Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Opofferende gehoorsaamheid

“Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry ‘n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit.”  Matteus 5:13-20 –

In die tyd van die kerklike jaar, staan ons vir ʼn tydperk stil by Epifanie.

Wat Epifanie van belang maak in ons kerklike jaar, is dat daar veral kans gegee word om te dink. Dink aan God wat homself in menslike vorm aan ons kom bekendmaak het, sodat ons Hom al hoe meer en beter kan leer ken.

God het deur Jesus Christus versoening tussen mense en Hom kom bewerkstellig.

Jesus kom na ons mense toe, nie om die wet onder ons te kom onklaar maak nie, maar om dit tot sy volle betekenis te kom bring. Om die Here ons God lief te hê, met ons hele hart en met ons hele siel en met ons hele verstand en met al ons krag. En dan die tweede wat hiermee gelykstaan, is om ons naaste lief te hê soos onsself.

Vir ons as mense is dit sekerlik een van die grootste uitdagings waaraan ons kan dink. Om iemand lief te hê, wat ons dink en oortuig is dit nie verdien nie.

Verder herinner Epifanie my daaraan dat Jesus wil hê ons soos sout en lig vir die wêreld moet wees (Matteus 5:13-20).

Ek wil egter die eienskappe van sout en die verstaan daarvan probeer verdiep. Sout het baie gebruike, maar daar is vier van hulle waaraan ek graag aandag gee wanneer ek daaraan dink.

Sout gee in die eerste plek smaak – dus moet ons smaak gee aan die wêreld wat baie maal smaakloos voorkom.

Sout voorkom dat voedsel verrot. Dink net aan ʼn lekker stuk geelvet-biltong. Dus moet ons saam met die Here leef, dat ons deel kan hê daaraan dat ons mensdom nie verlore gaan as gevolg van afvalligheid en wegbeweeg van God af nie.

Sout steriliseer en maak skoon. Daar word van sout en soutoplossing gebruik gemaak om wonde skoon te maak. Deur die teenwoordigheid van Christus in ons lewens kan ons ook genesing bring in ʼn ‘siek’ wêreld.

Laastens en die heel belangrikste, offer sout homself op, om te kan doen waarvoor dit geskep is. Ons moet onsself opoffer en prysgee, sodat ons kan doen, dit waarvoor Christus ons geskep het.

Ons word geroep om sout en om lig te wees. Mag ons dit aangryp en uitleef, mag ons met blydskap onsself opoffer, sodat ons Vader daardeur verheerlik kan word, veral ook wanneer ons nadink oor Epifanie.

Foto: Ds Willie Griesel, leraar van NG Gemeente Hertzogville.