseer.
Die byeenkoms is lekker gemaklik en informeel aangebied – met geen agenda nie – en gefasiliteer deur Willem Ellis, verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat.
Dr Nico Mostert, uitvoerende amptenaar van Vennote in Getuienis, vertel: “Die byeenkoms is ingelei met die vraag, Who are we in Christ? Dit is in die vorm van ’n Bybelstudie aangebied en daar is gereflekteer oor wie ons in Christus is; ’n goeie wegspring-oefening voordat ons die volgende vrae vir bespreking aangedurf het.
“Daarna is daar besin oor wie ons in ons gemeenskappe is (Who are we in our communities?). Prof Ina Gouws, verbonde aan die Departement Politieke Wetenskap van die Universiteit van die Vrystaat, het die gesprek ingelei met die onderwerp, The Social Political Context in the Free State. Vir die doel van ons vergadering was dit van kardinale belang dat ons eers net ons konteks goed moes begryp. Willem Ellis het daarna gepraat oor The Need of Social Cohesion, sekerlik een van die belangrikste eienskappe van enige gemeenskap wat vorentoe wil beweeg.
“Ds Jan Venter van die NG Kerk Clarens en prof Dons Kritzinger het toe met ons groep kom deel oor die werk wat hulle daar in die gemeenskappe van die Clarens-omgewing doen. Wat so besonders van hulle betrokkenheid daar is, is dat hulle nie net op die plaaslike gemeenskappe fokus nie, maar ook op die verskillende immigrante-gemeenskappe. Dit was ook baie spesiaal dat hulle ’n leier van die Zimbabwe-gemeenskap in Clarens saamgenooi het na die aanbieding.
“Die volgende oggend is daar besin oor wat daar nóú gedoen moet word (What should we be doing?), waarmee ons as kerke tans besig is (With what are we busy now as churches?), wat is ons planne (What are our agendas?) en die laaste vraag het gehandel oor hoe nou verder (How do we journey together from here?)”
Uit hierdie laaste gesprek het daar waardevolle bydraes gekom en is daar ’n paar opwindende sake genoem waaraan die moderature nou aandag wil gee. Met die volgende gesprek, wat oor so ses maande sal plaasvind, sal daar dan gefokus word op dié ses geïdentifiseerde onderwerpe wat ook die agenda sal bepaal waarmee die vier moderature verder gaan werk.
Die ses onderwerpe is as volg: Sosiale kohesie, diens van barmhartigheid, die jeug, teologiese opleiding, menslike hulpbronne en ons Gereformeerde identiteit.
Mag hierdie gesamentlike reis van ons vier moderature vir die hele Vrystaat, en ook vir ons hele land, tot groot seën wees.