Sinodale Konferensie – ‘n geleentheid om deel te neem aan die vorming van die Agenda vir die Vrystaat Sinodesitting.
Die komende Sinodale Konferensie wil aan predikante, lidmate en gemeentelede die geleentheid skep om saam na te dink en te praat oor sake wat tans in die brandpunt is. Die brandpunte is geïdentifiseer na aanleiding van terugvoer wat ons van gemeentes ontvang het. Die volgende brandpunte is deur die proses geïdentifiseer:
- Pastorale versorging van predikante – baie kerkrade het aangedui dat hulle bekommerd oor hulle leraars is en wil graag hê dat daar ‘n geleentheid geskep kan word waar daar aandag geskenk word aan die welstand van die leraars in hulle diens. Daar was die afgelope 18 maande baie druk op predikante – hulle moes ‘n nuwe bedieningsmodel bedink, hulle moes nuut dink oor pastoraat in die gemeente en wanneer lidmate siek word en in hospitale beland en dit nie moontlik is om hierdie mense te besoek nie. Hulle moes Covid-begrafnisse hanteer en lidmate begelei deur ‘n rouproses waar niks normaal gedoen kon word nie. Vanweë die inperkingsmaatreëls het gemeentes se finansies onder druk gekom en word dit al hoe moeiliker om predikante se salarisse te diens. Dit bring spanning in die pastorie en kommer oor die toekoms.
- Skrifbeskouing en etiek – Hoe lees en leef ons dit wat ons glo? Al die kwessies waaroor mense in die kerk van mekaar verskil, begin by een punt – hoe die Bybel gelees en geïnterpreteer word. Dit is geen geheim dat daar in die NG Kerk verskillende maniere bestaan om die Skrif te lees en te interpreteer. Die Skrif informeer ons etiek en hoe ons oor kwessies dink soos selfdegeslagverhoudings, aborsie, ens. Op hierdie stadium is ons Skrifverstaan in oog van die storm. Dit is dus nodig dat ons met mekaar sal praat oor hierdie saak en weë moet vind om mekaar te hoor en saam met mekaar te reis.
- Belydenis, identiteit en kerkverband – Hoe leef ons saam met mekaar? Daar gaan al meer stemme op dat ons uit die kerkverband met die Algemene Sinode moet tree. Die Kairos-netwerk staan die gedagte van ‘n eie sinode voor en gemeentes wat doleer word dan in hierdie sinode ingebind en vanuit hierdie sinode word nuwe ringe gevorm binne die NG Kerk. Dit is dus van kardinale belang dat ons saam moet praat oor hoe ons belydenis, identiteit en kerkverband moet verstaan. Wat staan lidmate te doen wat wil doleer, maar die kerkraad wil nie? Wat staan lidmate te doen wat hulle binne ‘n gemeente bevind waar die kerkraad gedoleer het, maar hulle kan hulle nie vereenselwig met die kerkraad se besluit? Hierdie is maar net ‘n paar vrae wat bedink en deurgepraat moet word, daar is ‘n legio ander vrae rondom hierdie saak ook. Daarom is dit nodig dat ons met mekaar oor hierdie saak te praat, want ten diepste kom ons gereformeerde identiteit en belydenis op die tafel in hierdie gesprek.
- ‘n Pastorale gesprek – Hoe gaan dit met die gemeentes se hoop? Die Here roep ons om God se kerk te wees te midde van alles wat besig om te verander. Die vraag hier op die tafel is hoe leef ons roeping in ‘n post-Covid-tyd. In baie dorpe is die kerk die laaste instansie wat nog funksioneer en die gemeente en gemeenskap bymekaar hou. Daar moet saam nagedink word oor roeping van die kerk binne hierdie uitdagende konteks. Meer nog, gemeentes raak al hoe kleiner en sukkel om die pos van ‘n predikant instand te hou, hoe gaan die bediening in hierdie kleiner wordende gemeentes in die toekoms lyk?
Na afloop van die konferensie word almal wat teenwoordig was uitgenooi om deel te neem aan gespreksgroepe. Hierdie gespreksgroepe word dan getaak om ‘n verslag op te stel met voorstelle vir die komende Vrystaat Sinode. Hierdie werkswyse bring mee dat van die lidmaat, deur na kerkraadslede, deur na predikante die geleentheid kry om by te dra tot ‘n verslag wat na die Sinode gaan. Die temas wat bo genoem word, sal as basis van hierdie groepe dien. Indien daar tydens die konferensie nog verdere temas geïdentifiseer word, sal taakspanne ook daarvoor geskep word. Dit is die eerste keer in die geskiedenis van die Vrystaat Sinode dat daar so ‘n oop uitnodiging aan lidmate, kerkraadslede en predikante gerig word om deel te neem aan die skryf van verslae en voorstelle met die oog op die Vrystaat Sinode. Maak asseblief ruim gebruik van hierdie geleentheid.