Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

’n Ryke geskiedkundige kennis

Dit was tien baie opgewonde nagraadse studente van die Teologiese Fakulteit wat op Vrydag 19 Mei 2023 byeengekom het om, onder leiding van dr Martin Laubscher, ʼn uitstappie na Modderpoort te onderneem. Almal het met verwagting uitgesien na wat die naweek alles vir die groep sou oplewer. 

Die eerste stop was by ʼn klooster, die Susters van Assisi. Daar het sr Ernestina die groep ingelig oor die maniere waarop hulle natuurlike hulpbronne, soos kruie en heuning, gebruik om medikasie en medisinale room voor te berei. Die groep was bevoorreg om te kon kyk hoe die heuning by die korwe geoes word vir verdere verwerking. Daar is ook verduidelik dat die bye vir terapie aangewend kan word. Terwyl ʼn persoon ʼn massering ondergaan, kan in stilte na die bye geluister word om op hierdie wyse verligting van ʼn ongesteldheid te kry.

Hierna het die groep na die slaapplekke in die St. Augustines-gastehuis vertrek. Weer was daar groot opgewondenheid toe die studente die naam “Marseilles” op die borde langs die pad sien, want nou kon hulle dít wat hulle in kerkgeskiedenis geleer het, in die werklikheid sien. Met die aankoms by die gastehuis is die groep met ope arms verwelkom. Daar was ’n heerlike middagete voorberei en die hond, Kevin, roep almal eetsaal toe deur ʼn klok te lui.

Die middag het die groep na Ficksburg vertrek waar hulle ds Waldemar Stumpfe ontmoet het. Saam met hom het die groep op ʼn plaaspad na een van die boere in die gemeenskap gery. Die boer het die groep gaan wys waar hy en sy vennote besig is met ʼn onderneming wat as “Missio Dei” bekend staan.

Die doel van die onderneming is om almal op die plaas met God en sy Koninkryk te bereik. Dit is onder andere gedoen deur ʼn kliniek vir die gemeenskap op te rig, asook ʼn skool wat voorsiening maak vir 130 leerders vanaf graad R tot 7. Die skool is by die Departement van Onderwys geregistreer en maak voorsiening vir teoretiese sowel as praktiese onderrig. Die groep het hierna na die melkery beweeg en kon eerstehandse kennis opdoen oor die praktiese sy van melkboerdery. Daarna is by die “hospice” aangedoen waar die “missio” tans veertien pasiënte, waarvan die oudste 101 jaar is, versorg.

Terug by die gastehuis het ʼn heerlike warm aandete op die groep gewag. Ná aandete het beurtkrag daarvoor gesorg dat die groep besluit het om die aand te verwyl met bordspeletjies. Almal het dit terdeë geniet en sterk bande van kameraadskap is rondom die borde gevorm.

Die Saterdagoggend kon die groep van die dienste van mnr Jan Oberholzer, ʼn ervare toergids van die omgewing, gebruik maak. Hy het tot in die fynste besonderhede die geskiedenis van die omliggende area, asook van Lesotho en die Basotho-volk vertel. Op dié wyse kon ook meer geleer word oor die geskiedenis van die St. Augustines-gasteplaas. Terselfdertyd kon die katedraal, asook die graf van die bekende Basotho profetes Makheta (Anna) Mantsopa besoek word. Dit alles het die geskiedenis net soveel meer verhelder.

By dié geleentheid is ook die “grotkerk” besoek. Ongelukkig was daar op daardie stadium ʼn diens aan die gang en kon die groep nie die grot binnegaan nie, maar dit was genoeg om ʼn mens se verbeelding aan te gryp. Die voormiddag is afgesluit met ʼn besoek aan ’n plaas waar rotstekeninge ontdek is. Mnr Oberholzer se vertelling van die geskiedenis van die rotstekeninge en maniere waarop die tekeninge aangebring is, het die groep verstom.

Ná middagete het die groep die pad terug Ficksburg toe gevat en weer by ds Waldemar aangesluit. Hy wou die groep insae gee in die dorp Ficksburg en watter potensiaal daar in die dorp opgesluit lê. Een van die gemeenskapsleiers, me Seloane, het die groep deeglik laat besef hoe ʼn klein verandering ʼn groot verskil tot gevolg kan hê. Sy het tans verskeie projekte in die gemeenskap aan die gang en haar doel is om Ficksburg so te laat herstel sodat die dorp weer die potensiaal sal hê wat eens op ʼn tyd daar was toe sy nog ʼn kind was.

Me Seloane het haar bekommernis uitgespreek oor die grens van Lesotho wat net ʼn paar treë van die dorp af is en sy het die uitdagings hier rondom beskryf. In die gesprek met haar het nuuskierigheid onder die groep posgevat om te sien hoe dit by die grens lyk. Net daar het dr Laubscher besluit om die groep tot by die grenspos te neem, sodat hulle dit eerstehands kan beleef.

Die besige Saterdag is afgesluit met ʼn laaste blootstelling aan die “township” van Ficksburg waar een van die inwoners die inisiatief geneem het om ʼn speelarea vir die kinders te ontwikkel. Daar is ook grasdakke opgerig waar die ouers kan sit om ’n ogie oor die kinders te hou terwyl hulle speel. Hierdie inwoner is ook besig met ʼn projek waar hy ʼn treintjie wil bou met ʼn grassnyermotor en asdromme.

Hierna het die groep na die gasteplaas teruggekeer waar ʼn tradisionele Afrika-ete van pap, vleis en sous op hulle gewag het. Dit was ʼn groep moeë, maar tevrede studente wat vroegaand reeds die beddens begin opsoek het, want môre is mos nog ʼn dag!

Vroeër die jaar het die groep ʼn Metodistekerk besoek, daarom het hulle die kerkdiens in die NG Moedergemeente te Ladybrand bygewoon vir diverse blootstelling. Die gemeente het die groep hartlik verwelkom. Omdat dit Pinkstertyd was, het die leraar, dr Kleynhans, se boodskap oor wedergeboorte gehandel. Ná die diens is die groep getrakteer op tee en peuselhappies en kon hulle ook ʼn kykie kry in die dinamika van die gemeente en die gemeenskap. Dit was duidelik dat die gemeente en die gemeenskap diversiteit ten volle omarm het – ʼn sprekende voorbeeld vir baie van gelowiges.

Ná die oggenddiens het die groep teruggekeer Bloemfontein toe waar die naweek afgesluit is met ʼn evaluasie van alles wat op die uitstappie gesien en beleef is. Dr Laubscher het onder andere die volgende vraag aan die groep gerig: “Wat het julle geleer gedurende hierdie naweek?”  Die volgende het uit die antwoorde navore gekom:

  • ʼn Mens moet buite jou gemaksone hande vat;
  • Diversiteit moet omarm word om sodoende ʼn verskil te maak;
  • Daar is ʼn geskiedenis wat verder as 1652 strek; en
  • die kerk moet sigbaarder in die gemeenskap wees, maar nie om daarmee net haarself op die skouer te klop nie.

Dit was duidelik dat die groep studente met nuwe entoesiasme vervul was en ook verskillende tipes bediening leer ken het. Die uitstappie was ʼn geleentheid om te ontspan, maar veral ʼn geleentheid om nuut te kyk na die betekenis van ʼn christelike bediening, om op voetsoolvlak met ʼn verskeidenheid mense kennis te maak en in dié proses sommer meer oor die ryke en uiteenlopende geskiedenis van die Vrystaat te leer.

Deur Melissa Jacobs, klasleier van die groep Nagraadse Diploma in Teologie

Leave a comment

116 | Maatskaplike NOODLYN