Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Ontmoet Missie Japan se Van der Watt’s

Dis veral met Nuwejaar dat ’n mens baie bewus word van waar die nuwe dag rooi begin breek in die Verre Ooste; daar waar Japan een van die eerste lande is wat klappers begin skiet. Dan raak mens baie warm om die hart as jy onthou dat ons ook dáár ’n NG Kerk-geloofsfamilie het wat oor baie jare strek.

Een van ons sendelingspare wat al sedert 2008 daar betrokke is, is Stéphan en Carina van der Watt en hul vier kinders, Annlie (14), Cornelius (12), Lodewyk (10 in November) en Stephan (8 in November) wat tans in Kobe woon. 

Stéphan is as die jongste van vier seuns in Humansdorp gebore en getoë waar sy pa steeds deeltyds boer en sy ma vir baie lank matrone van die plaaslike hospitaal was. Sy ouers het ’n groot invloed op die vorming van sy geloofslewe gehad. Die NG Gemeente Humansdorp-Oos se destydse predikant, ds Jan Coetzee en die jeugwerker, Mariëtte Dreyer, het ook rigtinggewende ondersteuning in sy worsteling met en uiteindelike besluit om teologie te gaan studeer, gebied. 

Sy vrou, Carina, is in Port Elizabeth (nou Gqeberha) tydens haar sendelingouers, Tobie en Annlie de Wet, se Japan-deputasie in Suid-Afrika in 1977 gebore.  Toe sy vyf was, moes haar ouers egter weens sanksies, ook teen die NG Kerk, vanaf Japan terugkeer. (Hulle is eers 18 jaar later weer terug.) Carina voltooi haar skoolloopbaan aan die Hoërskool Andrew Rabie in Port Elizabeth en word in hierdie vormingsjare as kind sterk deur haar ouers se geloofslewe beïnvloed. Haar pa se integriteit, nederigheid en pro-aktiwiteit en haar ma se vasbyt te midde van uitdagende omstandighede het Carina veral geïnspireer in haar eie geloofsreis.  

Stéphan studeer aan die Universiteit van Stellenbosch waar hy sy doktorale proefskrif, Images of men and masculinities within cultural contexts: A pastoral assessment, in 2007 met prof Daniël Louw as studieleier behaal. Stéphan se studiejare op Stellenbosch en sy werk daarna by BUVTON (nou Communitas) en die Vennootskap van Gestuurde Gemeentes het hom deeglik toegerus vir sy roeping binne die NG Kerk en later die breër NG Kerk-familie.

Carina studeer ook aan die Universieit van Stellenbosch en behaal ’n meestersgraad in Ekonomie. Haar tesis handel oor sosiale kapitaal waar sy die problematiek van ongelyke inkomste en die gevolglike ‘spiral of poverty’ wat moeilik verbreek word, ondersoek.

Nadat Stéphan en Carina in 2005 getroud is, is hy na Aliwal-Noord beroep waar hulle vir meer as drie jaar gedien het. In Desember 2006 gaan besoek die jonggetroude paartjie Carina se ouers in Japan en die jaar daarna kom die De Wets vir ’n lang deputasietyd na Suid-Afrika. Al hierdie bekendstellingswerk wat hulle in gemeentes landwyd gedoen het, het vir Stéphan sensitief begin maak vir die noodkreet van ons susterskerk, die Reformed Church of Japan (RCJ), op Shikoku-eiland. Hy begin ook die waarde van die vennootskap tussen kerke vir Missie Japan besef.

Alhoewel Carina grotendeels in SA grootgeword het, was Japan altyd deel van haar ouerhuis; haar ouers het altyd gehoop dat hulle weer sou teruggaan. Op ’n indirekte manier was die bediening in Japan dus altyd deel van Carina se grootwordjare en het dit later direk deel van haar lewe geword toe Stéphan die sendingroeping na Japan baie sterk (en onverwags!) ervaar het.  Alhoewel sy nooit kon droom dat sy eendag weer in Japan sou woon nie, was haar eie roepingsbesef na Japan ’n geleidelike en steeds groeiende besef van God se vorming en leiding deur al die jare. 

