Die ingangsportaal van die Universitas Hospitaal [1] is meestal ‘n miernes van bedrywighede. Besoekers, pasiënte, dokters, verpleegsters, kruiers, mense in rolstoele en ander op krukke skuif by mekaar verby of stamp aan mekaar in ‘n wedloop na die hysbakke of om hulle weg te vind na buite, na die parkeerterrein.
Vandag is dit anders. Die massiewe parkeerterrein staan verlate. Daar is geen karwagte of vrugtesmouse nie. Hoewel ek naby aan die ingang parkeer, moes ek ‘n permit hê om daarheen te kon ry. Die Covid-19-pandemie maai onder die mense. Oor die wêreld sterf daar daagliks duisende. Meestal dokters en verpleegsters wat die siekes help.
Die groot glasdeure gaan outomaties oop. Die reuk van die hospitaal is kenmerkend, soos altyd. Die skerp reuk van vloerpolitoer gemeng met die reuk van ontsmettingsmiddels tref mens eintlik al ‘n oomblik of wat voordat jy by die groot deure instap. Die reuk is, vreemd genoeg, vir my ‘n ou bekende tussen alles wat in ‘n oogwink so drasties verander het. Die ingangsportaal is grafstil. Al wat ek hoor is die klokkie van die hysbak wat, baie minder as normaalweg, aankondig dat die deure op ‘n bepaalde vloer oopgaan.
Ek kyk weer op my horlosie. Dit vertel my meer as wat ek wou weet: 17 minute oor 9, 2 April 2020. Ek is, soos altyd, heeltemal betyds. Hierdie keer is dit egter nie veel van ‘n troos nie.
Ek het tydens my bediening die voorreg gehad om baie mense, veral babas, te doop. Dit is een van die wonderlikste voorregte wat enige sterfling te beurt kan val. Om te sien hoe God sy hand van genade na ‘n swak mensekind uitsteek om hom of haar in Sy verbond in te sluit! Kan ‘n mens op ‘n meer intieme manier sien hoe God se genade konkreet word?
Ek is die hele tyd met my gedagtes aan die stoei. Dalk is dit eerder my gedagtes wat met my stoei. Dit kan ook nie anders nie, want eergister bel Kobus Pretorius my. Hy en sy gesin is al vir baie jare lidmate van die gemeente. Hy het my juis onlangs opgewonde vertel dat hulle hul eerste kleinkind binnekort verwag.
Ek het daardie dag sommer op die foon se skerm gesien dat dit hy is wat bel. “Het jy vir my goeie nuus?”, vra ek hom sommer, sonder om behoorlik te groet. “Wel, dominee, FC en Marina se babatjie, Carla, is vandag gebore. Daar is egter ongelukkig nie net goeie nuus nie. Sy is met haar dermpies buite haar lyfie gebore”.
Ek is heeltemal verstom. Ek was nie op so ‘n boodskap voorbereid nie. Wie is?
Kobus moes seker, heel tereg, die stilte van my kant as skok geïnterpreteer het, want voordat ek tot verhaal kon kom, gaan hy verder met die slegte nuus. Hy vertel dat die dokter aan FC en Marina verduidelik het dat so iets van tyd tot tyd gebeur en soms kan hulle nogal met ‘n operasie die babatjie red. In klein Carla se geval is dit egter nie moontlik nie. Sy sal net ‘n paar dae leef.
Ek kan in Kobus se stem hoor dat dit vir hulle ‘n enorme slag is. Hulle het so uitgesien daarna om oupa en ouma te word. Die feit dat dit ‘n voorreg is wat hulle net ‘n paar dae beskore sal wees, is net deel van hulle verlies. Hulle is gebroke omdat hulle kinders verpletter is en in hierdie Covid-tyd, kan hulle nie eers hulle kinders in die hospitaal gaan ondersteun nie.
“FC en Marina vra of dominee nie asseblief vir klein Carla in die hospitaal sal gaan doop nie? As gelowiges is God se tekens vir hulle belangrik!”
Ek is effens onkant gevang met die versoek, maar willig onmiddellik in. Hulle sou by die owerhede van die hospitaal toestemming kry om Carla in die Neonatale Intensiewe Sorgeenheid (NNISE) te laat doop. Van my kant het ek by die kerkraad toestemming daarvoor gevra en gekry.
Dit is dan wat my vandag hier by die hospitaal bring.
