“Ons fokus op die nood van die mens in al sy vorme en probeer sodoende om hierdeur ’n menswaardige bestaan vir almal na te jaag.”
| Ds De la Harpe le Roux
Sedert 1 Maart vanjaar is ds De la Harpe le Roux as uitvoerende amptenaar by die sinodale bediening van die Diens van Barmhartigheid aangestel.
Ons het by De la Harpe gaan hoor hoe dit in die nuwe pos gaan en watter uitdagings, behoeftes en fokusse daar op die tafel van hiérdie onontbeerlike sinodale bediening lê.
Hy vertel: “Die Diens van Barmhartigheid is nog in ’n proses om gevestig te raak en daarom gee ons op die stadium baie aandag aan die ontwikkeling van ’n meer omvattende beskrywing van ons fokus en werksaamhede.
“Ons fokus op die nood van die mens in al sy vorme en probeer sodoende om hierdeur ’n menswaardige bestaan vir almal na te jaag. Hierin is daar ’n voortdurende soeke na vennote en die noodsaak om netwerke oor die hele spektrum te bou.
“Die Diens van Barmhartigheid se werksaamhede fokus hoofsaaklik op twee sake, naamlik noodleniging en geregtigheid.”
Dit klink na ’n mondvol. Watter dienste en ondersteuning val alles onder die noodlenigingsaspek?
“Noodleniging verwys na die verligting van onmiddellike nood, en kan verder onderskei word in onmiddellike nood, die herstel van nood en die versorging van nood.
“Wat onmiddellike nood betref, sluit dit basiese behoeftes soos die beskikbaarstelling van sopkombuise, kospakkies, klere en komberse, nagskuilings en so meer, in. In samewerking met die nie-regeringsorganisasie, Torings van Hoop, het verskeie gemeentes byvoorbeeld vanjaar deelgeneem aan die jaarlikse nasionale Winterhoop-inisiatief waar komberse, warm klere en kos ingesamel en uitgedeel is aan mense wat swaarkry. Behalwe die Tweetoring-gemeente in Bloemfontein, het NG Kerk gemeentes van Pellissier, Fichardtpark, Heuwelsig, Edenburg, Ladybrand, Ficksburg, Kroonstad, Viljoenskroon en Sasolburg-Fontein hierby ingeskakel.
“Ons staan ook mense by wat maatskaplike krisisse ondervind. Hier maak ons dan gebruik van ’n noodlyn en traumaberading. ’n Ooreenkoms is met Childline SA gesluit om van hulle 24 uur-noodlyn gebruik te maak waar gemeentes maatskaplike krisisse kan rapporteer as hulle nie geholpe kan raak met die bepaalde welsynsorganisasie wat hul area moet bedien nie. Ofskoon die ooreenkoms al net vanaf 1 Junie 2023 vir ’n proeftydperk van ses maande in werking is, is daar alreeds twee gemeentes op die platteland gehelp waar ernstige maatskaplike krisisse gerapporteer is.
“Ons staan ook gemeenskappe by wat met rampe te kampe het en ondersteun hulle met reaksieplanne en ons Hoopfonds. Die Diens van Barmhartigheid Vrystaat werk saam met Diaconia in Sinode Wes-Kaapland om nie net ’n strategiese netwerk van opgeleide vrywilligers en vennootskappe in die Vrystaat op te bou nie, maar om ook strategies met rolspelers van ander kerke op nasionale vlak ’n groter rampbestuursnetwerk op te bou wat die hele Suid-Afrika tot diens kan wees.
“Die Vrystaatse Landbou Unie, plaaslike Boere-verenigings en die nie-regeringsorganisasie Free State Umbrella Fire Prevention Association (FSUFPA) is van die rolspelers met wie die Diens van Barmhartigheid reeds saamwerk. Die baie onlangse verwoestende veldbrande in groot dele van die Vrystaat wys duidelik hoe Diens van Barmhartigheid met dié bepaalde rolspelers kan saamwerk tot voordeel van al die mense in die Vrystaat.
“Daar is ook ooreengekom om die indeling van FSUFPA te gebruik om met die oog op noodleniging tydens rampe, die daarstel van hubs in die provinsie met opgeleide en toegeruste vrywilligers op te rig. Van daar af sal die Diens van Barmhartigheid op toekomstige rampe in die Vrystaat (meer as veldbrande) op toepaslike maniere en ondersteunend van die relevante amptelike munisipale en provinsiale strukture, kan reageer.
“Sou daar op die oomblik êrens ’n krisis ontstaan, is daar onmiddellik sowat 50 verpakte noodkospakkies gereed en beskikbaar in die Kestell Saal in Bloemfontein om versprei te word. Dit is gedoen in vennootskap met Torings van Hoop. Sodra die verskillende kerklike rampbestuurstrukture in die provinsie gestalte kry, sal daar ook by dié punte noodkospakkies en ander noodsaaklikhede in gereedheid gehou word.
“Ons het ook die Hoopfonds. In samewerking met Diakonia in Sinode Wes-Kaapland, word ’n eenvoudige proses ontwikkel waar gemeentes en ringe sal kan aansoek doen om befondsing soos en waar hulle in hul groter gemeenskap ten tyde van ’n ramp gelei word om betrokke te raak.
