Die afgelope week het ‘n geskiedkundige vergadering in die kerk plaasgevind te Emseni in Kemptonpark. Dit was die jaarlikse Kerklike Maatskaplike Dienste-vergadering wat plaasgevind het. Dit is ‘n vergadering waar alle kerklike Maatskaplike diensorganisasies van die NG Kerk bymekaar kom en saam dink en praat oor maatskaplike werk. Wat hierdie vergadering besonders gemaak het, is die feit dat die betrokke organisasies die deur oopgemaak het om met kerkleiers in gesprek te tree oor missionale diakonaat en wat die verhouding tussen die kerk en die diens-organisasies behoort te wees.
Die gesprek is gelei deur dr Willie van der Merwe. Hy is in die besondere posisie om twee hoede gelyktydig te dra: Aan die een kant is hy ‘n opgeleide maatskaplike werker en aan die ander kant ‘n predikant. Hy is dus in die posisie om ‘n brug te kan help bou tussen hierdie twee bedienings/organisasies.
Uit die gesprek het dit duidelik geword dat beide kerk en diensorganisasies mekaar nodig het en dat hulle nie losstaande van mekaar kan funksioneer nie. Die groot uitdaging is om die verhouding tussen die twee partye te definieer. Dit het ook duidelik geword uit die gesprek dat daar krities nagedink moet word oor die rol en amp van die diaken in die gemeente, sowel as die rol van lidmate, maatskaplike werkers en leraars. Daar moet uitgeklaar word hoe onderlinge verhoudings werk en hoe dit bymekaar inskakel en mekaar aanvul.
Wanneer daar in ‘n post-covid tyd oor die geweldige nood in die wêreld gedink word, is dit ook nodig om geloofsonderskeidend te werk en onsself af te vra: Waar is die Heilige Gees reeds aan die werk en hoe kan die kerk by hierdie werksaamhede aansluit?
Daar is reeds gemeentes wat op ‘n kreatiewe manier besig is by die nood van mense. Die vraag is nie wat ons moet doen nie, maar eerder hoe leer ons bymekaar en hoe ondersteun ons mekaar om mense in nood te help en te versorg. Die dae is verby waar die diensorganisasies aan die een kant staan en die kerk aan die ander kant. Daar moet ‘n paradigmaskuif by ons almal plaasvind waar ons dink vanuit ‘n ons-hoek en hoe ons gesamentlik ‘n verskil in ‘n gebroke wêreld kan maak.