Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Ons gemeente wil herwin, maar hoe gemaak?

Nadat tien van die NG Kerk Vrystaat se sinodale kantoorpersoneel op Vrydag 23 September na die Waste Pickers Association by die noordelike stortingsterrein van Bloemfontein uitgereik het, is daar op verskeie mediaplatforms, soos dié van die NG Kerk Vrystaat en NETWERK24 daaroor berig.

Omdat daar waarskynlik gemeentes is wat nou ook graag herwinningsprojekte sal wil begin, het ons besluit om te gaan kers opsteek by Duart Hugo, ’n gemeentelid van die NG Gemeente Pellissier, Bloemfontein.  Hy het reeds hulp verleen aan sy gemeente oor die beplanning en oprigting van ’n herwinningstasie. Dit is op hul kerkterrein en is deur die week gedurende kantoorure en Sondagoggende oop.

Duart is ook betrokke by die herwinningsaksie van die Fichardtpark Biblioteek waar huishoudings tussen 09:00 en 11:00 hul herwinningsmateriaal elke tweede en laaste Saterdag van ’n maand soontoe kan bring. Die projek in Fichardtpark word deur die Fichardtpark Woongebied Assosiasie (FWA) bestuur.

Duart monitor ook die street pickers in Fichardtpark – dus is hy die ideale raadgewer oor hierdie omgewingsveranderende onderwerp!

 So, waarom is dit so dringend noodsaaklik dat ons by herwinning betrokke moet raak?

Duart verduidelik: “Stortingsterreine in Suid Afrika is so te sê almal vol en die tragedie is dat 80% van alle vullis wat op stortingsterreine beland, herwinbaar is. Die verdere ontstellende nuus is dat stortingsterreine kweekhuisgasse soos metaan produseer wat skadelik is vir die omgewing en ook aardverwarming verhaas.” (As jy moeilik aan hierdie inligting sluk, kan jy maar net na die gewilde Itchy Boots YouTube-kanaal gaan kyk en self sien hoe die gletsers in Kanada en Alaska teen ‘n verstommende spoed besig is om te krimp.)

“Die herwinning van afval is baie belangrik vir beide die omgewing en die mens,” verduidelik Duart verder. “Dit verminder ons behoefte aan rou materiaal sodat ons natuurlike hulpbronne meer volhoubaar bestuur kan word. Daar word ook baie energie gebruik om produkte uit rou materiaal te maak. Herwinning vereis baie minder energie en daarom help dit om die natuurlike hulpbronne meer effektief te bewaar. Ons moet die belangrikheid van herwinning besef; dit is AARDE-vriendelik en kan ons planeet ’n beter plek maak om op te woon. Boonop sal dit ook bydra tot ’n afname in rommelstrooiing.”

Dit doen veral ’n beroep op ons as Christene.

As ons as Christene dieper hieroor nadink, is dit, as navolgers van Christus, ons verantwoordelikheid om die aarde volhoubaar te bestuur. God se opdrag in Genesis 1:26 “… laat hulle heers …” beteken beslis nie om die aarde te vernietig nie. Inteendeel, dit bevestig ons verantwoordelikheid om ons omgewing volhoubaar te help bestuur.

Dit beteken dat ons as gemeentes ’n voorbeeld en voorlopers hiermee in ons gemeenskappe behoort te wees. Insameling van fondse om ons gemeentes “groen” te bestuur, is beslis ’n moontlikheid as daar genoeg entoesiasme hiervoor is.

 Dit klink alles baie opwindend, maar hoe pak ’n mens so ’n projek aan?

Duart verduidelik: “Begin deur eers net papier, glasbottels en -flesse, plastiek en blikkies te herwin. Sorteer die verskillende produkte volgens soort in verskillende gemerkte sakke – dit hou soort by soort. Plastiekbottels se proppe moet byvoorbeeld eers verwyder word, die bottel platgetrap en beide die prop en bottel in die herwinningsak geplaas word. 

“Ten opsigte van blik, kan julle dan eers net koeldrank-, bier- en ander aluminiumblikkies of -kannetjies herwin. Trap die blikkie plat met die opening aan die onderkant en plaas dit dan in jou blikkie-sak.

“Sodra jou sakke vol is, kan jy dit Sondae kerk toe bring en die verskillende produkte by jou kerk se herwinningstasie besorg. Daar sal dan verskillende houers vir elke soort produk, soos papier, glas, aluminium, ensovoorts wees.”

 Dis egter makliker gesê as gedaan.

“So ’n herwinningsprojek is baie bevredigend, maar ’n reuse-uitdaging,” vertel Duart. “Jy gaan waarskynlik aanvanklik sukkel om net eers die samewerking van jou lidmate te kry. Herwinnaars is ook nie almal ewe presies nie en sal dalk materiale of produkte meng en nie afsonderlik sorteer nie. Wees geduldig; dis ’n leerproses.

“Die bestuur van die herwinningstasie is ook ’n groot uitdaging, want dit moet altyd ordelik en netjies geskied. Onaanvaarbare produkte word soms in die herwinningsakke geplaas wat die herwinningsproses bemoeilik. Diensverskaffers hou ook soms nie by die skedule nie en veroorsaak dat die verskillende houers dikwels oorloop.

“Nog ’n stok in die wiel is die hoë brandstofpryse en diensverskaffers moet ver afstande aflê om die herwinningsmateriaal na die verwerkingsaanlegte te vervoer.

 Maak van die volgende seker voordat jy wegspring:

“Maak seker die gemeente koop in,” waarsku Duart. “Stel vas waar herwinnaars (Buy-back Centres) in die omgewing is en maak seker die herwinnaars is bereid om die herwinningstasie te diens. Maak ook seker hoe gereeld hulle dit sal doen.

“As die gemeente fondse wil genereer, gaan ’n ooreenkoms aan met die diensverskaffer. Onthou ook dat daar baie behoeftige lidmate is wat so ’n herwinningstasie kan bestuur. Op hierdie manier kan julle gemeente ’n bydrae lewer om iemand te help om ’n inkomste te kan genereer.”

Lees gerus meer oor waarheen om jou herwinningsmateriaal te neem hier: https://petco.co.za/find-a-recycling-drop-off-site