Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Neels Jackson, Drie Dekades van Verandering. Die NG Kerk se pad van verruiming

Kaapstad: Lux Verbi, 2021

Daar is seker niemand wat oor die afgelope drie dekades meer NG Kerk-vergaderings bygewoon het as Neels Jackson nie. Vanaf 1990 was hy kerksake-verslaggewer van Beeld (en sy familie) koerante, en later vir ‘n aantal jare self redakteur van Kerkbode. En dit was nie net sinodes (Algemene- en Streeksinodes) nie, maar ook allerlei ander kerklike byeenkomste waar hy opgemerk kon word. En dan moes hy natuurlik ook gedurig onderhoude met kerkleiers voer om hom te help interpreteer. Afgesien daarvan dat hy in hierdie kerk grootgeword het (en nou nog ‘n aktiewe lidmaat in Pretoria is), het hy dus as ingeligte waarnemer ‘n unieke insig in die werkinge van die NG Kerk gekry.

In hierdie baie leesbare boek van 288 bladsye dek hy die ontwikkelinge in sy kerk vanaf 1990 tot 2020. As iemand wat self ook ‘n waarnemer van die kerk was oor hierdie tydperk, was dit vir my ‘n besonder interessante ervaring om te sien hoe ons belewenis met mekaar ooreengestem het. Hy het tot sy beskikking gehad die talle notules, maar ook sy eie notas en berigte wat sy herinneringe kon aanvul. Hierdie boek is ‘n geskiedenis, maar sonder die droë en uitputtende detail, dit is ‘n bevatlike verhaal. Behalwe die oorsig van die kerk se ontwikkeling op verskillende terreine bied hy ook tussen-in kostelike sketse van sommige rolspelers in die kerkleiding wat hy persoonlik leer ken het. Dit gee ekstra smaak aan die boek.

Belangrik om te verstaan, is dat Jackson positief is oor die veranderinge in die Kerk. Die boek se subtitel sê dit ook: “Die NG Kerk se pad van verruiming”. Hy sê dit telkens: Die NG Kerk is ‘n gesonder kerk in 2020 as wat hy (of sy?) in 1990 was, en dit in feitlik alle opsigte.

In ‘n eerste hoofstuk gee hy ‘n skets van die NG Kerk voor 1990. Dit is in baie opsigte ‘n mooi verhaal, maar met die oog op die “pad van verruiming” wat volg, wys hy veral ook op die historiese kulturele (volks-) en politieke (party-) verbintenisse wat die kerk eintlik geknel het. Dit kon eintlik nie anders as dat die volgende dekades se ingrypende veranderings ook die kerk in ‘n stroomversnelling sou laat kom nie.

In die volgende hoofstukke gee Jackson dan aandag aan die ontwikkelinge op ‘n stuk of tien terreine en beskryf telkens die moeisame debatte en besluite wat tot veranderde instellings gelei het: Die afskeid van apartheid, die vrou in die amp, oor ekumeniese verhoudings, kerk-eenheid in die familie, “die dienende kerk”, strukturele veranderings, ‘n nuwe spiritualiteit, teologiese ontwik­kelinge, die denke oor gays en die krimpende getalle. Op elkeen van die terreine bied hy ‘n boeiende oorsig, en toon aan dat die veranderinge maar almal verloop volgens dieselfde patroon: Aanvanklike weerstand, dan die moeisame gesprekke wat ‘n geleidelike beweging tot aanvaarding van nuwe sienings inlui en uiteindelik ‘n nuwe konsensus (terwyl daar altyd steeds ‘n groep ontevrede bly).

Jackson sluit sy boek af met die volgende paragrawe:

“Uiteindelik is dit die toets vir enige kerk: In watter mate is die kerk se mense Christus-volgelinge deur wie die wêreld iets van God se liefde kan beleef?… Aan die hand van hierdie maatstaf kom ek tot die gevolgtrekking dat die NG Kerk in 2020 baie beter daaraan toe is as in 1990. Daar is ‘n helderder verstaan van die evangelie met al die rykdom daarvan. Daar is ‘n groter begrip van wat dit beteken om Christus te volg. Dit is op grond daarvan dat ek dink die NG Kerk kan ‘n uitdagende toekoms op die spoor van Jesus Christus met vertroue tegemoet gaan”.