Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Ons susterskerk in Malawi stig nuwe gemeente: Cape Town CCAP

Oorgeneem uit VrydagNuus Kaapkerk, 3 November 2023

Dis nie meer vir ons vreemd om Malawiërs hier in die Wes-Kaap raak te loop nie; ons ontmoet hulle in restaurante, by petrolstasies en selfs op universiteit as nagraadse teologiestudente. Op Sondag 29 Oktober was dit ’n aangrypende geleentheid toe ons susterskerk in Malawi, die CCAP Nkhoma Sinode die Cape Town CCAP-tak by Nomzamo in die Strand gestig het. Dr Hennie van Deventer, vorige prinsipaal van hul teologiese instituut, die JMTI op Nkhoma in Malawi, en sy vrou, Ingrid, was daar teenwoordig. Hy het gepreek en gedoop, terwyl ds EM Tembo, die moderator van die CCAP Nkhoma Sinode, die diens gelei het. Hennie vertel: “Dit was ‘n marathon-erediens van meer as vyf uur lank. Die nuutgestigte gemeente wat Cape Town CCAP genoem word, het agt takke (prayer houses) op plekke so ver as Hermanus, Houtbaai en Franschhoek. Die algemene sekretaris van die CCAP Nkhoma Sinode, ds Vasco Kachipapa, was hier vir die stigting, asook twee leraars en hul vroue van die CCAP Ring van Mvera. Drie predikante van Nkhoma wat as nagraadse studente aan die Universiteit van Stellenbosch studeer, was ook teenwoordig. Daar is kerkraadslede voorgestel (35 ouderlinge en 30 diakens), belydenis van geloof afgelê, kinders gedoop, Chigwirizano-vroue ingelyf en 20 kore wat wou sing. Daar is reeds vier gemeentes van die CCAP Nkhoma Sinode in Gauteng, naamlik in Johannesburg, Germiston, Tembisa en Mamelodi.”

 | verskaf: Houtbaai se koor met danspassies.

 | verskaf: Dr Hennie van Deventer preek tydens die stigting van die Cape Town CCAP.

 | verskaf: Sondagskoolkinders sê tekste op in Engels.