‘n Mini-ondersoek na die uitdagings wat musiek en sang in die erediens bedreig
Die Erediens Netwerk poog om met hierdie reeks oor musiek en sang in die erediens ‘n diepe bewustheid te kweek rakende die onontbeerlike rol wat musiek en sang speel in die erediens. In hierdie bydrae tot die reeks word daar gefokus op die talle uitdagings wat leraars, orreliste en musiekbedieningspanne in die gesig staar. Ds. Cassie Carstens (2002:I) verduidelik dat dit opsigself reeds “‘n uitdaging is om elke erediens ‘n besondere en spesiale gebeurtenis te maak – dit moet die teenwoordige persone lei tot aanbidding en ‘n nuwe toewyding aan die Here. Aan die einde van so ‘n erediens moet daar gesê word: Ek het die Here ontmoet!”
Vir die liturg, die orrelis/te en die musiekbedieningspan is die deurlopende beplanning van eredienste werklik ‘n groot verantwoordelikheid om sodoende te verseker dat elke erediens ‘n hoogtepunt kan wees. Dit alles vind plaas in ‘n konteks vol verdere uitdagings. Ek gaan poog om ván hierdie verdere uitdagings wat musiek en sang in die erediens reeds bedreig of moontlik kan bedreig, te belig.
Tydens hierdie mini-ondersoek, het ek dit goedgedink om te skakel met van die rolspelers wat hierdie uitdagings Sondag vir Sondag eerstehands ervaar, om hulle stemme te laat hoor in hierdie verband. Ek het drie groepe (Vrouepredikante, Predikante Kollegas, SA orreliste / SA organists) op die sosiale media-platform Facebook gebruik om dieselfde vraag te plaas, naamlik: Watter uitdagings ondervind jy eerstehands as liturg/orrelis/te tans rakende musiekbediening/begeleiding in die erediens?
Hiermee gee ek dus terugvoer oor die uitdagings wat na vore gekom het met hierdie mini-ondersoek, natuurlik met die toestemming van elkeen wat geantwoord het op hierdie vraag.
1. Geen orrelis/te of slegs deeltydse orrelis/ste
Hierdie is waarskynlik een van die voor-die-handliggende uitdagings van musiek en sang in die erediens, die gebrek aan opgeleide voltydse orreliste, veral op die platteland. Hierdie uitdaging laat menige musiekbediening tydens die erediens sneuwel, soveel so, dat daar gemeentes is wat letterlik ophou sing in die erediens. In die gevalle waar ‘n deeltydse orrelis/te betrokke is, is daar dikwels die uitdaging van kontinuïteit wat in gedrang is. Die oomblik wat die deeltydse orrelis/te nie beskikbaar is nie, sit die gemeente spreekwoordelik met hulle hande in hulle hare. Hierdie uitdaging word toenemend groter teen ‘n snelle spoed, met vele bydraende faktore, onder andere gemeentes wat nie meer ‘n voltydse orrelis/te kan bekostig nie, gebrek aan gekwalifiseerde orrelis/te in die omgewing, minder studente wat geskool word in orrelbegeleiding, ens., om maar enkeles te noem.
2. Geen musikante of begeleiers of voorsangers in die gemeente
‘n Uitdaging wat voortspruit uit die bogenoemde is die gebrek aan enige ander musikante, begeleiers of voorsangers in die gemeente. Veral op die platteland, sonder om te veralgemeen, is dit net so dat die gebrek aan musikale vaardighede en vermoëns ‘n groot rol speel ter bedreiging van musiek en sang in die erediens. Hierdie musikale leemte in gemeentes veroorsaak dan ‘n grype na alternatiewe musiekbedienings wat dikwels nie ewe suksesvol blyk te wees nie (sien verdere uitdagings).
3. Vrees vir verandering
Hierdie is natuurlik nie net ‘n uitdaging wat van toepassing is op musiek en sang in die erediens nie, maar eintlik elke aspek van menswees. Hierdie uitdaging, die vrees vir verandering aangaande musiek en sang in die erediens (gegewe die bogenoemde twee uitdagings) is waarskynlik te verstane. Met min tot geen musikale leiding in sommige gemeentes, as gevolg van die bogenoemde uitdagings, is dit eintlik onregverdig om te verwag dat hierdie gemeentes vernuwend kan en moet dink rondom musiek en sang in die erediens. Selfs die aanleer van ‘n nuwe lied kan soveel spanning en weerstand tot gevolg hê indien die proses nie met genoegsame leiding deurgevoer word nie. Die vrees vir verandering, of die vrees vir die onbekende mag terselftertyd nooit as rede of motivering aangevoer word vir die handhaaf van die status quo nie, veral nie as daar genoegsame musikale leiding in die gemeente beskikbaar is nie.
4. Swak en ongereelde bywoning van eredienste
Die swak en ongereelde bywoning van eredienste is ‘n groot uitdaging vir die beoefening van musiek en sang tydens die erediens. Die feit is dat lidmate nie gemaklik deelneem aan musiek en sang tydens die erediens, indien hulle hul eie stem kan hoor nie. Vra gerus maar enige gemeente met ‘n lae erediensbywoningsyfer! Die gebrek aan selfvertroue by lidmate en daarom die gebrek aan deelname aan musiek en sang, bemoeilik die musiek en sangbediening in die gemeente, al is daar ‘n uiters begaafde orrelis/te. Die swak en ongereelde bywoning van eredienste maak dit haas onmoontlik om nuwe musiek en liedere aan te leer – en sodoende word ons gaander wys vervreem van die musiekskat in ons midde, en gaan dit ook stelselmatig verlore.
