Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Ons wyk, wat hierdie artikel betref, af van die gesprek oor Dawa – die Moslems se gestruktureerde sendingaksie om die wêreld vir Islam te wen. Die rede daarvoor is dat Ramadan nou dikwels in die nuus is, aangesien dit hierdie jaar (2023) gestrek het van 22 Maart – 22 April.

Ramadan is die negende maand van die Islamkalender en word deur hulle as die heiligste maand beskou. Die rede daarvoor is dat hulle glo dat dit in hierdie maand is dat die engel Gabriël die Koran aan Mohammed gedikteer het. Ramadan is verpligtend gemaak vir Moslems in die jaar 622 nC. Die Koran vereis dit ook in Hoofstuk 2:185, waar daar staan: “Ramadan is die maand waarin die Koran gestuur is as ‘n gids vir die mensdom. Dit is ook duidelik vir leiding en oordeel tussen reg en verkeerd. Daarom moet elkeen van julle wat by sy huis is gedurende daardie maand die tyd spandeer om te vas, maar as enigeen siek is of op reis is, moet die tyd vir vas later ingehaal word. Allah wil jou nie deur moeilike omstandighede laat gaan nie. Hy wil dat jy die voorgeskrewe tydperk van vas voltooi en dat jy hom eer omdat hy jou gelei het en jy moet dankbaar wees”.

Ramadan is verpligtend vir Moslems ouer as die ouderdom van tien. Mense wat nie hoef te vas nie, sluit in kranksinniges, vroue wat swanger is, borsvoed of menstrueer, of dié wat op reis is. As deel van hierdie maand van geestelike verdieping, vas Moslems wêreldwyd gedurende die dag (hulle gebruik geen kos of water nie) as ‘n vorm van aanbidding om hulle nader aan Allah te bring. Gesinne en vriende kom bymekaar rondom tafels vol kos om hul vas saam te breek. Dit gebeur ná sononder tydens iftar (aandete tydens Ramadan) of voor dagbreek tydens suhour (die ete voor sonsopkoms tydens Ramadan).

Gedurende Ramadan probeer die meeste Moslems negatiewe dade, of hul persoonlike swakhede, vermy, terwyl hulle eerder positiewe dade beoefen, selfbeheersing aan die dag lê en deernis betoon teenoor dié wat minder bevoorregd is as hulle self. Hulle poog om hul verhouding met Allah en hul gemeenskap op verskeie maniere te verbeter: Deur die moskee vir iftar by te woon, ekstra tyd te spandeer om die Koran te lees, aan liefdadigheidswerk deel te neem of om saam te kom vir lang nagte van gebed.

Die presiese begin- en eindtye van die maand Ramadan is gebaseer op die waarneming van die eerste sekelmaan op die laaste nag van die agtste maand (Sha’ban). Daar word spesifiek gesê dat Ramadan begin by die eerste waarneming van die sekelmaan oor Mekka, Saoedi-Arabië. Aan die einde van Ramadan vind ‘n fees, Eid al-Fitr, plaas waarmee hulle die verbreking van die vas vier. Geskenke word uitgeruil en vriende en families kom bymekaar vir feesmaaltye.

116 | Maatskaplike NOODLYN