Deur ds Lunette Basson,sameroeper van die Ekologie Netwerk en leraar van NG Gemeente Theunissen-Wes
Die Here God het die mens geneem en hom in die tuin van Eden geplaas om dit te bewerk en op te pas. Genesis 2:15
Met die skepping van die eerste twee mense, het God ’n baie spesifieke opdrag aan hulle gegee. Die tuin van Eden moet opgepas word. Dit het die plante, riviere, wilde en mak diere ingesluit. Tog, as ons lees van die sondeval – hoe die mens uit die tuin van Eden moes gaan, is dit maklik om te vergeet dat die res van die Skepping ook die wêreld onder sonde moes ingaan. Die opdrag het wel nooit verander nie, die mens moet steeds oppas, tot vandag toe. So hoor ons duidelik in die volgende gedeelte, want, hier gaan God selfs verder deur te sê dat al die diere in die hand van die mens oorgegee word:
God het Noag en sy seuns geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, vermeerder en vul die aarde. Ontsag vir julle en vrees vir julle sal al die wilde diere van die aarde, al die voëls van die hemel, alles wat op die grond rondkruip, en al die visse van die see, vervul. In julle hande is hulle oorgegee. Genesis 9:1-2
Ja, die diereryk word in die hande van die mens oorgegee, maar wat beteken dit regtig vir ons vandag? Beteken dit om te regeer oor die diereryk soos ons dit goeddink? Die Hebreeuse woord hier gebruik vir “oorgee” het nog ’n dieper betekenis, naamlik “toevertrou”. Dus, as ons dit in ag neem, sê God eintlik Hy vertrou ons met die diereryk, net soos Hy voorheen genoem het in Genesis 2 – om elkeen op te pas.
Hierdie ou opdrag het nog nooit verander nie, maar die mensdom het dit al begin vergeet. Met soveel dieremishandeling en verwaarlosing net in ons land alleen, is dit hartseer hoe die mensdom hul roeping teenoor God en sy Skepping afskeep.
Daarom is dit ’n riem onder die hart as ’n gemeenskap kan saam staan om weer na hierdie ou roeping van God te luister. Dit is wat gebeur het in die klein gemeenskappie van Theunissen, toe die hele Septembermaand, wat vir Ekologie-maand staan, gebruik was om honde- en katkos in te samel vir die DBV in Virginia. Die projek het begin by NG Kerk Theunissen-Wes, maar vinnig het die gemeenskap ingespring en begin deelneem aan die projek. Lede van die gemeenskap het donasies geskenk, ander het honde- en katkos na die kerk toe gebring. Te danke aan die OK in Theunissen kon daar selfs nog meer kos aangekoop word teen ’n afslag prys. Op 1 Oktober 2026 was die skenking aan Virginia DBV besorg, waar dit begroet was met dankbare mense- en diereharte.
Die honde, katte, bokke en donkies wat daar bymekaar was, kan elkeen ’n eie storie van verlies vertel, van hoe die mensdom van God se opdrag vergeet het. Tog is daar ook verhale van hoop, van ’n gemeenskap soos hierdie, wat saam hande gevat het om hulle verantwoordelikheid teenoor God se Skepping na te kom. Mag wat daar in Theunissen gebeur het, die res van ons provinsie se kerke en gemeenskappe bemoedig om dit wat aan ons toevertrou is, te gaan oppas.