“Jammer, dominee, ons loop bietjie agter wat die tyd betref”. Dit is FC, wat duidelik die tekens van die afgelope paar dae se spanning op sy gesig dra, wat skielik hier naby my praat. Ek skrik effens en kom weer uit my diep gedagtewêreld terug na die verlate voorportaal van die hospitaal.
“Die saalsuster sê klein Carla is nog nie gereed nie. Sy sê ook dat dominee hierdie beskermende drag bo-oor dominee se klere moet aantrek”. Ek het heeltemal begrip daarvoor. Net die vorige dag lees ek van die hoeveelheid dokters en verpleegsters wat gesterf het terwyl hulle Covid-lyers se lewens probeer red. In Italië alleen het daar teen eergister reeds 67 dokters gesterf. Die verpleegsters se getal is nog hoër.
FC gee my ‘n paar kledingstukke. ‘n Hele paar. Party van hulle is maklik om te eien: Hierdie een moet oor my skoene kom, daardie een op my kop. Teen die tyd wat ek aangetrek het, is die hopie klere darem die helfte minder. Ek besef ook dat dit die eerste keer sal wees wat ek die doop met handskoene aan sal bedien.
Miskien ook maar goed dat dit my so lank gevat het om my oor aan te trek, want dit neem ‘n rukkie vir FC om my te kom haal. “Hulle is reg vir dominee. Ons kan maar ingaan”.
Miskien is dit nie regtig so ver van die ingangsportaal na die NNISE nie. Dit voel egter soos ‘n ewigheid om daar te kom. Die breë gange is verlate en ons kom nie baie mense teë op ons roete, wat ons hoofsaaklik in stilte stap, nie. Diegene wat ons raakloop het almal uniforms van soorte aan en die suspisie op hulle gesigte is duidelik. Wie sou nie agterdogtig wees om vreemdelinge onder hierdie omstandighede in die hospitaal raak te loop nie? Nog ‘n potensiële virusdraer?
Die Bybel in my hand vertel darem min of meer wie ek is en waarvoor ek hier is. Dit vee ‘n hele paar vraagtekens en fronse van sommige gesigte af. Dit is asof party gesigte se boodskap verander na “Dankie tog!”.
Wanneer ons by die NNISE instap is dit duidelik dat hulle ons verwag het. Sonder om ‘n woord te sê, stap die verpleegster wat ons by die deur kry, doelgerig na ‘n volgende vertrek. Basies ‘n kamer van glas. Ek tel vinnig ongeveer 12 gesondheidswerkers. ‘n Dokter of twee. Verder verpleegsusters. Mens kom vinnig onder die indruk dat hierdie ruimte ‘n strydperk, ‘n slagveld tussen lewe en dood is. ‘n Plek waar toegewyde mense onder hoë druk en intense spanning werk. Op hierdie dag, met die telbord wat aanhou rol en die een Covid-sterfte ná die ander onder gesondheidswerkers aankondig, is die spanning op strakke gesigte duidelik sigbaar.
Marina sit op ‘n stoel in die effense privaatheid van die glaskamer. Die lys van sake wat haar so uitgeput daar laat sit, is bykans oneindig: Die geboorteproses, die slegte nuus van ‘n baie siek, sterwende babatjie, min slaap, spanning. Tog wys sy trots, met ‘n moeë glimlag haar eersteling vir my. ‘n Glimlag wat vertel dat sy opreg glo dat haar babatjie die mooiste in die wêreld is.
Carla is inderdaad pragtig. Sy het die mooiste dooprokkie aan vir die geleentheid, kompleet met ‘n geblomde hoedjie. Haar gesiggie en handjies steek uit. Die vingertjies krul om ‘n kombersie se rand. Haar popgesiggie vertel nie die volle verhaal van hoe siek sy werklik is nie.
Ek is vroeër ingelig dat ons tyd, heel verstaanbaar, beperk is. Ek lees uit Genesis 15. Die lewe van Abraham is ‘n lewe van val en opstaan. ’n Lewe van geloof en van geloofstwyfel. Gelukkig eindig die verhaal nie by Abraham en al sy twyfelvrae nie. Wat maak God as Abraham so tussen die twyfelstemme deur worstel om te bly glo? God buig neer na Abraham om hom te troos en te help. Dit is amper of God té simpatiek is.
Ek het die gevoel dat wanneer dit by Sy kinders kom, ‘n mens iets hiervan by die Here sien. Hy kan net nie niks doen as ons sukkel nie. Dit breek Sy hart. God se hart is ook vandag gebreek saam met FC en Marina, verduidelik ek, terwyl hulle albei in trane is.
