Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Natuurlike Verskeidenheid

Die afgelope paar weke is ek besig om te dink aangaande die Belydenis van Belhar. Ek is uiteraard bewus dat dit die einde van die jaar is en dat almal van ons dalk eerder iets sou wou hoor oor afsluiting, dankbaarheid vir 2022, of rus ná arbeid. Ongeag is Belhar op my gedagtes. En meer spesifiek, hierdie een gedeelte uit Belhar:

Daarom verwerp ons enige leer wat óf die natuurlike verskeidenheid óf die sondige geskeidenheid so verabsoluteer dat hierdie verabsolutering die sigbare en werksame eenheid van die kerk belemmer of verbreek of selfs lei tot ‘n aparte kerkformasie. [Artikel 2].

Die eerste opmerking oor hierdie gedeelte is die verwerping wat histories akkuraat en mees voor die hand liggend is: Rassisme word verwerp. Uiteraard is dit waar en daar is al baie hieroor geskryf.

Maar dit is nie wat vir my die mees interessantste oor hierdie verwerping is nie. Hierdie gedeelte verwerp ook “enige leer wat… die natuurlike verskeidenheid… verabsoluteer”. As ek dit nie verkeerd het nie, transendeer dit die historiese konteks van apartheid. Ek meen, daar is die moontlikheid, so ver ek dit kan sien, dat ander leerstellings of idees ook kan werk op ‘n verabsolutering van natuurlike verskeidenheid en terselfdertyd nie rassisme is nie. 

Laat ek dit verder stel: Natuurlike verskeidenheid is meestal groep identiteit-merkers, soos ras, ouderdom, kultuur, geslag en selfs klas. Al hierdie groeperings bestaan en daar is die menslike geneigdheid om te groepeer. Maar daar kom ‘n probleem wanneer dit absoluut gemaak word. Wanneer hierdie verskeidenhede verstaan word as ‘n volledige verteenwoordiging van jou eie of iemand anders se identiteit. Dink daaraan, is jy net ‘n vrou of ‘n man, net wit of swart, net ‘n ouer of ‘n kind? Is jy net hoe jy lyk? En is jy presies dieselfde as alle ander mense wat presies soos jy lyk? En beteken dit dat jy verantwoordelik is vir die goeie en slegte wat die wêreld betree deur die werk van mense wat soos jy lyk?

Jy het, net soos ek, 2022 ervaar, maar my ervaring en jou ervaring kon hoegenaamd nie dieselfde gewees het nie. So, ek en jy verskil. Maar dalk het albei van ons hartseer en vreugde ervaar. Tog, hierdie hartseer en vreugde het nie noodwendig dieselfde uitwerking op ons gehad nie, wie weet. Maar dit gaan selfs nog verder, want jy is nie eens gelyk aan die persoon wie jy in die verlede was nie, of in die toekoms sal wees nie. Jy is tot ‘n mate anders as alle ander mense omdat jy ander ervarings het en ander uitkomstes ervaar deur soortgelyke ervaringe. Maar jy is ook anders as jouself, jy het gegroei en verander, geleer en was traag om te leer, jy het sterker geword en meer kwesbaar. En jy sal weer iemand anders wees in die toekoms.

Daar is hierdie idee in Teologie dat ons verstaan van God, ons verstaan van onsself beïnvloed. Dit is ook waar dat ons verstaan van onsself, ons verstaan van God beïnvloed. In prediking gebeur dit soms dat ‘n beeld van God voorgehou word, ‘n vaste beeld, ‘n monument, ‘n sekerheid van wie God is. “Hierdie is wie God is, en altyd was, en altyd sal wees.” Dit is nie korrek nie. Dit werk op dieselfde beginsel van verabsolutering, van identiteit wat nie kan verander nie, van ‘n beeld uit klip gekap. Eerder, ‘n meer verantwoordelike omgang met die identiteit van God word gevind in Eksodus 3:14, “Ek is wat Ek is.” Dalk verwoord hierdie vreemde sinskonstruksie juis die improviserende aard van God se identiteit. Skepper, ja, maar soms verwoes God. God vertroos, ja, maar soms is daar ook oordeel. God is Koning, ja, maar dan ook die Dienaar.

Enige idee wat identiteit verabsoluteer is dus problematies en behoort verwerp te word. Dalk is ‘n goeie manier om daaroor te dink om twee identiteite tegelykertyd in gedagte te hou. ‘n Praktiese identiteit wat dit moontlik maak vir ons om met ons medemens saam te werk en ‘n improviserende identiteit wat ons praktiese identiteit uitbrei en transendeer. Ek is ‘n man, ‘n Suid-Afrikaner en ‘n teoloog. Dit is my praktiese identiteit in die samelewing wat dit moontlik maak om vriende te maak, wat my verantwoordelikheid gee in verband met die welsyn van my gemeenskap en wat verteenwoordig waar my gawes gesetel is. Maar ek is ook nie dieselfde man of Suid-Afrikaner of teoloog wat ek in die verlede was of in die toekoms sal wees nie. Ek sal aanpas en verander, tot nuwe insigte kom en uit my foute leer. En ek sal ook geroep word tot nuwe avonture en gelei word op paaie waarvan ek nie eens bewus was nie. En jy ook.

116 | Maatskaplike NOODLYN