Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Merkwaardige Kerkargiefkonferensie

Eerste dokumente, Laaste dokumente

“Die verlede is ‘n ander land: waar is die pad wat daarheen voer? Die verlede is ‘n ander land, onbereikbaar in sy verte, en wat daaruit herwin kan word, wat daaruit behou kan word, dra jy met jou saam.”

 | Karel Schoeman
   Die uur van die engel

Op Woensdag 23 Augustus het die NG Kerk Vrystaat ’n Kerkargiefkonferensie met die tema Eerste dokumente, Laaste dokumente in die ouditorium van die Oorlogsmuseum in Bloemfontein aangebied. Tydens hierdie besondere konferensie is daar op enkele van die mees historiese dokumente oor die verhaal van ons kerkfamilie in Suider-Afrika gefokus. Dit is bygewoon deur talle kerkhistorici, navorsers, leraars, teologiestudente en ander belangstellendes.

Ons het by ds Jan Lubbe, kerkhistorikus en voorsitter van die Kerkargiefkomitee van die NG Kerk Vrystaat, gaan uitvind waarom dit so belangrik is om van dié argief kennis te neem.

“Jou eie lewensverhaal is deel van ’n heel groter verhaal. Argiefbewaarplekke behoort ruimtes te bied waar mense tot selfontdekking kom. Nie net lidmate nie, maar ook mense wat in genealogie, eiendomme en argitektuur belangstel, kan hier kosbare inligting vind.

“Die NG Kerkargief in Bloemfontein is al byna 60 jaar oud met ’n versameling van kosbare, unieke bronne. Dit was in die laat-1950’s toe die kerk besluit het dat argiefversamelings en kosbare dokumente van gemeentes bewaar en beskerm moet word. Die Kerkargief is dus ’n belangrike bron van dienslewering aan gemeentes en hierdie band moet bevestig word en bly; die konferensie was ’n noodsaaklike middel tot hierdie doel.

“Buiten doop- en lidmaatregisters van gemeentes (tot sover terug as die 1840’s), gemeentegeskiedenisse, dokumentasies oor kerkraadsbesluite, ensovoorts is daar ook kosbare dokumente wat aan die NG Kerk Sinode Vrystaat behoort. Daaronder tel byvoorbeeld die notule van die eerste sinodesitting uit 1865.

“Ons het ook ’n baie groot sendingversameling wat onder andere ons bande met die kerk in Lesotho en ’n unieke versameling van die sendingwerk in Zambië bevat. Die NG Kerk Vrystaat het in 1898/99 met sendingwerk in Zambië begin en ons susterskerk wat hieruit ontstaan het, is die Reformed Church in Zambia (RCZ) met wie ons steeds noue ekumeniese bande handhaaf. Ons was juis ’n maand gelede weer daar op besoek.

“Ons Kerkargief bevat ook ’n versameling van die geskiedenis van die barmhartigheidswerk van die NG Kerk Vrystaat; dit bewaar onder andere al die dokumentasie oor byvoorbeeld die kinderhuise, iets wat van groot publieke belang is.

“Die geskiedenis van ons teologiese opleiding, wat al meer as ’n halfeeu oud is, se dokumentasie word ook in die argief bewaar. Ons het ’n groot versameling historiese boeke, soos ’n Luther-Bybel uit die 17de eeu, asook persoonlike versamelings van predikante en dosente wat die afgelope eeu ’n belangrike rol in die geskiedenis van die Vrystaatse Kerk gespeel het.”

Die verloop van die Kerkargiefkonferensie

Jan vertel: “Die konferensie op 23 Augustus was bedoel om ons werk in en rondom die Kerkargief bekend te stel en ons was aangenaam verras deur die goeie opkoms. Twee kerkhistorici wat aan die Universiteit van die Vrystaat en die Theologische Universiteit Kampen verbonde is, het hul navorsing oor die oudste Kaapse dokumente gedeel. Prof Dolf Britz se boek, Die Begin. God en religie in die fort van Goede Hoop, wat op die ou Dagregisters uit die 1650’s berus, is bekendgestel en prof Erik de Boer het vertel van die fassinerende inligting wat uit Die ander oudste dokument van die Kaapse Kerk: Die Diakonaat oor die versorging van armes en weeskinders uit daardie eerste jare bekom is.