Die verhaal wat ons van Genesis 15:9 af lees, is vir my een van die ongelooflikste gedeeltes in die hele Bybel. Die Here sê: “Goed, Abraham, Ek sien jy wil baie seker wees van My woord. Ek kan dit verstaan. Daarom gaan Ek en jy nou ‘n kontrak aangaan. Bring sommer ‘n hele klomp diere. As jy al die diere hier het, kan jy hulle slag en die karkasse solank middeldeur sny en dan wag jy so rukkie vir my.
Toe gebeur daar ‘n snaakse ding. Terwyl Abraham op die Here wag, raak hy aan die slaap. En terwyl hy slaap, kom die Here self daar aan. Hy herhaal al Sy vorige beloftes aan Abraham. En toe die son ondergaan, terwyl Abraham nog slaap, gaan God alleen tussen die stukke vleis deur! Daarom die baie belangrike woorde in vers 18: “Op daardie dag het die Here ‘n verbond gesluit met Abraham …”
Die Here het geweet as Hy die verbond afhanklik maak van Abraham se belofte, dan is die verbond môre weer stukkend. Daarom gaan die Here alleen tussen die stukke vleis deur. Hý skryf die kontrak, Hy alleen sou borg staan daarvoor met sy bloed.
Dit is ook wat vandag met die doop gebeur. God gaan ‘n verbond met klein Carla aan. En die feit dat sy te klein is om dit te verstaan, die feit dat sy amper nie eers ’n asempie is nie en dat haar lewetjie aan ’n dun draadjie hang, verander niks aan die geldigheid daarvan nie. Net so min as wat God se verbond met Abraham bevraagteken kon word, omdat Abraham geslaap het terwyl God die verbond aangegaan het. Want sien, dit was nie Abraham se verbond met God nie, maar God se verbond met Abraham. Net so is die doop vanoggend nie Carla se verbond met God nie, maar God se verbond met haar.
Carla beweeg amper nie op haar ma se skoot nie. Die monitors om ons wat flits en piep-geluide maak, herinner my aan die erns van die saak. Die erns van die grootsheid van die oomblik dat God Sy hand van genade na ’n swak mensekind uitsteek. Maar ook die erns van siekte en ’n hele paar babas wat ook daar lê en met liefde versorg word.
Die trane loop vrylik oor Marina se wange. Met klein Carla wat haar een arm besig hou, is dit ’n uitdaging om al die trane af te vee. Sy gee later moed op en laat die trane maar loop tot op haar kamerjas en Carla se kombersie.
Ek herinner hulle aan Jesus Christus se liefde en die offer wat Hy aan die kruis gebring het om ons te verlos van sonde en die ewige dood. ’n Offer waarvan die doop juis ’n teken is. Die water herinner ons aan die bloed van Christus wat ons skoon was van ons sondes.
Die grootsheid van die oomblik laat my wonder: Is daar ‘n plek op aarde waar jy die genade van God meer konkreet kan sien as by die doop van ’n babatjie? Is daar ’n geleentheid waar jy meer geroer kan word as wanneer jy getuie is daarvan dat die almagtige Skepper van hemel en aarde neerbuig na mense, Sy hand van genade uitsteek na ’n swakke, sieklike, sterwende mensekind? ’n Kindjie wat nie eers daarvoor vra of roep nie. Wat nie eers daarvan weet nie? Ja, kom ek tot die gevolgtrekking, só wonderlik is ons God.
FC en Marina antwoord albei bevestigend op die vrae van die doopformulier. Aangesien niemand van die familie die doop kan bywoon nie, is FC besig om ’n video-opname van die geleentheid te maak.
Die saalsuster bring ’n houer vol water wat as doopbak dien. Dit is ’n bak van vlekvrye staal, omtrent so groot soos ’n sopbord, dalk bietjie dieper. ’n Bak wat waarskynlik in die hospitaal gebruik word om instrumente mee skoon te maak. Ironies dat hierdie “skoonmaakbak” vandag ook die verhaal van ’n ander “skoonmaak” vertel – die afwassing van sondes.
Daar is nie veel ruimte om die bak op neer te sit nie. Die saalsuster sit dit so stabiel moontlik op ’n trollie teenaan Marina neer. Dit is ongeveer op dieselfde hoogte as wat sy vir Carla vashou.
