“My legitimasie het dit moontlik gemaak om nie net my roeping te begin uitleef nie, maar om ook gemeentes te kon begin dien met die gawes waarmee God my toegerus het.” So vertel dr Elrika van den Berg wat, danksy sinodale finansiële ondersteuning via die Ring van Suidoos-Bloemfontein, aan die einde van 2022 gelegitimeer kon word.
Ds Jacques Else wat ook, danksy hierdie ondersteuning, ’n bedieningsgeleentheid kon kry, vertel: “Dit was vir my ‘n wonderlike ervaring toe my droom bewaarheid is met my legitimasie en daaropvolgende bevestiging as leraar by die NG Kerk Estoire. Ek is so dankbaar vir die deur wat ons Vader oopgemaak het.”
Die NG Kerk Vrystaat het in die 2022/23-boekjaar ‘n bedrag van R30 000 beskikbaar gestel aan elkeen van die 15 Vrystaatse ringe om gesamentlike ringsprojekte te ondersteun. Die versoek was dat diens dan in samewerking met ‘n sinodale bediening gelewer moes word.
“Wat die Ring van Suidoos-Bloemfontein betref, het ons ingeskakel by Bedieningsbegeleiding as ’n sinodale bediening,” vertel ds Marthiens Heymans, skriba van dié ring.
Vertel ons meer van julle projek
Heymans vertel: “Die Ring van Suidoos-Bloemfontein het R10 000 gebruik om dr Elrika van den Berg te help om haar diverse opleidingsbaan met die oog op bedieningsbevoegdheid te voltooi. Sy is aan die einde van 2022 gelegitimeer.
Van den Berg vertel: “Vandat ek vyf jaar oud was, wou ek predikant word en het dit as klein dogtertjie aan my ma vertel. Daar was by my geen behoefte, roeping of begeerte vir ’n ander beroep nie; ek was baie seker hiervan.
“Ek het gestudeer en gespesialiseer, getrou, verhuis, kinders gekry en my lewe aan my gesin toegewy. Intussen het ek myself verder toegerus deur ekstra kursusse en seminare by te woon in Pretoria, Johannesburg en selfs Magaliesburg.
“Dit was eers met my terugkeer na Bloemfontein dat ek die geleentheid aangegryp het om die diverse opleidingsbaan te doen. Dit het vir my nuwe lig laat skyn op my gawes en passies, naamlik Woordverkondiging en die toerusting van gelowiges en gemeentes.”
Heymans vertel ook hoe hierdie sinodale bedrag nog iemand anders in hul ring kon help: “Nog ’n bedrag van R10 000 is gebruik om die NG Kerk Estoire-gemeente te help om ’n bedieningsgeleentheid vir ds Jacques Else, wat in 2021 die diverse opleidingsbaan voltooi het en aan die einde van 2021 gelegitimeer is, te skep. Op hierdie manier kry hy dus nou meer preekgeleenthede.”
Else vertel: “My intense roeping om die evangelie te verkondig, het reeds in my laerskooljare ontkiem deur my liefde vir God as my Vader.
“Na skool het ek egter by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aangesluit en was vir die afgelope 35 jaar deel van die Intelligensie-gemeenskap. ‘n Pad van genade het my ná vele omswerwinge gelei om uiteindelik die bediening te betree.
“Na die verwerwing van my BTh (2017) en MTh (2020) in Teologie aan die Universiteit van die Vrystaat het ek my gemeentejaar onder mentorskap van ds Charles James, predikant by die NG Kerk Pellissier, en ds Robbie du Toit, verantwoordelik vir Woordbediening by die NG Kerk Estoire, gedoen.
“My fokus is God Almagtig se genade en liefde; om suiwer die Woord en dienooreenkomstige Skrifgetroue prediking of Woordbediening, praktiese teologie, pastoraat en jeugbediening met passie en liefde uit te leef. Soli Deo Gloria.”
Voordele van dié projek
Heymans verduidelik: “Een van die grootste voordele van hierdie projek is dat dit voornemende predikante in staat stel om die bediening te betree en hulle sodoende ten opsigte van hul beroepservaring help verryk.
“Ringsprojekte het die koninkryk van God in die Ring van Suidoos-Bloemfontein help bevorder en nog predikers in staat gestel om deel van die bediening te word; ons sal hierdie sinodale ringsprojekondersteuning dus sterk aanbeveel.”
Van die R30 000 is R20 000 gebruik, en die oorblywende R10 000 sal geoormerk word vir besteding in die 2023/24-boekjaar.
Vir meer inligting kan ds Marthiens Heymans by heymarthiens@gmail.com geskakel word.