NG Gemeente Petrusburg se verhaal
Die Erediens Netwerk poog om met hierdie reeks oor musiek en sang in die erediens ‘n diepe bewustheid te kweek rakende die onontbeerlike rol wat musiek en sang speel in die erediens. In hierdie bydrae tot die reeks word die verhaal van NG Petrusburg se musiekbediening vertel. John-John van Niekerk, die leier van NG Petrusburg se musiekbediening, het my gekontak na aanleiding van hierdie reeks oor musiek en sang in die erediens. Hy wil graag die verhaal van NG Petrusburg se musiekbediening vertel, met die hoop dat hierdie unieke gemeentestorie, ook ander gemeentes sal inspireer om nuut en kreatief oor musiekbediening te dink.
NG Gemeente Petrusburg se storie klink so …
Ter agtergrond, Petrusburg is ‘n dorpie op die hoofpad tussen Kimberley en Bloemfontein en is hoofsaaklik ‘n boerdery-gemeenskap. NG Petrusburg bedien ongeveer 150 aktiewe lidmate, waarvan ongeveer 75 lidmate gereeld die erediens bywoon. Die gemeente is een van die ses-en-twintig gemeentes in die Vrystaat wat doleer. Aangesien meeste kinders van jongs af in koshuise is, is daar baie min kinders in die erediens. Die gemeente het op hierdie stadium nie ‘n leraar wat voltyds die gemeente bedien nie. NG Petrusburg is ook nouliks betrokke by die plaaslike bejaardesorgsentrum op die dorp.
John-John van Niekerk is die voorsitter van die musiekbediening, en dien ook as ouderling op die Erediensbediening van die gemeente. In antwoord op die vraag hoe en hoekom hy betrokke geraak het by die musiekbediening van NG Petrusburg, vertel hy dat sy familie musikaal is en dat hulle ook nog altyd kerklik betrokke was. So, toe hy en sy musikale vrou Sonja, plaas toe verhuis in die distrik van Petrusburg, was dit ‘n gegewe dat hulle betrokke sou raak in die gemeenskap, gemeente en op so ‘n wyse hulle gawes en talente uitleef. Hy vertel verder dat hy geen formele teologiese opleiding het in terme van die erediens of erediensbeplanning nie. Hy het wel jare in noue samewerking met voormalige predikante eerstehandse ervaring opgedoen, wat natuurlik vandag handig te pas kom. Sy liefde en passie vir die Here en die gemeente en dié se musiekbediening is duidelik wanneer hy daaroor praat.
NG Gemeente Petrusburg se musiekbediening werk hoofsaaklik met drie modelle. John-John verduidelik die drie modelle as volg:
1) Formele erediens met ‘n klassieke Gereformeerde liturgie met die leesroosterteks as fokus vir die Woordbediening, waartydens die orrel of klavier bespeel word.
2) Informele erediens met ‘n kreatiewe informele liturgie en ‘n kontekstuele saak (teks) as fokus vir die Woordbediening, waartydens ‘n verkleinde orkes die musiek en sang tydens die erediens lei. Die verkleinde orkes bestaan uit een akoestiese kitaar, een klawerbord en vier voorsangers.
Die eredienskalender vir die jaar word so beplan dat die formele en informele erediensstyle afwisselend beoefen word.
3) Vyf spesiale eredienste, elkeen met ‘n naam en ‘n bepaalde tema waar die volledige orkes die musiek en sang lei. Die volledige orkes bestaan uit een akoestiese kitaar, een klawerbord, een baskitaar, ‘n digitale dromstel en vyf voorsangers. Die spesiale eredienste is onder andere:
- Kinder & Jeugdienste
- Kinderkampe (kleuters & seniors)
- Kerssangdiens
- Die Liggiefees – ‘n sangdiens waar die gemeente opgeroep word om hulle lig te laat skyn vir die wêreld, met die aansteek van kerse tydens die diens. ‘n Gemeente-ete volg na hierdie feesdiens.
- Die Lentefees – ‘n sangdiens met die fokus op vernuwing en groei. ‘n Gemeente-ete volg na hierdie feesdiens.
Tydens die gesprek met John-John oor NG Petrusburg se musiekbediening het dit duidelik na vore gekom dat hierdie gemeente dit reggekry het om die bogenoemde drie modelle in harmonie met mekaar te beoefen. Hoe het hierdie klein plattelandse, waarskynlik konserwatiewe gemeente, dit reggekry om só kreatief en nuut oor sang en musiek in die erediens te dink?, vra ek hom. Hy antwoord met oortuiging; dit begin alles met die deeglike beplanning van die jaarlikse kerkkalender, en daarmee saam die eredienskalender; sodoende weet elke erediensganger wat om tydens hierdie diens te verwag en onsekerhede word effektief uit die weg geruim. Die leierskap van die gemeente, beginnende by die voormalig(e) predikant en ook die kerkraad wat inkoop by die droom van die musiekbediening. Die musiekbediening het die kerkraad gereeld genooi om te luister na die musiek wat hulle voorberei vir die eredienste, op so ‘n wyse is die kerkraad aktief betrokke en kon hulle deelneem aan die erediensbeplanning. Daar word ook gereeld steekproewe onder die erediensgangers gedoen, om seker te maak dat die musiekbediening gehoor gee aan lidmate se behoeftes en idees en om ook so terugvoer te ontvang en daarvolgens bepaalde aanpassings te kan maak. Die keuses van liedere dra ook grootliks by tot die sukses van die musiekbediening – liedere word strategies oorweeg en gekies – tydens die voorsang word FLAM en VONKK-liedere gebruik, en in die erediens kry die Liedboek hoofsaaklik voorkeur. Verder word daar geen Engelse liedere gesing nie.
‘n Paar wenke vir gemeentes, predikante en musiekbedieningsleiers en -spanne: Moenie bang wees om te waag en te eksperimenteer met musiek en sang binne die erediens nie, natuurlik altyd binne grense. Goeie verhoudings, veral met jou kerkraad en leierskap is van kardinale belang vir die sukses van ‘n vernuwende musiekbediening. Gee geleentheid vir erediensgangers om terugvoer te kan gee, al is dit nie altyd lekker om te hoor nie, so word hulle ook betrek by die musiekbediening.
John-John beklemtoon laastens dat die musiekbediening van NG Petrusburg ‘n vloeibare bediening is, met die fokus op kreatiwiteit, vernuwing en ‘n Gereformeerde spiritualiteit.
Ek wil jou uitnooi om met my kontak te maak, indien jy op watter wyse deel wil wees van hierdie reeks oor sang en musiek in die erediens. Suzanne van der Merwe, sameroeper van die Erediens Netwerk (e-posadres: suzannekleynhans@gmail.com | Selfoon: 073 684 4983)