Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

“Nag ná nag, dag ná dag…”

Oor hoop en herstel, veerkragtigheid en vrede 

Dit is moeilik om vanoggend – ná gisteraand se teleurstellende staatsrede, nóg ontwrigting deur opportunistiese politici en die afkondiging van ‘n nasionale ramptoestand weens kragvoorsiening in Suid-Afrika – helder terug te dink aan Bethlehem, die laaste week in Januarie en die inspirasie wat ons as Moderamen daar saam met mekaar gevind het. Maar miskien is dít juis die punt: Ons is as NG Kerke in hierdie sentrale provinsie in ons land geroep om hoop te vind, wéér en wéér en wéér, en die boodskap te blý dra. Byna soos Jeremia in Klaagliedere 3 in daardie middelste “Treurlied” by die ruïnes van Jerusalem: “Deur die troue liefde van die Here het ons nie vergaan nie, sy ontferming ken geen einde – dit is elke oggend weer nuut. My erfdeel is die Here, sê ek; daarom hoop ek op Hom” (3:22-24).

Dit was goed om as Moderamen byeen te kom, byna voltallig, die eerste keer sedert September verlede jaar op Mooigenoeg. Intussen was daar drie streekskonferensies vir ons kerke, Kerstyd en Nuwejaar, die dodelike ontploffing in Boksburg, ‘n rasse-insident by Maselspoort, geweld op ‘n plaas in die Oos-Vrystaat, die oorlog in die Oekraïne wat oor twee weke al ‘n jaar woed en duisende lewens geëis het en ‘n groot aardbewing in Turkye. Ons lewensomstandighede het uitdagend geword; mense kry swaar. Gemeentes en dominees in die Vrystaat óók. Nogtans sal ons hoop…

In Bethlehem het ons Markus 4 gelees, die drie gelykenisse aan die skare op die strand en toe Jesus se woorde die nag op die stormsee: “Wees stil, bedaar!” Sy vraag aan die dissipels: “Waarom is jul bang, het jul steeds nie geloof?” Nie ‘n veroordelende vraag nie, maar pastoraal. Dít, ná die drie gelykenisse die dag oor saad; oor hoe die koninkryk van God uitgestrooi word, in verskillende soorte grond val, bedreig word deur die “bose driedoring” – “bekommernisse van hierdie wêreld, verleiding van rykdom, begeertes na allerlei dinge” (4:19) – maar ook ontkiem, groei en ‘n oorvloedige oes op die aangewese tyd gee. Ons het onsself afgevra: Wat hoor ons? Ons het ontdek: Die saad wat klein en eenvoudig en aan die elemente uitgelewer is, is vól krag en belofte. Ons het nog iets uit Markus 4 ontdek; daarby sal ek eindig…

Vier inleiers het hul perspektiewe op ons Vrystaatse konteks kom deel. Barend la Grange (“Privilege Foundation”) en Freek Robinson (“Dialoog in Aksie”) het oor dit wat in die breër samelewing en in klein dorpies aan’t gebeur is, gepraat – soos in Senekal en Kroonstad, waar hul betrokke was. In die vakuum van effektiewe regering op plaaslike- of nasionale vlak, is dit gewone mense wat die vier woorde vir ‘n omdraai-strategie begin doen: Maak skoon, maak heel, maak mooi, maak groen. En wat hiervoor nodig is, is nie in die eerste instansie kapitaal nie, maar leierskap. Beide Barend en Freek was van mening dat gelowiges en gemeentes in die Vrystaat ‘n groot rol kan speel om oor grense hande te vat en ons land te help opstaan en omdraai. Kollega Leon Foot het oor die profiel van die NG Kerk Vrystaat gepraat, ook post-Covid, en praktiese voorbeelde gegee van hoe ons ons roeping kan uitleef. Ds Madelein Bakker van Bethlehem het ons oë oopgemaak vir die belewenisse van jongmense en vroue, en wat dit beteken om in hierdie konteks gemeente-dominee te wees. Ons het gehoor van die 30+ers en Generasie Z wat selfversekerd en gedrewe is, pragmaties in hul verbintenisse, vinnig by nuwe situasies aanpas, sterk voel oor regverdigheid en deursigtigheid, maar óók meer blootgestel aan stressors uit die digitale wêreld. Die rus op Sondae gaan verlore, teologie vervlak, mense verloor hul sosiale konneksie, óók met die kerk. Dan word daar van die dominee verwag “om te red”…

