Deur dr Martin Laubscher | Erediens Netwerk
Van die al die feeste op die Christelike kalender mag Hemelvaart dalk aan die agterspeen suig, en dalk is dit nie so sleg om met so ‘n erkenning te begin nie. Hemelvaart op daardie melkweg – agterspeen as agtste speen – is dalk net die plek waarmee ons die betekenis van hierdie fees vir ons lewens verder kan ontsluit. En net om seker te maak en dit duidelik te stel: Die bedoeling is allermins om Hemelvaart as agterste (lees: ‘n minderwaardige) speen te posisioneer, maar as dit ons kan help om te besef dat ons nie van Hom gespeen is nie en ook nie strewe na ‘n gespeende bestaan nie, dan hoekom nie?
Hemelvaart openbaar tog hoe Christus en ons nóg afskeid neem van mekaar, nóg afstand doen op die werklikheid voorhande waarop ons wag, nóg onttrek aan die versoenende werklikheid wat Hy vir ons bewerk het. Trouens, die punt is om die negatiewe ook positief te stel: Sy teenwoordigheid in ons lewens, ons verbondenheid aan die lewe van die Drie-enige God, die posisionering van ons liggaamlikheid en blik op ons konkrete aardse werklikheid, is hiermee eintlik na die volgende vlak geneem. Hemelvaart wil ons nie speen nie, of ten minste nie op so ‘n manier dat dit ons oorlaat aan ‘n (ver)vreemde gevoel van onafhanklikheid-en-vryheid, of dat ons nou hiermee sal onttrek en ontvlug van ‘n “nuwe” werklikheid voorhande, of dat religieuse aktivisme ons enigste voorland is nie. Nee, die voeding (bedoeling en bestemming) van Hemelvaart is tog allermins so ‘n verwronge, afsydige blik op die werklikheid. Dit suig (en so kan daar nie aan gesuig word nie)! Waaraan ons wel wil suig, en mee gevoed wil word, is om suigelinge van hierdie God te bly, en sodoende groter wasdom te bereik in ons heerlike afhanklikheid van Hom.
Dit is dalk hoe ons ons “nou” ten beste kan verstaan. Ons hede is allermins geskei en ontneem van ‘n bepaalde verlede en toekoms. Hemelvaart lui die teenswoordige tyd vir ons in en tipeer dit as deurleefde en vervulde tyd. Ons hede word ten diepste verstaan van waar Hy nou sit (en vir ons intree en regeer) aan die regterhand van die Vader, van waar Hy ook sal kom om te oordeel. Hemelvaart is die skarnier waarmee ons lewens geraam en gefokus kan bly. Ons lewens maak slegs sin deur dit te sien tussen hierdie (eerste en tweede) koms (adventus) van Hom.
Dalk is die agterspeen ook die agtste speen, daardie getal wat dui op die verbinding tussen hemel en aarde, die inbreek van die ewigheid in die tyd. Die eerste dag van die week, die dag van Sy opstanding – én Hemelvaart – is ook die inlei van ‘n oop hemel waarby daar vir ons ‘n voet in die deur verkry is waarop ons kan staan.
Kom ons suig hieraan: “Verdruktes kyk op na Hom en hulle straal; hulle gesigte hoef nie rooi van skaamte te wees nie” (Ps. 34:6).