Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

LIEFDESVERBOND – ’n Gesprek met emeritus-prof John de Gruchy, Volmoed-retreatsentrum

Die Gemeentediens Netwerk, met verteenwoordigers uit die NG Kerk, die Hervormde Kerk en die Lutherse Kerk, het onlangs ’n besoek van drie dae gebring aan die Volmoed-retreatsentrum naby Hermanus om gesprekke te voer met prof John de Gruchy, voorheen teoloog aan die Universiteit van Kaapstad, na aanleiding van sy jongste boek, This Monastic Moment.

De Gruchy se uitgangspunt is dat die kerk weereens by ’n krisis-oomblik in haar voortgaande geskiedenis is. Ons moet opnuut kyk na wat van ons ’n liefdesgemeenskap maak en vernuwing bring deur bepaalde toewydings te maak. De Gruchy beskryf hierdie toegewyde gemeenskaplike/gemeentelike bestaan as ’n bewuste, intensionele gemeenskap.

Inspirasie vir hierdie bewuste toewyding kan gevind word in die gemeenskapslewe van die vroeë woestynvaders, asook die kloostertradisie van die vroeë Christelike kerk wat daaruit voortgespruit het, meen De Gruchy. In hierdie “monastiese momente” is daar telkens ’n keuse gemaak vir radikale toewyding en vernuwing in reaksie op die verstarring en vervlakking in die kerklike lewe van die bepaalde tydvak. Die keuse het telkens gelei tot die vorming van ’n meer intensionele gemeenskap. Op Volmoed is die lewe van die gemeenskap verryk deur die koms van ’n groep Benediktynse broeders wat volgens die kloosterreël van Benedictus leef en die daaglikse ritmes van gebed, studie en werk volg. De Gruchy verwys na hierdie kloosterreël as ’n liefdesverbond wat die onderlinge bestaan in ’n bepaalde gemeenskap reël.

Na aanleiding van hierdie Benediktynse reël het die gemeenskap van Volmoed hul eie reël of liefdesverbond oor ’n tydperk ontwikkel om hul onderlinge bestaan te lei en te rig. Die volgende vrae is in hierdie proses gevra:

  1. Wie is ons?
  2. Wat is ’n verbond? Dit is om in verhouding met God te tree.
  3. Toewyding/commitments:
  • Volg Jesus
  • Wat beteken dit vir ons?
    • Toewyding aan hierdie plek (stabiliteit, familiewoning, kerklidmaatskap, pas jou plek op, toewyding aan die mense in jou gemeenskap)
    • Inklusief, ekumenies, verwelkomend
    • Alle ouderdomme, inter-generasioneel: werkendes, afgetredenes, jong kinders, jeugprogram
    • Toewyding, sorg betoon aan mekaar

Daar is geen pasklaar-patroon om so ’n proses in ’n gemeente of gemeenskap aan die gang te sit nie, sê De Gruchy. Elke situasie is uniek. MAAR: Die hele gemeente moet inkoop in die proses. Die ideaal is lewenslange toewyding: Intensioneel, doelgerig, bewus. Skep ’n nuwe paradigma: “Verbeel” ’n nuwe gemeenskap. Hoe “verbeel” ons hierdie gemeenskap? Wat is ons intensie indien ons praat van ’n intensionele gemeenskap?

Onderskeiding

Ons moet gereeld toets en onderskei of ons nog hou by die “liefdesverbond” wat ons geformuleer het. Hoe lyk kommunale onderskeiding? De Gruchy verwys na die vergadering wat beskryf word in Handelinge 15, waar konsensus oor ’n moeilike saak bereik moes word: “Die Heilige Gees en ons het besluit …”. Die basis vir konsensus is die bewustheid dat die gemeenskap deur God gelei word.

BENEDIKTYNSE KLOOSTERREËL (Rule of St Benedict)

In die gesprek met De Gruchy het verskeie elemente van die Benediktynse Reël ter sprake gekom. Die “chapter meeting” is ’n daaglikse byeenkoms waartydens telkens ’n ander hoofstuk (sg. kapittel) van die kloosterreël gelees word om die herinnering aan en die werking daarvan vars te hou. Dit kweek ’n bewustheid dat die Gees die leiding neem in die uitvoering van die eise van die dag. Wat die formulering van ’n liefdesverbond in gemeente-verband betref, maan De Gruchy dat daar ook geluister moet word na die jong stemme, hulle bring dikwels ’n nuwe perspektief in. Ons moet voortdurend vra: Wat wil die Heilige Gees ons laat hoor?

Kerkrade

Kerkraadsvergaderings is tans nog dikwels hoofsaaklik besigheidsvergaderings, min geleentheid word geskep om stil te word en te luister wat op God se hart is vir die gemeente. Hier is transformasie nodig, die kerkraad moet hul rol in ’n nuwe lig sien, naamlik as uitvoerders van God se wil vir die gemeente. Kerkrade kan dit oorweeg om saam op retreat te gaan om stil te word en hulle daarop in te stel om God se stem te hoor. Kweek die vermoë aan om na mekaar te luister ten einde die stem van die Heilige Gees te hoor. Die kerkraad is van kritieke belang in hierdie verband.

VERBONDSREËL/LIEFDESVERBOND VIR DIE GEMEENTE?

