Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Onderweg na die Algemene Sinode … sal die wiele afkom?

Die Algemene Sinode se tema in Oktober vanjaar is “Gaan voor ons uit, Here”, en ek wonder hoe word dit gehoor. Wat ’n mens dink dit sê en hoe dit dalk ook gehoor kan word, mag soos dag en nag van mekaar verskil. Daar is myns insiens twee soorte uiteenlopende ervarings in Eksodus 32-34 waarin “die wiele besig is om af te kom”, en dit is vreemd dat beide op die tema van God se meegaande teenwoordigheid kan aanspraak maak.

Byvoorbeeld: Het ons in hierdie bede met ’n ontroerende versugting en gebroke hartsverlange te make, of veel eerder met ’n soort militaristiese opdrag en bevel om mee voorwaarts te marsjeer? Is dit ’n triomfantlike kreet wat ons selfversekerd luid, wyd en syd wil uitbasuin, of veel eerder ’n blik op ons voete van klei (weerkaatsend van ’n goue kalf en stukkende tablet) waarmee ons reis tot stilstand kom? Hoor ons dit as ’n ope aktuele vraag waarmee ons bevraagteken word, of veel eerder as ’n geslote antwoord waaroor ons beskik? Is dit ’n pleidooi vanuit ’n seer en gebroke hart (aan beide kante van die verhouding), of is dit eerder ’n slagspreuk waarmee ons reeds die notules en planne kan (voor)skryf? Spruit dit uit ’n worsteling van die gevalle en vasgevange ervaring van die werklikheid, of het ons eintlik so (bly) “aanbeweeg” dat ons heimlik reeds gearriveer het? Kortom, of dit nou eersgenoemde of laasgenoemde is, beide se wiele kom af op twee teenoorgestelde weë.

Die ervaring van die krisis met God en sy gepaardgaande dreigende, afgetrokke teenwoordigheid en beperkte leiding op ons pad is ’n rou werklikheid wat ons nie vir een oomblik durf onderskat nie. Om in die reine te kom met die verlede is gewigtig en bied geen waarborge nie, maar tog is dit die enigste weg waarop ons ’n hoopvolle toekoms kan ontvang. Teologie wat die krisis ruiterlik erken en openlik die teer seer saak met God tegemoet gaan, mag dalk net opnuut weer ontdek hoe die Here ons kom ontmoet en begelei daar waar ons vasval en vassit. Om voor te gee en aan te plak, ontneem ons van ’n intieme ontmoeting en avontuurlike reis met God.     

Die wiele kom voorwaar af daar waar ons tot stilstand kom in die ontmoeting met God, want dit is al hoe ons hiervandaan verder op weg kan gaan. Die eintlike krisis is nie om hierby stil te staan nie, maar veel eerder as ons nooit hier enigsins wil halt roep en behoorlik vertoef nie. Ons kyk die krisis behoorlik vlak indien ons nie insien watter soort stiltetyd daar vir ons skuil in die stille stilstand nie. Die wiele sal voorwaar afkom as ons net wil laat wiel en stoomroller. Triomfantlike teologie gee allerlei kosmetiese en aangeplakte bewyse van ‘n dinamiese herontwerpe wiel, sonder om noodwendig te sien hoe dit staan en spin en al dieper wegsink. Bling verteenwoordig nie die heerlikheid van God nie. Ons kan nie net beweeg en aanhoudend bly aanbeweeg, as ons nie ook in die stilte kan vertoef nie. Te veel haas, te min spoed! Don’t rush it.  

Moses se bede, besef ek al meer, is nie net gerig op die afloop, of selfs verloop van die vergadering nie, maar ook veral op die aanloop daartoe. Laat ons wiele tog afkom dat ons anders kan begin beweeg. 

116 | Maatskaplike NOODLYN