“Waar daar ’n opsigtelike groter ramp plaasvind, soos met die baie onlangse verwoestende veldbrande in die Vrystaat, word daar nie net fondsinsamelings vir die bepaalde krisis georganiseer nie, maar word daar ook skenkings vanuit die bestaande fondse gedoen om die effekte van die ramp te verlig.
“Fondse wat op só ’n wyse vir ’n spesifieke ramp ingesamel word, word dan ook nét daarvoor gebruik. Dit wat nog beskikbaar is van verlede jaar se Jagersfontein Slikdamramp, is tot beskikking gemaak vir die NG Kerk Jagersfontein om gebruik te word om die nood in hul gemeenskap aan te spreek.
“Wat die herstel van nood betref, verskaf ons siekesorg soos hospitaalbediening, tuisbesoeke en vrywilligers wat mense geestelik kan bedien en versorg. Deur die vennootskap met ENGO sorg ons dat hospitaalbediening in Bloemfontein gedoen word soos deur gemeentes en leraars buite die stad benodig. Wat ander sentra in ons provinsie betref, word op die oomblik ondersoek ingestel na die ontwikkeling en opleiding van vrywilligers om leraars en gemeentes by te staan.
“Ons ondersoek ook die ontwikkeling van ’n gevangenis-bearbeiding regoor die Vrystaat wat gevangenisbesoeke sal kan doen en post-gevangenisprogramme aanbied. Aandag word gegee aan die opbou van netwerke met gevangenis-kapelane en nie-regeringsorganisasies wat nie net direk by gevangenes in die tronke betrokke is nie, maar wat ook post-gevangenisprogramme bedryf vir wanneer gevangenes vrygelaat word.
“Mense wat worstel met verslawing word ook bygestaan met behulp van rehabilitasiesentrums, buite-pasiëntebediening en die maatskaplike – sowel as geestelike versorging van diegene vasgevang in prostitusie. Maatskaplike dienste is ook deel van hierdie herstel-van-nood-aspek.
“Ten opsigte van die versorging van nood is daar vir die jeug jeugsorgsentrums, vir die bejaardes residensiële sentrums, dienssentrums en word spesialisbehuising ondersoek. Die meerderheid van die Jeug- en Bejaarde sorgsentrums in die Vrystaat het ooreenkomste met óf ENGO óf die Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) wat betrokke is by programme in die sentrums. Verblydend is dan juis die betrokkenheid van so baie gemeentes en ringe by die bestuur van hierdie sentrums. Een van die uitgangspunte van die Diens van Barmhartigheid is mos juis om gemeentes en ringe te dien. Daarom is die Diens van Barmhartigheid altyd bereid om advies te gee, wanneer gemeentes en ringe betrokke by dié sentrums daarvoor vra.
“Wat terminale sorg betref, is daar Hospice- en tuis-versorging tot ons lidmate se beskikking. Ons is ook besig om betrokke re raak by die sorg aan gestremdes deur middel van residensiële – en dienssentrums.”
Wat behels jul fokus op geregtigheid alles?
“Geregtigheid gaan om die nood in die groter samelewing en kan verder onderskei word in drie afdelings, naamlik omgewingsgeregtigheid, sosio-ekonomiese geregtigheid en gemeenskapsgeregtigheid. Op die stadium word baie energie spandeer aan die bou van netwerke en groter koördinering van bestaande aksies, met die oog daarop om gemeentes te ondersteun om meer sulke inisiatiewe te begin.
“Omgewingsgeregtigheid behels onder andere gemeenskapsinisiatiewe soos dorpskoonmaak- en ander “regruk”-aksies. Maar dit gaan ook oor herwinning (recycling and upcycling) van gebruikte items.
“Ten opsigte van sosio-ekonomiese geregtigheid is ek baie opgewonde om die moontlikhede te ondersoek van vaardigheidsontwikkelings-ontwikkelingsprogramme soos ABET, skool-, handvaardigheids-, lewensvaardigheids- en werkgereedheidsprogramme, asook werkskeppingsmodelle deur werk-soek- en besigheidsprogramme.
“Gemeenskapsgeregtigheid gaan oor die voortdurende soeke na vrede in gemeenskappe wat via mediasieversoening bewerkstellig kan word. Een van die Diens van Barmhartigheid se vennote om aan die nood in die groter samelewing aandag te gee, is die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK). Deur dié liggaam word kerklike verkiesingswaarnemers vir die plaaslike en nasionale verkiesings aan die Electoral Commission of South Africa (IEC) beskikbaar gestel.
Dit is natuurlik baie belangrik dat alle gemeentes moet kennis dra van hierdie belangrike barmhartigheidsondersteuning tot hulle beskikking. Hoe gaan jy te werk om dit aan hulle bekend te stel?
“Daar is die afgelope jaar baie aandag geskenk aan die besoek van ringe om die fokus en werksaamhede van die bediening bekend te stel. Tot dusver is daar al vyftien ringe besoek en in die proses ook voortgebou op verhoudinge met leiers in gemeentes. Op hierdie manier is baie behoeftes vir ondersteuning by gemeentes en leiers geïdentifiseer wat weldra opgevolg sal word.
“Baie dankie vir elke gemeente, leier en lidmaat wat op een of ander manier by aksies van barmhartigheid in die Vrystaat betrokke is.”
Kontak
Vir meer inligting kan ds De la Harpe le Roux gekontak word by dlh@ngkvs.co.za.
| verskaf
| verskaf: Ds De le Harpe le Roux