Toe Christus sterf, het ook die negende woord in die slag gebly: “Jy mag nie vals getuig teen jou naaste nie.” Ook nie teen of oor die gestorwe naaste; ons historiese voorgangers en hul tyd en konteks nie. Daarom moet ‘n kerk altyd bly waak by die bronne waarin die verlede – oor haar vergange lewe en hulle wat daarin gedeel het – neerslag gevind het: Notules en registers, dagboeke en briewe, foto’s en kaarte. Dáárin vind jy die spore “van Hom wat dáár teenwoordig was toe alles gebeur het, die Here aan Wie die Kerk behoort”, en dit stem mens tot nederigheid en ootmoed, aldus prof Dolf Britz, kerkhistorikus en kenner van die verskillende nasionale- en kerklike argiefbewaarplekke in Suid-Afrika. Op 12 September 2022 was hy die spreker tydens ‘n uitgebreide vergadering van die Argiefkomitee van die NG Kerk Vrystaat.
Prof Britz het op die noue band tussen die oudste argiefbewaarplekke, historiese biblioteke en teologiese opleiding in Noord-Afrika gewys, in oorde soos Alexandria en Timboektoe waar bronne uit die antieke wêreld – van vóór Christus en die eerste eeue van ons jaartelling – versamel is en beslag gegee het aan ‘n ryke intellektuele tradisie op ons kontinent. Hierdie argiewe “praat ‘n verskeidenheid van tale”, by wyse van spreke – Hebreeus, Grieks, Kopties, Latyn, Arabies, Portugees, Nederlands, Frans, Duits, Engels – maar metodologies ook ‘n “eie taal”. En in Suider-Afrika, later, ook Tswana en SeSotho en Afrikaans. ‘n Totale verskeidenheid wat stilgemaak word, argivalia gaandeweg stof laat vergaar en beleweniswêrelde verlore laat gaan as ‘n eensydige “dekolonialisering” die deurslaggewende uitgangspunt in nasionale beleid en by biblioteke word. “Moet ‘n argief nie losmaak van die bodem waaruit dit gegroei het nie.” Dít onderstreep volgens prof Britz die rol wat ‘n argiefbewaarplek soos dié van die NG Kerk Vrystaat in Bloemfontein kan speel. Aansluiting moet gesoek word by “fonteine en strome in die sentrale middeland”, soos die Campbell Collection aan die Universiteit van KwaZulu-Natal oor die geskiedenis van Duitse- en Amerikaanse sendelinge, die Corey Biblioteek met die argief van die sending te Lovedale en die Metodiste Kerk, die argiefbewaarplek van die Lesotho Evangelical Church te Morija, die Oorlogsmuseum en hul biblioteek in Bloemfontein en die Argief vir Eietydse Aangeleenthede aan die Universiteit van die Vrystaat. Dit was juis ‘n onderhandeling met laasgenoemde wat gelei het tot die oorbring van die Eddie Brown Historiese Pamflet-versameling van meer as 50 kartonhouers na ons Kerkargief; die oudste pamflet in hierdie versameling wat terugdateer na 1753! Prof Britz, as kurator van hierdie versameling, gaan saam met ‘n vrywillger wat haar by ons Kerkargief aangesluit het – Vonité van Vuuren – verantwoordelik wees vir die ontsluiting van hierdie kosbare pamflette oor die geskiedenis van die NG Kerk, verskeie gemeentes en sendingorganisasies.
Die vergadering van die Argiefkomitee is ook bygewoon deur ander kundiges soos dr Wyno Simes van NALN en dr Ruhan Fourie van die Departement Geskiedenis aan die UV en wat waardevolle insette gelewer het. Daar is onder andere besluit om die Kerkargief breër aan gemeentes bekend te stel, ‘n ope dag te reël en die uitgebreide sendingversameling – oor onder andere die meer as ‘n eeu se werk in Zambië (en wat volledig deur dr Jurie van Wyk gedigiteer is) onder die aandag van internasionale navorsers te bring. ‘n Eerste stap hiertoe, gaan die samestelling van ‘n behoorlike profiel van die Kerkargief wees, en ‘n besigheidsplan wat daaruit sal vloei. Prof Dolf Britz is versoek om ons hiermee by te staan. Intussen word gemeentes, kerkkantore en ringe herinner aan die groot belang van hul eie notules, registers en kosbare dokumentasie wat ingestuur en hier bewaar sal word – dáárin sal die nageslag eendag getuienis vind oor wie ons was en hoe die NG Kerk Vrystaat haar roeping hier verstaan en uitgeleef het. Maar méér nog: ‘n Getuienis van Hom wat belowe het om deur “al die dae” by ons te bly…