“Carla Pretorius, ek doop jou in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees”. Hoewel dit ’n sin is wat ek al so dikwels gebruik het, het dit nooit vir my “gewoon” geword nie. Elke keer is dit asof ek vir die eerste keer sê. Wat hierdie doopgeleentheid betref, is niks in elk geval gewoon nie. As die omgewing en atmosfeer my nie daaraan sou herinner nie, sou die chirurgiese handskoene wat ek dra en in die doopbak steek, die uniekheid en die droefheid van die oomblik uitskree.
Marina huil steeds. Haar hele gesig is byna nat. Haar trane drup konstant in die doopbak neffens haar. Die water waarmee klein Carla gedoop word, is ’n mengsel van hospitaalwater en haar ma se trane. Na ’n rukkie kom vee die saalsuster die meeste van die doopwater/trane, met ’n stukkie watte, van Carla se gesiggie af.
Die gebed wat daarop volg is kort. In sulke oomblikke waar God in Sy liefde ons in ons hartseer ontmoet, waar Hy ons gebrek en verslaentheid met sy genade begroet, is dit dalk gepas om ons woorde te tel.
Met dié dat ek so gefokus was op die gebeure van die doop, het ek nie besef dat die dokters en susters, in die oomblikke wat hulle nie self met pasiëntjies besig was nie, gekyk en geluister het na wat by die doop gebeur en ook geluister het na die preek. Toe ek omdraai om uit te gaan, loop ek amper binne twee susters vas.
“Dankie, Moruthi!” sê die een. “Jy het ons vandag kom troos”. Die tweede suster sê nie iets nie, maar aan haar liggaamshouding kan mens sien sy is dit eens met haar kollega. “Ons is bang”, gaan die eerste een voort. “Daar is so baie dokters en verpleegsters wat sterf oor die wêreld. Ons kollegas sterf. Ons pasiënte sterf. Ons is bang dat ons self siek word en ons ons mense by die huis gaan aansteek en dat hulle ook sterf. Ons is bang, maar die Here het jou vandag hierheen gestuur om ons te bemoedig”.
Ek is uit die veld geslaan met dié reaksie. Ek was so gefokus op die doop van klein Carla dat ek vergeet het van dokters en verpleegsters wat ook in die saal is en dat hulle in dié tyd meer gebed nodig het as meeste van ons. Ek voel half skaam dat ek nie maar ’n reëling getref het om spesiaal vir die groepie versorgers in die NNISE te bid nie. Dank die Here dat Hy in elk geval die boodskap by die doop, van Sy genade en trou gebruik het om die gehoor, wat ek nie in gedagte gehad het nie, te bemoedig en te herinner aan Sy beloftes.
Die meeste van die verpleegsusters is onmiddellik weer volstoom aan die werk wanneer ek met my Bybel in die hand, deur se kant toe staan. Almal groet my. Meeste bloot deur oogkontak te maak en waarderend hulle koppe te knik. By die deur wag ’n manlike verpleër my in om weer die beskermende drag by my te kry wat ek vroeër moes aantrek. “Dankie Moruthi! Gaan in vrede!”, is die laaste woorde wat ek uit die NNISE hoor.
Dit is met ’n warboel van gedagtes en emosies wat ek, op my eie, in die breë gang afstap. Alles wat ek ervaar het vandat ek uit die ingangsportaal na die NNISE gegaan het, tot ek weer terug is in die ingangsportaal, is totaal oorweldigend. Ek is nie een wat met woorde sukkel nie, maar om hierdie ervaring onder woorde te bring, is ’n uitdaging. Om erkenning te gee aan die diep hartseer, die trane en die snikke waarvan ek getuie was, en saam met die ouers beleef het, is iets wat nie maklik in taal uitgedruk kan word nie.
My gedagtes spring na die dankbaarheid wat ek van die verpleegpersoneel ervaar het. Ook dit is oorrompelend. Iets wat my diep nederig stem. Die Covid maai onder ons, veral onder dokters en verpleegsters, hulle wat ons eerste linie van verdediging teen die pandemie is. Tog sou ek my nie kon indink watse impak die doop en die verkondiging van die Here se Woord in hierdie situasie op hulle sou hê nie – veral omdat ek salig onbewus was van die feit dat hulle eintlik tree vir tree die pad van die doop saam met my en die ouers gestap het.
Ek is nog nie lank terug by die huis nie, toe die foon lui. Heel aangedaan bedank Kobus Pretorius my vir die die doop van hulle kleinkind. FC het vir hulle die video gewys. Na ’n paar dae op moedverloor se vlakte, skep hulle nou weer moed. Ek verduidelik vir hom dat ék eintlik die een is wat moet dankie sê vir die geleentheid wat ek gekry het.
