Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

“Sewe laaste bedes vir ons”

“Die jaar word ryp…”

het NP van Wyk Louw oor die herfs gedig.

Maart se einde kom aan. Vandag sluit die skole. Die eerste kwartaal van 2023 het oor ons getrek, uitdagend, veeleisend, ent-ent stormagtig. Op ‘n Woensdag iewers tussen-in het ons Lydenstyd ingegaan, gedagtig aan Jesus van Nasaret op sy Via Dolorosa. Sewe weke van tot inkeer kom, stilraak, selfondersoek, gebed, vas, wag.

In die aanbidding en verkondiging in hierdie seisoen van die kerkjaar, het daar deur eeue heen in Christelike Kerke sewe kort frases bymekaargekom: “Die Sewe Kruiswoorde van Jesus.” In die vier Evangelies lê dié laaste woorde van Jesus op Golgota nie byeen of in volgorde nie. Die getal sewe moet waarskynlik ook simbolies verstaan word as “die volle getal”. In ewewig. Soos die arms van die groot kandelaar in die ou tempel eens. Dit mag wees dat Jesus méér woorde in sy laaste ure geuiter het, ons weet nie. Nie een van die vier Evangelies teken ook ál sewe kort frases op nie; trouens, slegs die vierde een kom in meer as een van die Evangelies voor (Matteus en Markus). Die eerste drie kort sinnetjies is deur die loop van die Vrydagoggend tussen nege- en twaalfuur op Golgota gehoor, en het hoofsaaklik op mense rondom die kruis betrekking gehad; die laaste vier daardie middag ná die duisternis, toe Jesus teen drie-uur gesterf het; vier woorde waarin Hy die ontsettende diepte van sy leed en lyding uitgeroep het…

Die eerste woord was alreeds ongekend uit die mond van gekruisigdes gewoonlik tussen die hamerslae op daardie Plek van Teregstelling; nie ‘n vloekwoord, geskel of verwyt nie, maar ‘n gebed: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie” (Lukas 23:34). ‘n Voorbeeld vir ons in ons eie tye van aanvegting of lyding, ja, maar ons moet dit éérstens hoor as ‘n gebed vir óns. In daardie “hulle” sou nie net die soldate, offisier in bevel, goewerneur Pontius Pilatus, die Joodse Raad en ‘n hardhorende of siende-blind Israel ingesluit wees nie… maar ook ék! Ek wat dikwels nie “weet” nie en bly “doen”. Soos wat die tweede woord aan die moordenaar sterwend aan die kruis langsaan, gerig was – “Ek sê vir jou: Vandag sal jy saam met My in die Paradys wees” (Lukas 23:43) – ook bevryding en versekering aan álmal bied wat ooit deur die eeue die skietgebed sou bid “Jesus, o dink aan My…” Die derde woord weer sou nie net ‘n geskokte moeder en die ontredderde geliefde dissipel vertroos en aan mekaar verbind nie, maar stuur diegene wat in Jesus sou glo anderkant daardie Vrydag en Sondag, na mekaar toe, na ‘n uiteengeskeurde wêreld: “Vrou, kyk jou seun… Seun, kyk jou moeder…” (Johannes 19:26-27). Ons ontdek óns is ingesluit in daardie kruisgebede!

Van die vierde woord af die Vrydagmiddag, was die verskrikking van Sý dood vir omstanders duidelik; sy skreiende roep ten hemele. Dié bykans onverstaanbare preweling uit die ou gebedeboek van Israel (Psalm 22:2), uit die hart van iedereen wat ooit met God sou worstel: “Eli, Eli, lemá sabagtáni!” (Matteus 27:46). ‘n Vraagteken in die stilte tussen ‘n donker hemel en ‘n onherbergsame aarde en die onvoorstelbaarheid van helse smart. “Sodat ons nooit deur God verlaat sou word nie”, het die ou Nagmaalsformulier daarby gaan skryf. Die vyfde woord – “Ek is dors” (Johannes 19:28) – so sprekend van sy menslike verganklikheid, van koorsagtige vlees en ‘n droë mond en stollende bloed; die lyftaal wanneer Een die laaste slukke uit ‘n lydensbeker drink en sterf. Wie van ons sou dáárdie Beker kon drink? Hý het dit aanvaar, volgehou, die Missio Dei deurgedra en op die drumpel van die doderyk uitgeroep: “Dit is volbring!” (Johannes 19:30) – die sesde woord. Dit is klaar; die geskiedenis van ‘n gebroke mensdom voltrek, die ou bedeling van oordeel en offers verby, alles nou opgeneem in die genadewerk van God Self. Geen plus. Geen ekstra. Geen menslike nodigheid of godsdienstige “moet” ooit weer by te sit. Net: Oorgawe. Soos om aan die slaap te raak, só is sterf. Vandaar die ou aandgebed uit Psalm 31:6, as laaste uiting: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor!” (Lukas 23:46). Die gebedjie aan moedersknie geleer, die woorde aan sy Vader gerig. Aan God is Hyself en alles en almal wat aan Hóm toevertrou was, oorgegee; ook óns en ons geliefdes en ons node in die hande gelê waaruit ons die lewe ontvang het en na Wie toe ons verseker sal terugkeer (Prediker 12). Soos wat die eerste kruisgebed begin het, so die laaste ook: “Vader…”

En toe die stilte.

Mag ons almal in die oorblywende twee weke tot met Paasnaweek hier in gemeentes en gemeenskappe in die Vrystaat, genoeg stilte vind om “die Sewe Kruiswoorde” van Jesus te herlees en te hoor as gebede vóór ons en mét ons. Die woord van vergifnis (Lukas 23:34), van verlossing (Lukas 23:43), van verbintenis en versorging (Johannes 19:26-27). Die woord van verlatenheid (Matteus 27:46, Markus 15:34), van verganklikheid (Johannes 19:28), van voltooiing (Johannes 19:30) en van vereniging met die Vader (Lukas 23:46). Lees en bid dit saam op Goeie Vrydag. Wag daarby in die oopte van Stille Saterdag. Vier dit dankbaar op Paassondag: Jesus het vir óns gebid.

Mag dan daarby die slot van NP van Wyk Louw se gedig ook beantwoord word:

“O Heer, laat hierdie dae heilig word:

laat alles val wat pronk en sieraad was

of enkel jeug, en vér was van die pyn;

laat ryp word, Heer, laat U wind waai, laat stort

my waan, tot al die hoogheid eindelik vas

en nakend uit my teerder jeug verskyn.”

Jesus het vir ons gebid.