“The lectionary says, ‘repent and prepare’, but the rhythms of many congregations say, ‘children’s Christmas program’. The calendar says, ‘fast and pray’, but Sunday schools schedule Christmas parties with cake and cookies. Advent says, ‘not yet, not yet’ but church-goers clamor to sing their favorite Christmas carols.” (Ruth n.d.: aanlyn).
Met hierdie woorde van Lester Ruth in ’n skrywe genaamd Why not “Move” Advent to November in gedagte, wil ek graag met Advent om die draai nadink oor die wyse waarop kinders kan bydra tot ’n liturgiese verdieping in die erediens. Hoe kan kinders help om ons aanbidding te verdiep, ook in Advent?
Wanneer ons praat oor die liturgies verdiepende rol wat kinders in die erediens kan speel, veral binne die NG Kerk, is dit nodig om ook verwysing te maak na die wyse waarop kinders tans bydra tot die liturgiese belewenis van ’n erediens. Die bediening van kinders in die NG Kerk is uiteenlopend en neem verskillende vorms aan, ook wat eredienste betref. Dit wil lyk of aanbidding saam met kinders dikwels verstaan word tussen die twee uiterstes of dan “ideale van aanbidding”: intergenerasioneel en kinderdienste.
In Deconstructing Ideals of Worship with Children (2019) verduidelik Lydia van Leersum-Bekebrede et al. egter dat hierdie verstaan van die twee “ideale van aanbidding” wat dikwels ook ons verstaan van aanbidding saam met kinders in die NG Kerk rig, nie as ’n genoegsame beskrywing dien nie. Van Leersum-Bekebrede et al. wys op die normatiwiteit wat nagespoor kan word in beide intergenerasionele aanbidding en teikengroep-aanbidding. ’n Gevoel van inklusiwiteit, asook eksklusiwiteit, kan in beide kategorieë geïdentifiseer word. Van Leersum-Bekebrede et al. wys op die normatiwiteit wat dikwels bedek word deur so ’n verstaan van aanbidding saam met kinders (wat slegs tussen die twee uiterstes van intergenerasionele aanbidding en teikengroep-aanbidding beweeg). Van Leersum-Bekebrede et al. verwys onder andere na ‘n mate van normatiwiteit wat ook te sien is in die wyse waarop konsepte soos liturgie, aanbidding, spiritualiteit en geloofsvorming by kinders verstaan word. As gevolg van hierdie normatiwiteit wat in aanbidding saam met kinders nagespoor kan word, is nie een van die twee “aanbiddingsideale” gewens vir elke situasie, gemeente en kind nie. Inteendeel, die idealisering van een soort aanbidding saam met kinders bó ‘n ander, versuim om die kompleksiteit van die aanbiddingspraktyke saam met kinders te erken. Die diversiteit wat teenwoordig is in ons aanbidding met kinders kan nie genoegsaam verstaan en beskryf word deur slegs verwysings na intergenerationele en teikengroep-aanbidding nie.
Wanneer hier oor kinders se teenwoordigheid in die erediens nagedink word, word daar nie aan kinders se teenwoordigheid gedink in terme van ‘n groep wat vermaak of besig gehou moet word nie. Wanneer hier oor kinders se teenwoordigheid in die erediens nagedink word, is dit met die verstaan dat kinders se plek in die verbondsgesin gerespekteer en ontwikkel moet word. Die wyse waarop kinders ’n liturgies verdiepende rol in die erediens speel, hang ook saam met die wyse waarop kinders se teenwoordigheid in die erediens verstaan word.
In sy werk Liturgiese verdieping van die erediens op grond van kinders se deelname (2002) wys De Klerk op ’n paar aspekte wat ons wil help om oor hierdie liturgiese verdieping na te dink. Kinders is gewoonlik met verstand, emosies, wil en liggaam in alles betrokke, ook in die erediens. ‘n Gemeente se geheue en sensitiwiteit teenoor die nieverbale word opgeskerp deur kinders se deelname aan die erediens. Deur saam met kinders te aanbid, word die hele gemeente op ’n ontdekkingsreis geneem waar aanbidding en bewondering van God ’n uitvloeisel is. Kinders se deelname aan die erediens aksentueer verskeie erediensbeginsels, onder andere: God inisieer die ontmoeting; die erediens besit ’n dinamiese aard; asook dat opregtheid by deelnemers noodsaaklik is. Kinders en volwassenes beeld ook die volle lewensiklus aan mekaar uit waarmee die erediens verband hou.
Dit wil voorkom of kinders by tye beter is as volwassenes in die uitvoer van die liturgie. Kinders help ons om die nieverbale en nieliniêre elemente van die erediens te onthou ten einde toe te tree tot voller en diepgaande aanbidding, ook in ’n tyd van Advent.