’n Paar dae later is dit Goeie Vrydag. As gevolg van die pandemie is daar nie ’n erediens in die kerkgebou nie. Ek en Akker, ons leier-ouderling, het vroeër in die week die preek opgeneem en op YouTube geplaas. Ons het pas die diens klaar gekyk, toe die telefoon lui. Dit is weer Kobus. Sy stem dik van die emosie. “Dominee, klein Carla is vroeër vandag, op hierdie Goeie Vrydag, oorlede”.
Wat ’n tragedie! Dit is een van daardie hartseer oomblikke wat jy sien aankom, maar tog nie heeltemal op voorbereid is nie.
Op Goeie Vrydag, laatmiddag, gaan besoek ek FC en Marina. Dit is ’n goeie geleentheid om te reflekteer op die gebeure by die hospitaal, die ervaring van onderbreekte ouerskap en die onberekenbare verlies van ’n kind, jou eie vlees en bloed. Hierdie keer kan ons in groter rustigheid – sonder die gepiep van monitors – uit die Bybel lees en bid. Hulle gebruik ook die geleentheid om met my reëlings te tref vir Carla se begrafnis.
FC bied aan om vir my die video te gee wat hy in die hospitaal van die doop geneem het. Ek wys dit hoflik van die hand, maar vra hulle toestemming om die verhaal daaroor te mag skryf.
In hierdie tyd van die grendelstaat is dit ’n uitdaging, meer as normaalweg, om al die reëlings te tref vir ‘n begrafnis. Om al die protokolle in ag te neem is nogal tydrowend en vermoeiend. Dit bring mee dat Carla eers tien dae ná haar dood begrawe kan word.
Die begrafnisdiens vind plaas om 11:00 op 20 April 2020. Ek is ’n rukkie voor die tyd daar. Wanneer ek daar kom, is Akker reeds besig om die skyfies vir die flitsbord gereed te kry. Ons is albei diep geraak deur die klein wit kissie wat op ’n tafeltjie voor die preekstoel, reg langs die doopvont, staan. Dit kan nie veel groter as twee skoenbokse wees nie. Op die kissie is ’n foto van klein Carla – dieselfde foto wat op die begrafnisblaadjie aangebring is. Heel gepas is dit ’n foto van haar met haar dooprokkie aan. ’n Foto wat my weer terugneem na die dag in die hospitaal. ’n Dag van trane en troos.
Die gegewens op die begrafnisblaadjie is min:
“In liefdevolle herinnering aan Carla Pretorius. Gebore: 29 Maart 2020. Oorlede: 10 April 2020”.
Daar word genoem dat die twee oupas as draers optree. Die blaadjie word afgerond deur ’n aanhaling wat sê:
“You were here for a moment, but left a lifetime of love”.
By die begrafnisdiens is ons maar ’n handjie vol. Agt om presies te wees. Behalwe vir my en Akker is FC en Marina daar, asook twee oumas en oupas. Soos versoek deur FC en Marina lees ons Psalm 46. ‘n Psalm wat ook Martin Luther se Psalm genoem word. Hy was gedurig in lewensgevaar. Ironies genoeg is hy ook ingeperk in ’n tyd wat ’n plaag Europa getref het. Hy het egter altyd vasgeklou aan die woorde van ons teksvers, naamlik: “God is vir ons ‘n toevlug en ‘n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood”. Op grond daarvan het hy sy bekende lied “Ein Feste Burg ist unser Gott” geskryf. Hy het ook dikwels in erge beproewing, om homself aan God se liefde en trou te herinner: “Ek is gedoop!”
Voor my sien ek stukkende mense. Dit is nie lank nie, of Marina se gesig is weer nat van die trane, wat sy met ’n lappie afvee. In my gedagtes maal dit dat ons met pyn in die wêreld kom en weer met pyn daaruit gaan – ons eie pyn en ander s’n. Ek is op daardie oomblik weer diep onder die indruk van my gebrekkige wysheid as mens. Ek besef opnuut dat ek nie die antwoorde op die al die vrae in die lewe het nie.
Aan die hand van die Psalm dink ons daaroor na dat God vir ons ‘n toevlug, ‘n veilige plek is waarheen ons kan gaan wanneer smart en hartseer dreig om ons te oorweldig. Ek is oortuig dat dit die boodskap is wat die Here aan hierdie familie wil gee wat ’n kind verloor het, wat maar vir ’n oomblik aan hulle geskenk is. Carla wat in ’n kort tydjie vir hulle onmisbaar geword het. Ons dink na oor ’n onbekende gelowige se woorde dat God ons oë met trane was, totdat ons die onsigbare land kan sien waar daar geen trane meer sal wees nie.
