ANAM CARA: Spiritual wisdom from the Celtic World deur John O’Donohue
Kinders weet dat die wêreld baie vreemd is. Hulle kan ure na ’n sprinkaan staar en heel middag op hul rug lê om die wolke dop te hou. As ons ouer word, verloor ons dikwels die gawe van verwondering.
Spiritualiteit is in ’n sin om daardie verwondering terug te vind, sê die digter en filosoof John O’Donohue. “It is strange to be here,” begin hy sy boek Anam Cara. “The mystery never leaves us.” Bokant ons is ontelbare sterre en onder ons voete is rotse wat ouer as die dinosourussse is. Binne ons is ’n hele sielswêreld wat ons ons lewe lank probeer verstaan en wat ons nooit honderd persent kan verklaar nie.
O’Donohue se Anam Cara is ’n bekendstelling aan die antieke tradisie van Keltiese Christelike spiritualiteit. Die Iere, van wie hy spesifiek skryf, het oor die eeue heen geleer om die misterie te waardeer, om daarin ’n sleutel tot dieper konneksie met onsself, ons medemens en die skepping te vind. Eerder as om die kompleksiteit van ons verstommende binne- en buitewêreld met lang verduidelikings te probeer opklaar, moedig hy ons aan om stil te raak en die raaisel van ons bestaan toe te laat om raaiselagtig te bly. Laat die verwondering jou oopbreek vir iets wat “alle verstaan te bowe gaan”.
God is veel groter as jou verduidelikings. Die skepping en jou siel ook.
Die woorde Anam Cara beteken letterlik “sielsvriend”. As ons so weerloos kan wees, as ons weerloos kan staan voor die groot misterie, vind ons ’n konneksie en ’n vriendskap met iets groter as onsself, skryf O’Donohue. Dan word elke oomblik ’n vriend vir ons siel.
Johannes De Villiers