Uit die intense groepbespreking hierná en uit skriftelike terugvoer van moderamenlede, het dit vir ons duidelik geword dat ons dieper in die Skrif sal moet delf en na die Gees van God moet luister; dat ons weer dissipels van Christus sal wees en met ‘n geroepenheid leef; dat ons ons boodskap van Lig en hoop, ons teologie en ons kerkwees sal herbedink. ‘n Tweede behoefte: Ons sal as sinode, ringe en gemeentes veilige ruimtes moet oopmaak waar lidmate en mense uit ons gemeenskappe kan kom praat oor die verlede en hede, waar broosheid en pyn gedeel kan word, waar verwyte en verwydering oorbrug kan word. Derdens: Ons sal ons oë, ore en arms moet oopmaak om ons kinders en jongmense te help; hulle wat nie soseer ‘n diep lojaliteit jeens die NG Kerk het nie, maar hul wel hartgrondig wil verbind aan geregtigheid en die toekoms van ons land. Kyk waar hul net stil-stil wegraak (“silent quitting”) en deel persoonlik, deurdag en met integriteit uit jou eie ervaring daardie hoop. (Advertensieflits: #Imagine, 18-20 Maart 2023 te NAMPO!). ‘n Vierde prioriteit: Leierskap. Dit is nodig om almal wat tans verantwoordelikhede in gemeentes dra – leraars spesifiek – te ondersteun en met vaardighede te help om lidmate en gemeenskappe deur hierdie spanningsvolle tyd te help stuur. Ons moet jongmense help om as leiers na vore te kom; teologiestudente; ander geroepenes – sodat ons nie deur skuldgevoelens oor die verlede òf vrese vir die hede gedryf sal word nie, maar deur die hoop om in ‘n “flourishing” Vrystaat te mag leef.

Teen hierdie agtergrond het ons as Moderamen ook ‘n hele oggendsessie gewy aan die gesprek oor ons kerkverband, Artikel 37 en die komende buitengewone sinodesitting van 18 April. ‘n Verslag van die Studiegroep hieroor is ontvang en waarin vyf voorstelle vir die sinode uiteengesit word. Die beskrywingspunte wat in Maart verlede jaar ontvang is, versoek dat ons as Vrystaatse Sinode uit die algemene sinodale verband sal tree kragtens Artikel 37 van ons Kerkorde. ‘n Eerste opsie sou wees om nie nou te besluit nie, maar te wag tot ná die komende sitting van die Algemene Sinode in Oktober en te kyk wat daar gebeur. ‘n Tweede en derde opsie sou wees om gewoon òf “Ja, ons tree uit” òf “Nee, ons tree nie uit nie” te besluit. ‘n Vierde opsie is om te besluit “Ja, ons tree uit, maar slegs tydelik” en om dan as Vrystaatse sinode in twee kerkvergaderinge te verdeel, ons onderlinge verhoudinge en verpligtinge uit te werk en een van die twee kan dan weer terug in algemene sinodale verband tree; die ander gaan op ‘n eie weg vorentoe. Die vyfde opsie is om te besluit “Nee, ons tree nie uit, maar stel ‘n eie standpunt” oor kwessies rakende Skrifvertolking, ons belydenisgrondslag, SGV, teologiese opleiding en die funksionering van die Algemene Sinode, gee dit deur na Oktober se sinode en skep ruimte hier in die Vrystaat vir gemeentes wat heel anders hieroor voel. Die Moderamen is wel van mening dat ons as Sinode op 18 April ‘n prinsipiële keuse moet uitoefen en duidelik rigting moet aantoon, maar dat daar in die geval van beide opsies vier en vyf ‘n grasietydperk nodig gaan wees onderweg na Oktober en deur volgende jaar. Op die detail van hierdie opsies en die kerkregtelike- en alle ander praktiese implikasies daarvan, gaan die Studiegroep Kerkverband volgende week in Winburg verder fokus en sal dit volledig uiteengesit wees in die agenda vir ons buitengewone sinodesitting. Gemeentes, kerkrade en leraars sal hul dus goed kan voorberei vir 18 April. Mag die Here ons ook deur sy Gees hierin help…

“Hoe sal ons kan aanhou?” vra kollega Christo Weideman daardie Woensdag in Bethlehem.

Jesus se woorde in die tweede gelykenis oor die saad in Markus 4, help ons – só het ons toe ontdek. Die man wat die goeie saad op die land uitgestrooi het, het nag ná nag gaan slaap, dag ná dag opgestaan, en kyk:

“… die saad ontkiem en groei – hoe, weet hy self nie. Die land bring die graan vanself voort: eers ‘n halm, dan ‘n aar en dan die koring vol in die aar. Wanneer die graan ryp is, steek hy die sekel in, omdat die oestyd daar is.”

Ons glo mos die belofte van die saad? En ons ken mos ook die Groot Saaier, nie waar nie? Ons moet dié Twee vertrou, aand na aand, oggend na oggend. Ons moet vanjaar alles in ons vermoë doen en dit goed doen. Soos een lid geskryf het: “’n Mieliepit word geplant om nie net kos te voorsien nie, maar ook saad vir die volgende seisoen.” Hiermee moet ons volhard. Hou moed, leef met veerkrag, bedien vrede en dra die hoop en lig wyd en ver deur ons provinsie!

NG Kerk reik uit oor grense

Freek Robinson gesels met ds Jan Lubbe, voorsitter van die NG Kerk Vrystaat se sinode, en Akash Sirpal van The Reformed Church in Africa (RCA), oor die onlangse vergadering in Bethlehem tussen die Gereformeerde Kerke en hul samewerking. KLIK HIER vir die video-onderhoud.

Oorgeneem uit © 2023 LitNet, 2023-02-09

Foto v.l.n.r.: Ds Jan Lubbe (moderator: NGK Vrystaat), ds Madelein Bakker (leraar van NG Gemeente Bethlehem-Oos), Barend la Grange (Privilege Foundation), Freek Robinson (Dialoog in Aksie) en dr Leon M Foot (skriba: NGK Vrystaat).