Hoe kan so ’n reël of liefdesverbond vir ’n gemeente geskep word? De Gruchy noem ’n paar punte wat aangepas kan word by die behoeftes en omstandighede van ’n bepaalde gemeente:

  • Onderskei ’n ANKERTEKS vir die fokus en aktiwiteite van die gemeente, soek ’n skrifdeel wat spreek tot die gemeente se unieke konteks.
  • Op VOLMOED kom die personeel soggens voor werk bymekaar waar daar geluister word na mekaar se lewe/verhale. Elkeen het ’n stem en word gehoor. Dié gedagte kan aangepas word in ’n gemeente.
  • Skep ’n konsep (draft) van ’n liefdesverbond, bou dit uit en ontwikkel dit verder met verloop van tyd.
  • DROOM: ’n Gemeenskap van volgelinge van Jesus. Moenie die droom kwytraak nie. “Die jong manne sal drome droom, die ou manne sal visioene sien.” Christus heers, onderskei Christus se heerskappy in die gemeente.
  • “Embody the monastic moment” / beliggaam die kairos-oomblik, “gathering up all things”, sê De Gruchy, verwysend na Ef 1:9-10: “Hy het die geheimenis van sy wil aan ons bekendgemaak, soos hy dit goedgedink en in Christus voorgeneem het, om die volheid van die tyd te bestuur, en om alle dinge – die dinge in die hemel en die dinge op die aarde – onder een hoof in Christus saam te bring.” Skep ’n woordeskat van spiritualiteit, van reformasie, van die klooster in die wêreld, sê De Gruchy.

Hy haal Bonhoeffer aan, wat in Letters from Prison ’n vergelyking tref tussen Bach se musiek en die wyse waarop die kerk in verhouding met die wêreld verkeer: In die polifonie of veelstemmigheid van die musiek word onderliggende steun verleen deur die melodielyn, die CANTUS FIRMUS. As die cantus firmus sterk is, is daar polifonie terwyl die cantus firmus alles bymekaar hou. As dit swak is, val alles uitmekaar.

Christus is die cantus firmus van die kerk. Hoe word die cantus firmus in stand gehou? Deur dissiplines (geloofspraktyke) en dissipelskap. Die cantus firmus is die verborge dissipline. Dit is die lewensbloed, die hart van die lewe van die kerk. Dissiplines soos gebed, skrif-oordenking en ander geloofspraktyke en -ritmes hou die daaglikse bewussyn lewendig dat ons ‘n kerk van Christus is. “Keep the discipline and the discipline will keep you,” sê De Gruchy, en wys op die vertrekpunt van gemeenskaplike dissipelskap of gemeenskapsdissiplines vanwaar die kerk met die wêreld in interaksie tree. Dit kom reeds uit die katakombe-tyd, ook die latere monastiese tyd in die woestyn.

De Gruchy oordeel dat ons nou weer is waar die kerk in die 4e eeu was. Wat beteken Christus vir die wêreld? Nou, in hierdie tyd? Vanuit die bewustheid dat ons altyd die kerk van Jesus Christus is, behoort daar protes te wees teen die verstarde gevestigde kerk en gevolglike misstande in die gemeenskap. Die identiteit van die kerk moet in die wêreld gehandhaaf word. Die grondslag waarop ons met die wêreld in interaksie tree, is inklusiwiteit in Christus. Die kerk is nie ’n eksklusiewe klub nie. Deur die eeue, regdeur die geskiedenis van die kerk, was daar kontroversies en skeuringe in die kerk, ook op klein skaal in byvoorbeeld kerkrade – op grond van politiek/taal/persoonlikhede. Hoe handhaaf ons eenheid in die aangesig van skeuring? Daar word dikwels aanvaar dat die gesagsfigure en gesagsliggame die simbool van eenheid in die kerk is. Die tradisionele siening is dat gesag gesetel is in persone/dokumente/verklarings. MAAR: Wie lei die kerk? Christus of die sinode? Wie het die laaste sê? Waar is Christus in al hierdie dinge?

Die kerk, sowel as individue, is die beliggaming van Christus. Dink nuut, sê De Gruchy, dink transformerend en reformatories – volg die kerklike tradisie van altyd weer hervorm. Ons missie is om God en Christus in alle opsigte te beliggaam.

Hoe kan die kerkgebou bruikbaar gemaak word as simbool van betrokkenheid by die wêreld?

In sekere kerke is daar daagliks bedrywighede, kore wat sing en ander aktiwiteite – nie toe deure nie. Dit wat sigbaar en beleefbaar is, het ’n sterk effek, meen De Gruchy, en verwys na Bonhoeffer wat ’n probleem gehad het met die Pruisiese kerk waarin hy gebore is, waar die kerkgeboue net op Sondag oop was vir die dominee se preek.

Wie was Benedictus?

Sint Benedictus van Nursia (480-543 nC) staan ​​bekend as die vader van die Westerse kloosterwese. Die Kloosterreël van Benedictus (Benedictine Rule), wat hy geskryf het vir die ordening van die geloofsgemeenskappe wat hy gestig het, het later die grondslag gevorm van die kloosterreël van byna elke groot Westerse kloosterorde. Die Benediktynse geloofsgemeenskappe het die klassieke en Christelike kennis gedurende die vroeë Middeleeue, algemeen bekend as die Donker Middeleeue, bewaar en die sentrum van die liturgiese lewe vir hul omliggende gemeenskappe geword. Middeleeuse landbou, hospitale en opvoedkundige instellings het hul oorsprong in die Benediktynse tradisie.

 | Verskaf deur: ds Barnard Steyn