Die afgelope naweek was ek bevoorregd om ’n retreat op Volmoed by te woon wat gehandel het oor tyd. Absoluut wonderlik om so in die tyd oor tyd te kon nadink. Vrydagaand sit ons ten tye van beurtkrag en mymer oor “the dark night of the soul”. Prof Julie Claassen vertel onder meer, na gelang van die kommentaar oor Jona waaraan sy tans werk, wat dit beteken om in “the belly of the whale” te wees. Saterdagoggend lei prof Klippies Kritzinger die gesprek oor dagbreek en die aanbreek van ’n nuwe dag. Daarna vertel Wim Dreyer, Rooms-Katolieke priester op Stellenbosch, ons meer van die liturgiese jaar en kalender. Prof Henry Mbaya reflekteer oor Afrika-filosofie se verstaan van tyd wat ons tot middagete neem. Ná middagete is Lisel Joubert, Keegan Delport en Robert Vosloo aan die woord om ons te help fokus op (én te veg teen) acedia, oftewel “the noonday devil”. Wat doen ons wanneer ontnugtering en verveling die oorhand kry? Sonde se wese skuil nie net in wat ons doen nie, maar ook in wat ons nalaat om te doen. Naas ons hoogmoed en valsheid behoort ons ook te reken met ons traagheid (Barth). Kortom, ons het ’n heerlike tyd terwyl ons nadink en nuuskierig uitvra en wonder oor die onderskeie tye se (vormende) teenwoordigheid in ons lewens.
Ek dink beslis ons benodig meermale sulke “time-out” oomblikke waarin ons nadink – nie net oor soseer waar ons verkeer nie, maar ook veral in terme van, soos Jamie Smith dit in sy nuwe boek How to inhabit time stel, “wanneer ons verkeer”. Dit klink grammatikaal vreemd, en tog is dit ‘n uiters belangrike en legitieme vraag om oor na te dink. Anders gestel, ons hoor die vraag nie so dikwels nie, maar dalk het dit voorwaar tyd geword om hieroor na te dink. Nes ons soms onsself wil verantwoord ten opsigte van of ons “somewhere” of “nowhere” verkeer, net so word ons ook tydig en ontydig gekonfronteer met die vraag oor of ons “somewhen” of “nowhen” verkeer. Smith (2022:4) stel dit soos volg:
“Such temporal disorientation stems from the delusion of being ‘nowhen,’ unconditioned by time. Those who imagine they inhabit nowhen imagine themselves wholly governed by timeless principles, unchanging convictions, expressing an idealism that assumes they are wholly governed by eternal ideas untainted by history. They are oblivious to the deposits of history in their own unconsciousness.”
Terug by die naweek op Volmoed dink ek veral terug aan prof Klippies se bydrae wat my veral gehelp het om weer te ontdek oor hoe ons as Christene fundamenteel anders dink en omgaan met tyd. ‘n Belangrike refrein gedurende sy refleksie was hierdie fundamentele onderskeid tussen hoe ons die tyd sou kon lees en aandui. Vir sommige is dit vyf minute voor middernag, bedoelende die tyd is min; en belangrik nog, verwag die ergste. Wie die tyd só sien en aandui, ís en máák angstig, want die doem-en-doom-profesieë moet uit. Daarteenoor is daar ook ander profete wie hoopvol (op Volmoed!) wag op die breek van ‘n nuwe dag. Vir hulle is dit 12 minute voor 5 in die oggend! Hul kyk nie meer wes nie, maar oos, soos ten tye van ons doop, en wag op ‘n nuwe dag waar die son van geregtigheid ons bestraal.
Ons is in die laaste dae van die jaar. Hou in gedagte ons jaar eindig met Christus die Koning, en daarna begin Advent waartydens ons wag op die seisoen van Lig wat ook die begin van ander tye en kalenders inlei en belig. Dit is ons tyd … ons wanneer in die nou.