Deur dr Leon Oosthuizen, Aktuarius van die Moderamen, NG Kerk Vrystaat
Ek kampeer tans saam met ’n groep in ’n wildreservaat. In ’n tentjie, plat op die grond. Idillies, die njalas en ander wildsbokke wei sommer so tussen die tente. Dit kan nie beter nie.
En dan vertel die een kamp-buurman, wat ’n paar dae vroeër gekom het, van die hiëna wat saans in die vullisdromme kom soek na iets te ete.
Die wát! Hiëna, sommer hier in die kampterrein!
En die ander bure loop saans met hul ultraviolet ligte en soek skerpioene. Blykbaar is hier hordes van hulle op die grond en in die bome hier tussen ons.
Skielik sien ek nie meer die mooi natuur, die bokke hier rondom my raak nie – al wat ek sien is goed wat my kan skade aandoen. Ek besef ook met ’n skok dat die hoop mis hier langs my tentjie aan ’n olifant behoort.
Moes ek nie maar eerder ’n chalet bespreek het nie? Maar dis so baie geld. Net daar oorval ’n onvergenoegdheid my. Hoekom het ek nie ook ’n groter inkomste soos die ander mense wat kan bekostig om in die huise te bly nie? In ’n oogwink word my bewondering vir God se skepping, my dankbaarheid om so tussen al die diere te kan kampeer en my vreugde om vir ’n paar dae te kan ontspan, vervang deur ’n stuk ontevredenheid.
Is dit nie maar hoe die mens is nie? Ons vra en ons ontvang, maar skaars het ons ontvang, of ons is al weer ontevrede. Die ander ou s’n is mooier of groter as myne.
Dit laat my so dink aan Judas 1:16 – “Hierdie mense kla gedurig en is altyd ontevrede met hulle lot.”
Ek dink ontevredenheid kom wanneer ek fokus op dít wat ek nie het nie. Kom ons begin dus eerder fokus op dít wat ons hét, eerder as op dit wat ons nie het nie, want dan word ons elke dag opnuut bewus van hoe wonderlik God vir ons sorg … en hoe baie ons het.
| Foto’s is verskaf deur dr Leon OosthuizeFoto’s is verskaf deur dr Leon Oosthuize