“Die tweede sessie het gehandel oor twee van die oudste dokumente uit die Vrystaatse sendinggeskiedenis. Onder die titel Magwero/Oorspronge het dr Jurie van Wyk die eerste na-oorlogste notule van die Buitelandse Sendingkommissie vir Zambië (November 1902) toegelig. Ekself het oor die eerste notule van die NG Zendingskerk uit Maart 1910 gepraat en dit het ’n interessante bespreking oor die naam van dié kerk ontlok en natuurlik die verhouding met die ‘Moederkerk’ deur die volgende dekades.

“Ná ’n kort verposing en ’n insiggewende video van die Oorlogsmuseum oor hul biblioteek, versameling en navorsing, het ons ’n besondere Vrystaatse tema onder leiding van prof Lindie Koorts hanteer. Dr Gideon van der Watt het die onderwerp, Huiwerend oor leegtes. Karel Schoeman as Sendinggeskiedskrywer, aangebied en prof Johann Rossouw het met twee aangrypende voorlesings uit Schoeman se ’n Ander Land en Die uur van die engel afgesluit. Dat Schoeman soveel van sy navorsing in argiewe gedoen het, is opnuut uitgewys asook sy keuse om meestal oor randfigure in die destydse samelewing te skryf.  

“Die konferensie is afgesluit met die oorhandiging van ’n ‘vriendeboek’ aan prof Britz by geleentheid van sy 70ste verjaarsdag die dag vóór die konferensie, en versorg deur ’n redaksie saamgestel deur die Colloquium Historiae Ecclesiasticae.”

Ten laaste, ’n woord van waardering uit Stellenbosch

Dr Andrew Kok, bestuurder van die NG Kerkargief op Stellenbosch, wat ongelukkig nie die konferensie kon bywoon nie, laat weet: “In die onderskeie reglemente van die kerkargiewe word dit onderstreep dat hulle moet dien as die getuienisse oor die handelinge van God Drie-enig in en deur sy kerk in ’n bepaalde gebied.

“Saam met Dawid (soos in Psalm 143:5) roep die kerkargiewe dan gelowiges op om te dink aan die ‘verre verlede’, te ‘peins oor alles’ wat God gedoen het en om oor God se handewerk na te dink. Dit het dan ook die bevordering van die bekendstelling van die geskiedenis van die kerk as geheel ten doel. Met die aanbied van ’n kerkargiefkonferensie, soos die een wat pas in Bloemfontein afgeloop het, word daar ook uitmuntend daarin geslaag om nuwe inligting bekend te stel.

“Die hoogtepunt was dan ook die bekendstelling van die boek Die Begin. God en religie in die fort van Goede Hoop deur prof Dolf Britz waarin die storie van die beginjare van die kerk aan die Kaap vertel word. In noue samehang hiermee is ook die eerste diakonaatboeke waar prof Erik de Boer navorsing gedoen het oor die barmhartigheidswerk van die vroeë kerk aan die Kaap. Die Vrystaatse Kerk se sendingwerk, veral in Noord-Rhodesië (Zambië), is van groot belang en het ook onder die vergrootglas gekom.

“Die Vrystaatse Kerkargief moet gelukgewens word met die aanbieding van hierdie konferensie en die geleentheid wat aan lidmate, kerkleiers, akademici en historici gegee is om meer te leer oor die wonderlike skatte wat in kerkargiewe opgesluit lê.”

Kontak

Vir meer inligting kan ds Jan Lubbe by 082 784 9362 of janlubbe1964@gmail.com gekontak word. Ds Lubbe is ook leraar van die NG Kerk Berg-en-Dal in Bloemfontein en voorsitter van die NG Kerk Sinode Vrystaat se moderamen.

 | verskaf: NG Kerk Vrystaat

116 | Maatskaplike NOODLYN