Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Oor wat “Word ʼn vriend van Kerkbode” ook nóg kan beteken …

Tydens ʼn onlangse drie dae-lange skrywerslypskool in Wellington, het ons opnuut weer ontdek watter vriend het ons (óók) in die kerk, en veral by name, in Kerkbode. Martin Laubscher vertel kortliks wat daar gebeur het, en waarom “Word ʼn vriend van Kerkbode” vir hom so ʼn verfrissende idee is.

Die Algemene Sinode van die NG Kerk se taakspan “navorsing” het onlangs gesorg dat ʼn groep predikante van regoor die land tydens die eerste week in Junie kon saamtrek by die Andrew Murray spiritualiteitsentrum in Wellington. Volgens prof Kobus Schoeman, sameroeper van die taakspan, is daar ʼn dringende behoefte om die data en bevindinge van hul navorsing meer toeganklik te maak vir ʼn breër leserspubliek van die kerk. Saam met Le Roux Schoeman, redakteur van Kerkbode, het die groep “skrywers” skouer aan die wiel gesit en van die taakspan se navorsingsverslae van die afgelope jaar in artikels vir Kerkbode probeer omskryf. 

Ná die eerste oggend se algemene oriëntasie oor die inhoud van die taakspan se navorsingsverslae, en ʼn ‘crash course’ in kerklike joernalistiek op ʼn digitale platform, het ons 24 uur gehad voor ons ons artikels by die redakteur moes indien. Op die maat van die sentrum se daaglikse ritme van drie aanbiddingsgeleenthede in die kapel, ruim stiltes daartussen om in kreatief te verkeer, en gesellige gemeenskap met mekaar tydens etenstye (met onder meer ook ʼn heerlike wynproe die aand), was daar behoorlik geskryf en geskaaf aan die artikels. Kort ná middagete die volgende dag het elkeen geleentheid gekry om hul werk aan die groot groep voor te lê vir terugvoer. Ons tweede opdrag direk hierna, om in die volgende 18 uur te gaan doen, was om ʼn kort profielskets van een van die kollegas in die groep te gaan doen. Die resultate van die skryfwerk is hopelik binnekort te lees op die Kerkbode-toep (app). 

Dit is eers met die laaste oggend se samevatting van die drie dae-lange saamtrek dat die frase “Word ʼn vriend van Kerkbode” waarlik na vore sou tree in die bespreking. Dié frase sou my help om waarlik sin te maak van wat nou eintlik met ons in daardie drie dae as groep gebeur het. “Word ʼn vriend van Kerkbode” het meteens vir my die gebeure van die paar dae daar in ʼn groter perspektief geplaas. Op die lang pad terug deur die Karoo huistoe, het ek besef die frase gaan om veel meer as net reklame vir Kerkbode. Buiten dat dit ʼn gepaste opsomming van ons tyd saam in Wellington beskryf, en inderdaad ʼn noodsaaklike veldtog is vir die finansiële oorlewing van een van die oudste Afrikaanse koerante in die land, lê woorde soos gemeenskap, netwerk, aanbidding, respek, vriendskap, navorsing, vrae, skryfwerk, kerklike gesprekke en nadenke, tog in die hartklop van wie ons is. 

Die pandemie het nie soseer ons wêreld kom verander as wat dit die bestaande tendens laat versnel het nie. Die dalende grafiek van geldelike intekenaars vir gedrukte Kerkbode is nie net met een jaar vorentoe geskuif nie (met die einde van ʼn sekere era nog nader as wat ons gedink het), maar so ook het die groei in digitalisering (en lesers van Kerkbode op die toep), én die behoefte aan deurleefde vriendskap, ook toegeneem. Hoe om ons vriendskap met mekaar in die kerk verder te voer, navorsing op toeganklike wyse verder te versprei en te verteer, en veral dan by name via platforms wat waardige instellings soos Kerkbode (en Vrypos) aan ons bied, mag dalk net van beduidende belang wees in die jare wat kom. 

Enigeen wie belangstel om meer inligting te bekom (en in te skakel) by van die sake hierbo, kan gerus let op die volgende inligting: 

Voorblad foto oorgeneem.