5. Beurtkrag
Is dit vir my enigsins nodig om oor die uitdagings wat beurtkrag veroorsaak, te praat? In kort, min gemeentes het toegang tot ‘n geskikte kragopwekker om ‘n driefase pyporrel te trek. Dus moet alternatiewe planne beraam word om tydens beurtkrag, op ‘n sinvolle wyse, ‘n erediens aan te bied met musiek en sang.
6. Die aanwending van musiek en sang in die erediens
Die aanwending van musiek en sang in die erediens geskied soms met min tot geen aanvoeling vir die spesifieke stemming van die moment in die liturgie. Hierdie uitdaging het waarskynlik te make met die wanpersepsie dat musiek en sang bloot ‘n ondersteunende rol speel tot alles anders in die erediens. Hierdie uitdaging se wortel mag ook lê in van die bogenoemde uitdagings, veral rondom die gebrek aan musikale kapasiteit en leiding wat musiek en sang aanbetref.
7. Alternatiewe vorme van musiek en sang in die erediens
Die volgende alternatiewe vorme van musiek en sang word gebruik in die erediens, in gevalle waar daar nie meer ‘n orrelis/te of enige ander vorm van begeleier of musikante beskikbaar is nie. Die een vorm van alternatiewe musiekbegeleiding in die erediens is om van orrelklankbane/opnames gebruik te maak – dit is ‘n alternatief ja, maar dikwels nie ewe suksesvol nie. Enkele van die uitdagings rondom hierdie alternatief blyk te wees dat van die invalle nie altyd duidelik is nie, en dit stem die gemeente met onsekerheid, die tempo van hierdie opnames is anders as dit waaraan die gemeente gewoond is, sommige van die opnames klink meer soos ‘n orreluitvoering as begeleiding vir sang en musiek tydens die erediens. Die ander alternatief wat deesdae, veral na die Covid-19 pandemie, gewild geword het, is die gebruik van Youtube videos met begeleiding en woorde. Weereens ‘n erkenning dat dit wel ‘n alternatief is, maar weereens nie sonder uitdagings nie. Enkele uitdagings wat hiermee in verband gebring kan word is: Tempo van liedere wat nie dieselfde is as waaraan die gemeente gewoond is nie, ‘n groot frustrasie is dat verse nie gekies kan word nie, gospelkunstenaars wil dikwels ‘n eie stempel afdruk op die lied, en maak dit dan moeilik singbaar vir ‘n gemeente. ‘n Verdere uitdaging rondom Youtube videos wat dikwels nie genoem word nie, het te make met kopiereg, en die streng wetgewing rondom kopiereg, om wettig musiekvideos te kan benut in die erediens.
8. Klankstelsels van gemeentes
Die klankstelsels van gemeentes is dikwels verouderd en is daarom nie ingerig of geskik vir die gebruik van nuwe alternatiewe vorme van musiek en sang in die erediens nie.
9. Powerpoint aanbiedings van gemeentes
Die Powerpoint aanbiedings van gemeentes is dikwels die fokus van eredienste, daarsonder is leraars en lidmate dikwels verlore. ‘n Uitdaging spesifiek te make met die musiek en sang in die erediens is dikwels onleesbare woorde – die agtergrondprent is so bont dat die woorde totaal onleesbaar raak, en dit veroorsaak dat die lidmate dan nie kan saam sing nie.
10. Die gebrek aan onderrig van musiek en sang in skole
Hierdie uitdaging is waarskynlik nie primêr ‘n kerklike aangeleentheid nie, die rimpelings hiervan strek wel tot in die kerklike milieu. Die jammerte van musiek- en sangonderrig wat nie meer beskikbaar is in meeste skole nie, speel ‘n daadwerklike rol in die afname van orrelis/te wat opgelei word, vir die algemene lidmaat veroorsaak dit ‘n gebrek aan kennis en aanvoeling vir musiek en sang, asook min ruimte vir aktiewe musiekbeluistering en die beoefening van musiek. Die gevolg is natuurlik dat die samelewing se musikale vermoëns die spit afbyt, en dit het tragiese gevolge vir musiek en sang in die erediens.
11. Instandhouding van pyporrels en ander musiekinstrumente en toerusting
Kerkrade wat die instandhouding van pyporrels en ander musiekinstrumente en -toerusting agterweë laat as gevolg van die finansiële druk wat gemeentes beleef, benadeel musiek en sang in die erediens. Dit vra ‘n vaardige orrelis/te om ‘n orrel te bespeel wat nie goed in stand gehou word nie.
12. Teologiese onderbou van moderne gospel musiek
Die teologiese onderbou van moderne gospel musiek is dikwels problematies, as gevolg van swak teologie, maar die melodie is populêr en daarom word dit gebruik in eredienste. Die gevaar van hierdie uitdaging lê in die vervlakking van die evangelieboodskap.
13. Beperkte repertoire
Al hierdie bogenoemde uitdagings veroorsaak dat gemeentes ‘n beperkte repertoire het waaruit Sondag vir Sondag gesing word.
Ek dink hierdie uitdagings beklemtoon die problematiek van musiek en sang in die erediens op verskillende vlakke. Gemeentes, leraars, orrelis/te en musiekbedieningspanne sal werklik op kreatiewe maniere moet nadink oor die voortbestaan van musiek en sang in die erediens – meer hieroor in die volgende bydrae.
Ek wil jou uitnooi om met my kontak te maak, indien jy op watter wyse deel wil wees van hierdie reeks oor sang en musiek in die erediens.
Suzanne van der Merwe
Sameroeper van die Erediens Netwerk
E-posadres: suzannekleynhans@gmail.com
Selfoonnommer: 073 684 4983