Die kerk van vandag lyk nie meer soos die kerk van jare gelede nie. Niemand hoef jou dit te vertel nie, maar laat ek jou maar in elk geval vertel hoe anders dit is.
Ek wil dit doen aan die hand van twee gevallestudies: Die ring van Welkom en die ring van Heilbron. Toe ons ʼn paar jaar gelede die ringe in die Vrystaat hersaamgestel het, het hierdie twee ringe nie verander nie – niemand bygekry, en niemand afgestaan nie. Dit maak dat die statistiek oor die afgelope aantal dekades betroubaar vergelyk kan word. Ek weet ons moenie die kerk meet in terme van geld, geboue en getalle nie, maar dit is tog ʼn nuttige hulpmiddel om tendense mee te identifiseer.
Sedert ek in 1989 in Welkom gekom het, hou ek rekord van die gemeentes se statistiek. Welkom is ʼn meer stedelike gemeenskap en het destyds tien gemeentes gehad, met 17 leraars. Al die gemeentes is binne die grense van die stad. Tans is daar net sewe gemeentes oor en elkeen het net een leraar waarvan een ʼn emeritus is en nog een in ʼn kontrakpos is.
Vyf-en-dertig jaar gelede was daar 8 311 belydende lidmate en 4 461 dooplidmate in Welkom. Amper 35% van die lidmate was kinders. Of anders gestel: Vir elke 100 volwassenes was daar destyds 53 kinders. Vandag is daar 2 322 belydende lidmate en 536 kinders. Vandag is minder as 19% kinders en vir elke 100 volwassenes is daar maar net 23 kinders.
Die ring van Heilbron is ʼn plattelandse ring wat die dorpe Heilbron, Reitz, Koppies, Petrus Steyn en Oranjeville insluit. Sowat tien jaar gelede het twee van die gemeentes in Reitz saamgesmelt. Die ring het tans vier voltydse leraars, drie leraars in kontrakposte, en een vakature.
In 1985 het die ring 5 043 belydende lidmate en 2 278 dooplidmate gehad. Die kinders was dus 31% van die gemeente. Vir elke 100 volwassenes was daar 45 kinders.
Die huidige situasie is dat daar net 2 199 volwassenes en 512 kinders oor is. Vir elke 100 volwassenes is daar nou net 23 kinders.
Die tendense in hierdie twee ringe is baie dieselfde. In beide ringe het die kinders verminder van in die dertig persent na slegs 18%. Die volwassenes was so in die hoog-60%. Nou is dit 81%.
Uit hierdie twee ringe is dit duidelik: Ons lidmate word minder, en ouer. En ons kinders is nie meer in die gemeente nie. Ons kan dit nie toeskryf bloot aan die ontvolking van die platteland nie – dieselfde gebeur ook in die stedelike opset in Welkom. Wat wel waar is, is dat die jongmense wat die ouers van die volgende geslag moet wees, weggetrek het. Hulle is oorsee of in die groot stede.
Die gemeentes lyk nie meer soos jare gelede nie. Hoe gaan die kerk hierby aanpas?