Gedurende 2008, in ’n onseker tyd oor of die Here hulle wél na Japan roep, het beide Stéphan en Carina baie gebid oor duidelikheid.  Die Here het veral in en deur hul stiltetye en verskeie Skrifgedeeltes, soos Jesaja 49:1-7, Japan telkens op hul pad gebring. Hierdie ervarings het uiteindelik aan hulle bevestig dat die Here hulle na Japan roep en in April 2009 vertrek hulle as sendelinge waar hulle nou al vir meer as 12 jaar werk.

Vir die eerste ses en ’n half jaar was hulle op die platteland in Tokushima as samewerkende sendelinge in die RCJ betrokke. In hierdie tyd het hulle geleer hoe om in die Japannese konteks te opereer en hoe gemeentes en die Christelike geloofsgemeenskap as deel van die 1% minderheid van Christene in Japan funksioneer. 

Die daaropvolgende ses jaar tot nou was Stéphan spesifiek betrokke by teologiese opleiding by die Kobe Reformed Theological Seminary – ’n uitdagende, maar verrykende steil pad waarop hy nog steeds baie leer. 

Carina is by kinderbediening betrokke en is die ondervoorsitter by hul gemeente se Vrouebediening. Sy is ook voltyds besig met die tuisonderrig van hul vier kinders – ‘n veeleisende taak. Terselfdertyd moet sy te enige tyd regstaan vir gaste – vanuit die buiteland en ook Japan – en by die kweekskool verskeie gasvryheidsverpligtinge nakom.

Van hul grootste uitdagings is die voortdurende verdieping van hul Japannese taalvermoë en die gepaardgaande stres van ’n kruis-kulturele lewe. “Isolasie en kulturele spanning is maar altyd deel van ons lewens in Japan,” vertel Carina. Hul kinders wat as ‘third culture kids’ in ’n drietalige tuisonderrig-opset hul identiteit moet ontwikkel, is ook ’n reuse uitdaging. “Dis moeilik om al die balle in die lug te hou”, verduidelik Carina. “Die werksetiek in Japan is baie hoog; mense neem min verlof en naweke is dus net so besig soos weeksdae.” 

Stéphan vertel: “Ons word dikwels geïnspireer deur die lewenswandel van Japannese Christene wat toegewyd streef na die oproep van Paulus in Efesiërs 4 se eerste verse: om beskeie, vriendelik, geduldig en verdraagsaam te wees én eenheid te handhaaf. By ons Japannese broers en susters leer ons: Minder is meer. Die RCJ leef baie offervaardig en met oop hande en harte.” 

Carina en Stéphan se droom vir die kerk in Japan is dat die brose en klein gemeentes in Japan as getroue getuies van God se liefdevolle trou van krag tot krag sal groei. En verál dat die volgende generasie van leiers die geloofsmoed sal hê om te bly vernuwe en om relevante en Skrifgetroue bedieninge te bly kweek. Hulle hoop dat die kerk in Japan ’n ruimte van hoop en bemoediging sal raak vir soveel Japannese wat intense isolasie en sosiale werksdruk ervaar. 

Stéphan is baie lief vir die natuur en sport. Hy is leergierig en bou graag netwerke en betekenisvolle verhoudinge. Carina is ook lief vir die natuur en lees graag, is leergierig en ’n vindingryke planmaker. Haar grootste plesier is om hul kinders te hoor lag en haar man te sien dans! 

Ons bid dat ons susterskerk in Japan bemoedig sal word deur die Van der Watt’s se verbintenis met ons kerk hier in Suid-Afrika, vanwaar hulle as sendelingspaar kosbare brugbouerswerk doen.

En mag ons volgende jaar met ander oë (en harte) die Nuwejaar ingaan as ons na die Verre Ooste kyk!

116 | Maatskaplike NOODLYN