“Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”
MATTEUS 5:16 AFR83
Met Hervorming-Sondag so pas agter die rug en die kerkjaar van 2023 wat met “Koninkrykstyd” eersdaags ten einde loop, het ek gewonder of lidmate altyd die verband raaksien tussen die groot Christelike feestye vanaf Advent tot met Pinkstertyd en Koninkrykstyd, wat dan in die tweede helfte van die jaar aanbreek.
Dit gaan immers daaroor dat die heil- of verlossingsdade van God deur Jesus Christus moet uitmond in die praktyke en lewenstyl van Jesus se kerk in hierdie stukkende wêreld. Soos vers 16 van Matteus 5 tereg sê dat die Godgeseëndes se lewens (goeie dade) soos lig sal skyn in ’n donker wêreld. Dis in hierdie teks sommer al duidelik waarom die kerk en lidmate die missionaliteit van die kerk ernstig moet opneem.
Die lig van God behoort voor die mense te skyn, sodat die gelowiges die regte pad kan aanwys vir die samelewing wat nog in die duister verkeer. Let wel, die lig van gelowiges moet “voor” die mense skyn, om só ‘n alternatiewe lewenstyl, vry van eersug of selfsug, te modelleer! Die kerk se lig skyn nie hovaardig en meerderwaardig “oor” mense neer wat nog in die duister lewe nie. Nee, terwyl ek en jy “tussen” die mense is, word ons as gelowiges gestuur om die pad vorentoe vir die wêreldlinge te belig.
Die vraag bly dan: “Hoe doen ons dit?” Die voor-die-hand-liggende antwoord is: Deur die LIEFDE, wat die kern van God se eie wese en sy gebod is, uit te leef. Want liefde is altyd vir God goed en aanneemlik en volmaak. Liefde is ook tweedens die wêreldtaal wat elke mens op aarde verstaan en waarby almal aanklank vind. Aan die liefde het almal ’n behoefte, al verskil die gestaltes van die liefde soos dit uitgeleef word van situasie tot situasie. Dit is waaraan Koninkrykstyd ons herinner: ons geloof in Christus word in die gestalte van liefde aan die mensdom bewys. Die “goeie werke” waarna ons teks verwys, is die “liefdesdade” waaraan die kinders van God uitgeken sal word.
Die laaste vraag wat dan oorbly, is “waarom?” Waarom moet die kerk liefde as goeie werke voor die mense uitleef? Ons teks sê: “… en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.” Let wel, dit is die mense “voor” wie ons die lig van liefde laat skyn, wat so ingetrek word by die lof wat die kerk aan die Vader bring. En so, liefdesdaad vir liefdesdaad, kom die Koninkryk van die hemel.
Ek het altyd gevoel daar kort ’n sesde “sola”. Want waar is die liefde dan? Behoort dit nie ook ’n “sola” te wees nie? Die vyf solas praat net oor Jesus alleen; die Skrif alleen; die genade alleen; die geloof alleen. En toe ek by nommer vyf kom, “tot God se eer alleen”, toe besef ek, ons gereformeerde vaders het alles wel mooi geformuleer. Waar word ons God se eer immers so duidelik gesien as juis in die uitleef van die liefde? Daar hoef nie ’n sesde sola te wees nie, want wie God wil eer, moet liefde doen … op die voetspoor van Jesus wat vir sy dissipels liefde gemodelleer het. Jesus het deur sy liefde immers vir ons gegee wat ons die nodigste het (verlossing), selfs terwyl ons dit die minste verdien (ons sonde) en teen ’n baie hoë koste (sy eie lewe). Dít is liefde!
Ja, daar waar liefde geleef word, daar geskied God se wil, daar kom sy Koninkryk en daar word sy Naam verheerlik. Koninkrykstyd handel dus oor die inoefening in die praktyk van die doen van God se liefdeswil. Mag dit wees dat 2023 se Koninkrykstyd my en jou op hierdie pad gehelp het!
Soli Deo Gloria!