Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Splintergroepe van Islam: Die Baha’i

Baie mense het nog nie eens van die Baha’i-geloof gehoor nie en sal wonder of dit die moeite werd is om hierdie ruimte daaraan af te staan. Hoewel dit nie een van die grootste godsdienste is nie, is dit die godsdiens wat naas die Christendom die meeste oor die wêreld versprei is.

Die relevansie van die Baha’i-geloof vir hierdie reeks is dat dit sy ontstaan in Islam gehad het. Volgelinge van hierdie groepering sien hulself egter nie as ’n Islamietiese sekte nie. Hulle wortels lê in Persië, oftewel die hedendaagse Iran, toe ’n jong Moslem-handelaar, Mirza Ali Mohammad (1819–1850), begin preek het dat die “Dag van die Here” op hande was. Hy het homself as die Báb (die Hek) verklaar en gesê dat hy, soos Johannes die Doper, die aankondiger van ’n nuwe weg is. Hy is stelselmatig uit die Islam verdryf en is in 1850 voor ’n vuurpeloton tereggestel.[1]

Hy en sy opvolgers het ’n hele aantal boeke en briewe geskryf, onder andere The Most Holy Book, wat wette vir ’n nuwe wêreldorde insluit. Die Baha’i’s sê dat, anders as die Evangelies, hierdie boeke eerstehandse geskrifte deur God se boodskapper is, eerder as tweedehands.

Baha’i’s glo dat God vir elke era ’n boodskapper na die mensdom stuur. Elkeen bou voort op die boodskap van die vorige boodskappers. Hulle het geen priesters in hulle geloof nie en ook nie ’n vasgestelde liturgie vir aanbidding nie.

Baha’i’s glo dat wanneer die menslike liggaam sterf, die siel bevry word van bande met die fisiese liggaam en die omliggende fisiese wêreld en sy voortgang deur die geestelike wêreld begin. Toetrede tot die volgende lewe het die potensiaal om groot vreugde te bring. Bahá’u’llah, een van hulle eerste leiers, het die dood vergelyk met die proses van geboorte. Die Baha’i se siening is dat die lewe ‘n soort werkswinkel is waar ‘n mens daardie eienskappe kan ontwikkel en vervolmaak wat in die volgende lewe nodig sal wees. Die hemel kan volgens hulle gesien word as ‘n toestand van nabyheid aan God. Die hel is ‘n toestand van afstand weg van God af.[2]

’n Gesonde lewenswyse is vir hulle baie belangrik. Alkohol en dwelmmiddels is verbode en hulle word ontmoedig om te rook. Hulle word aangemoedig om vegetariërs te wees, hoewel die meeste van hulle nie vegetariërs is nie. Die huwelik en ’n gesonde gesinslewe is vir hulle die hoeksteen van ’n gesonde samelewing.

Hulle groot aantrekkingskrag is hulle universele aanslag. Hulle glo dat alle godsdienste inherent een is en dat alle mense in werklikheid dieselfde God aanbid. Baha’i’s glo dat daar net een God is, die Skepper van die heelal, wat hulle Baha’u’llah, noem. Hoewel God in verskillende tale – of dit nou Yahweh, Allah, Brahma of God – deur verskillende name benoem kan word, verwys hierdie name, volgens hulle, almal na dieselfde wese.

Hulle glo in die eenheid van die mensdom (brotherhood of man) en dat daar op geen manier teen enige persoon gediskrimineer mag word nie. Hulle propageer ‘n nie-rassige samelewing waar daar geen vooroordele mag wees wat geslag, seksuele oriëntasie of geloof betref nie.

Lambden[3] maak die verhelderende (dog aanvegbare) stelling: “… it has been said that Judaism brought knowledge of God’s law; Christianity brought grace, salvation, and a relationship with God, Islam brought submission to God’s will, while the Baha’I Faith brings unity of all peoples under God.

Die akkommoderende uitgangspunte van die Baha’i-geloof lok baie mense. Dit is immers in wese mensgerig. Dit gaan uit sy pad om die mens tevrede te stel in alle opsigte. Jy kan selfs jou eie god kies, of jou eie god wees. Die Bybel is egter baie duidelik dat verlossing nét in Jesus Christus moontlik is.

[1] Barrett, David V. 2001. The New Believers. Sterling Publishing Co: New York

[2] The Baha’I’s: A profile of the Baha’I Faith and its worldwide community

[3] Lambden, S. 2002. Some Aspects of Isrá’íliyyát and the Emergence of the Bábí-Bahá’í Interpretation of the Bible