Ek waarsku dat dit moontlik is dat mens in ‘n donker tyd soos hierdie deur ‘n geweldige geloofskrisis kan gaan. Jy kan op ‘n punt kom waar dit voel asof God afwesig is, so asof Hy jou nie wil help in jou krisis nie. Asof Hy apaties staan en toekyk hoe jy swaarkry. “Onthou”, druk ek hulle dit op die hart, “Hy was nog altyd bereid om te help in nood. Moenie twyfel aan God se ingesteldheid om te help nie”.
Aan die einde van die diens sing ons “Genade onbeskryflik groot”. “’n Gepaste punt om te plaas agter hierdie kort lewetjie”, dink ek by myself. Met die laaste note wat wegsterf, kom die klein groepie vorentoe na die kissie wat langs die doopvont staan. Hulle maak ’n kringetjie terwyl hulle mekaar vashou.
Onnadenkend sit Marina die lappie, waarmee sy haar trane afgevee het, in die doopbak. Dit tref my onmiddelik. Ek weet nie wat om daarvan te maak nie, maar die ooreenkoms is te treffend dat dit toevallig kan wees: Haar trane het in die hospitaal met die water in die doopbak gemeng en hier by die kissie van haar kind is haar trane weer in die doopbak. Weer eens kombineer trane en troos in die doopbak.
Ek klim van die preekstoel af om die familie ’n paar oomblikke van privaatheid te gee daar by die klein wit kissie. Ek gaan staan daar by Akker. Ons is albei sprakeloos. Ons hoef nie iets te sê nie. Die verhaal wat voor ons afspeel doen al die praatwerk wat nodig is. Dit breek ons harte om te sien hoe die twee oupas saam die oorskot van hulle eerste kleinkind uit die kerk dra, op pad na die lykswa.
Die volgende dag skryf ek in my dagboek:
21 April 2020
Begrafnisse was nog altyd vir my moeilik. In hierdie tyd van inperking is dit vir my nóg moeiliker. Daar is nou so baie reëls ter wille van ons gesondheid. ‘n Begrafnis is deesdae maar ‘n koue, kliniese oefening. Daar is nie eers ‘n vertroostende handdruk of ‘n simpatieke drukkie nie. Begrafnisgangers dra boonop maskers en sit twee meter van mekaar af.
Ek het gister ‘n babatjie begrawe. Sy was maar 12 dae oud toe sy oorlede is. Dit het my aan die hart geruk toe ek in die kerk instap en die klein wit kissie voor die preekstoel sien staan. Na die diens het haar twee oupas haar kissie uitgedra.
Soos so dikwels in my lewe is ek getroos deur Jesaja 46:3: “julle vir wie Ek gedra het van julle geboorte af …” Die babatjie het nog geen prestasies bereik nie. Bykans al wat op haar CV staan is dat sy gebore is. En in God se ekonomie is dit genoeg. Sy is gebore en God dra haar – tot nou toe.
Psalm 139:13,14 dwing my weg van die gedagte daar haar lewe nutteloos kon wees, want voor haar geboorte het sy al in ‘n verhouding met die Here gestaan. “U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. Ek wil U loof, want U het my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep.”
Dit is bitter ironies, maar daar is min dinge wat my in hierdie grendeltyd so getroos het soos die gebeure rondom die babatjie se begrafnis. Die God van genade wat nie van ons ‘n prestasie verwag nie; die God wat nie ‘n lys daar stel waaraan ons moet voldoen om Sy kinders te wees nie; wat ons aanmekaargeweef het in die skoot van ons moeders; Hy stap in genade met ons die pad in hierdie tyd van afsondering. Ja, selfs dié wat niks anders as ‘n geboorte gehad het nie, tel ook onder Sy begenadigdes.
Iemand het gesê:
“A tear is love in solution”.
Ek dink dit is goed gestel: Trane is liefde in ‘n vloeibare vorm. En met liefde bedoel ek ook God se liefde. Miskien is daar ook nie ‘n meer gepaste plek vir liefde, trane en troos om bymekaar te kom, as by die doopbak nie.
[1] Hierdie is ‘n ware verhaal. Die name van sommige persone en plekke is verander om betrokkenes se privaatheid te beskerm – Dr Enrico Casaleggio, leraar van NG Gemeente Fichardtpark, Bloemfontein.