Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Ons roeping, my roeping

Die NG Kerk Vrystaat se roeping word verwoord as: Lig in die duisternis: Hier vir God, mekaar en die wêreld. Die woorde is geformuleer na aanleiding van die eerste verse van Jesaja 60.

Die profeet se woorde is woorde van hoop. Die volk keer terug uit ballingskap, maar die stad is nog stukkend; die tempel is steeds geplunder, en tog is daar hoop. Die herstel is daar. God woon weer by sy volk – jou lig het gekom. Vir die profeet is die herstel reeds ʼn werklikheid. En juis daarom die opdrag: Laat jou lig skyn!  Die lig van Hom wat lig en redding gee, moet weerkaats word na die wêreld.

Die magtige teenwoordigheid van die Here bring lig vir sy volk, maar nie net vir hulle nie. God se bedoeling was van die begin af duidelik: Ek gee vir jou lig, sodat die konings en die nasies na jou getrek kan word. Reeds in God se eerste gesprek met Abram was Sy bedoeling al duidelik: In jou sal al die volke van die aarde geseën wees (Genesis 12:3).

Hoeveel te meer kan ons nie in die hoop lewe nie. Ons het immers God se Lig gesien – die Lig wat nie deur die duisternis uitgedoof kon word nie (Johannes 1:5). Daarom neem ons die opdrag om lig in die duisternis te wees, ernstig op. Ons voorgangers het die fakkel as simbool gekies om te wys hoe die lig die duisternis ingedra word. Sowat ʼn dekade gelede is die simbool gemoderniseer na ʼn bak met gekleurde vlamme: Die groen van die olyfboom vir groei, die son se oranje vir volharding, die vlam se geel wat lig en hoop gee, die water se blou soos God se genade, en die grysbruin van die stewige aarde se rotse.

By die laaste vergadering van die Moderamen het ds Christo Nel gevra of gemeentes nie meer aandag moet gee aan hierdie roeping nie. Is die roeping van die Vrystaatse kerk nie ook die roeping van elke gemeente nie? Daarom die uitnodiging om die embleem en roeping ʼn prominente plek te gee in die gemeente in 2023. Dalk op die kerk se kalender, of op die weeklikse afkondigings.

Laat ons in die komende jaar daarop fokus om ons lig só voor die mense te laat skyn, dat hulle ons goeie werke sal sien en ons Vader wat in die hemel is, verheerlik (Matt 5:16).