Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Ons onontbeerlike Ekologie Netwerk

Die kerk se getuieniskrag is in gedrang as ons nie meer daarin kan slaag om ’n boodskap van hoop, nuwe moontlikhede en verwagting by mense te kan laat nie.

Ds Waldemar Stumpfe

Ds Waldemar Stumpfe, sameroeper van die Ekologie Netwerk, is verbonde aan die NG Kerk Ficksburg. Ficksburg is aan die voet van die 1750-meter hoë Imperaniberg geleë en bekend vir oorvloedige kersieboorde. Dié dorp word ook as die poort na die Bergkoninkryk van Lesotho beskou.

Ons wou meer oor hierdie belangrike Ekologie Netwerk in ons sinodale streek weet en het by Waldemar gaan aanklop.

Waldemar, daar is wêreldwyd ’n al hoe dringender oproep op die mensdom om ons lewenstyl baie meer ekologies verantwoordbaar aan te pas. Wat sou jy as sameroeper van die Ekologie Netwerk van die Sinode Vrystaat as die belangikste aspekte van dié netwerk beskou?

“Eerstens moet jy besef dat die ekologie-uitdagings oorweldigend is,” sê Waldemar. “Mense voel magteloos en reageer óf met angs, óf ontkenning, óf apatie teenoor hierdie uitdagings. Dis nie net ek wat beleef hoe moeilik dit is om lidmate hierby betrokke te kry nie; ander sinodes ervaar dit ook. Lidmate en gemeentes koop nie maklik hierby in nie. Dis so jammer, want ekologie-bewusmakingsaksies behoort veral vanuit kerklike kringe met groot entoesiasme nagevolg te word.”

“Begrip vir die onontbeerlike rol en plek wat ons as mens binne die lewenskringloop van die natuur het, is so verwronge en deur verbruikersmentaliteit, vooruitgang en sukses gekontamineer, dat ons wonderlike planeet alreeds kniediep in die moeilikheid is.”

“Om sulke diepgewortelde identiteitskrisisse deur middel van lewensnoodsaaklike paradigmaskuiwe om te keer, is nie iets wat oornag gebeur nie. Sekere ekologiese krisisse verdien onmiddellike aandag – daar is nie meer eintlik tyd vir hierdie soort begrip- en insigveranderinge nie. Vir sommige krisisse het die tyd uitgeloop,” verduidelik Waldemar. “Vir mense wat dus wel betrokke raak, is die gevoel oor dié saak dikwels Too little, too late!

Alhoewel ’n mens soms oorweldig word deur die krisis en die gebrek aan betrokkenheid van gemeentelede by hierdie noodsaaklike netwerk, bly die Ekologie Netwerk tog sekerlik van groot belang vir die kerk en moet ’n mens maar vasbyt en betrokkenheid bly aanmoedig?

“Baie beslis!” antwoord Waldemar. “Juis om bogenoemde redes is dit van kardinale belang dat die Ekologie Netwerk op verskeie vlakke groepe moet aanmoedig, bemagtig of ondersteun om nuwe waardes ten opsigte van die ekologie te help kweek.”

“Inligting word byvoorbeeld tweeweekliks in Vrypos, die Sinode Vrystaat se e-nuusbrief,  geplaas, en hierdie inligting kan deur gemeentes of individue gebruik word.”

“Projekte wat te doen het met herwinning en die opruiming of herstel van die natuur bied kort en haalbare geleenthede vir mense om aan die ekologie aandag te gee. Gemeentes word om hierdie rede aangemoedig om by hul plaaslike gemeenskappe in te skakel en aan ekologie-projekte deel te neem en dit te ondersteun. Hulle kan ook self eie inisiatief neem en korttermyn-uitreike beplan en betrokke raak. Die Sentraal Ring het dit byvoorbeeld moontlik gemaak dat gemeentes en ringe blootgestel word aan selfonderhoudende groentetuinbeplanning.”

“Natuurlik los dit nie die krisisse oornag op nie, maar waar individue begin inkoop op selfonderhouding, herwinning en opbou, glo ek word klein bakens van hoop opgerig wat heel moontlik later hande kan vat en groter, spontane en blywende verandering kan bewerkstellig.”

Dis sekerlik makliker gesê as gedaan, né, Waldemar?

Hierop antwoord Waldemar as volg: “Ja. Ongelukkig word ons lidmate ook beïnvloed deur die tydsgees waarin ons leef en moet die kerk probeer inkoop op ’n mens wat sy wêreld in kompartemente verstaan. Die kerk se taak is veral in die verlede beskou as om in die eerste plek na die siel van die mens om te sien. Om nou oor die waarde van ekologie te praat, sal vir baie Christene vreemd klink; baie sal sukkel om die verband tussen hul Christenskap en hul Christelike plig ten opsigte van die stand van die planeet raak te sien. Sommige lidmate reageer selfs met agterdog teen die kerk as hulle die onderwerp hier aantref; hulle voel dat die kerk haar saak en taak versaak deur hieraan aandag te gee.

“Aan die ander kant het sommige lidmate al die kerk juis om hierdie rede verlaat. Hulle ervaar dat die kerk nie in staat is om regtig ’n verskil aan die uitdagings van die aarde se voortbestaan, versorging en volhoubaarheid ten opsigte van lewe te maak nie. Hulle is ook van mening dat die kerk ’n uitgediende sisteem is wat mense se verwronge waardes tot nou toe in stand gehou het.

“Die kerk se getuieniskrag is dus in gedrang as ons nie meer daarin kan slaag om ’n boodskap van hoop, nuwe moontlikhede en verwagting by mense te kan laat nie. Om net apaties te wag op beter dae, gaan nie die krisis van die oomblik oplos nie.”

So, hoe kan lidmate by jul Ekologie Netwerk betrokke raak?

“Persone wat regtig diep aangespreek voel oor die aangeleentheid kan by ons aanmeld en deel word van die Ekologie Netwerk-bediening op sinodale vlak,” antwoord Waldemar.

“Enige projek moet op mediaplatvorms soos Vrypos gekommunikeer word. Dit gee energie en moedig ander gemeentes en lidmate aan om soortgelyke projekte te loods.

“Die Ekologie Netwerk wil ook, waar moontlik, plaaslike inisiatiewe ondersteun en raad gee om met die realisering daarvan te help.”

Kontak ds Waldemar Stumpfe by 082 894 7457 of 0201wgs@gemal.com vir meer inligting.

Foto verskaf: Ds Waldemar Stumpfe, sameroeper van die Ekologie Netwerk.
116 | Maatskaplike NOODLYN