Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Lente-retraite in Philippolis – ruimte vir nuwe lewe

Deur Mariëtte Odendaal

“Soms is die grootste geskenk wat ons vir mekaar kan gee, bloot ’n veilige ruimte waarin ons kan stil word, luister en ontvanklik kan wees vir die lewe waarmee God reeds in ons en rondom ons aan die werk is.”


Ds Louwrens Scheepers
Aanbieder van die Lente-retraite

As jy skielik op ’n helder sonskyndag ná die strawwe winter die eerste botsels van lemmetjiegroen blare in jou tuin opmerk, weet jy: die lente is hier!

Dit geld nie net vir die natuur nie, maar ook vir ons gemoed en binnewêreld. Daarom was die onlangse Lente-retraite in Philippolis van soveel waarde vir die predikante wat dit bygewoon het.

Ons het meer daaroor gaan uitvind by ds Louwrens Scheepers wat dit aangebied het.

Louwrens, waarom het jy gevoel jy wil graag so ’n retraite aanbied?

Lente staan in die teken van nuwe lewe. Hier in Philippolis is die koms van die lente ná die lang, droë winter ’n besondere ervaring. Skielik begin die natuur weer lewe toon waar alles vir maande dor en leweloos gelyk het.

Die Lente-retraite sluit by hierdie ritme van die natuur aan. Philippolis is ’n besondere plek waar oud en nuut mekaar ontmoet, waar die stilte met jou praat en waar nuwe lewe dikwels onverwags uit die droogte te voorskyn kom.

Dit skep ’n uitnodiging om ook oor ons eie lewens stil te word. Om raak te sien wat besig is om tot ’n einde te kom, maar ook om oop te wees vir die nuwe lewe wat dalk reeds, soms ongemerk, in ons begin groei.

Wat was die hooftemas en aktiwiteite van die aanbieding?

Die program is gebou rondom drie daaglikse ritmes van gesamentlike stilte om agtuur in die oggend, twaalfuur die middag en om sesuur saans. Hierdie stilwordtye het plaasgevind in ons pragtige historiese NG Kerkgebou, wat self iets van die karakter en geskiedenis van Philippolis dra.

Die middaggeleentheid om twaalfuur was ook oop vir die hele dorp. Dit bied ’n eenvoudige ruimte van stilte en musiek waar enigeen welkom was om vir ’n oomblik uit die gejaagdheid van die dag te kon stil word in die gewyde ruimte van ons kerk.

Tussen hierdie gesamentlike stilwordtye is daar altyd ruimte vir persoonlike nadenke, rus en om die stilte en besondere omgewing van Philippolis te beleef. Die klem val nie op ’n vol program nie, maar juis op die skep van ruimtes waarin mense kan luister, bewus word van om in die oomblik te wees en opnuut met God, hulleself en die lewe rondom hulle in aanraking te kan kom.

So ’n besondere wegbreektyd moet baie vir predikante beteken, né?

Ja, beslis. Ds Nadine van Rooyen, predikant van Rouxville, het ná die ervaring die volgende gedig  met die windpomp as metafoor van ons afhanklikheid, ons doel in die lewe en ons verhouding met God geskryf:

 windpomp so statig en stil
afhanklik van die wind wat waai wanneer hy wil
met ratte wat skreeu en gil
net dalk ’n teken van ’n eensame spil

windpomp, so statig en stil
besig om steeds die dam te vul
soekend, afwagtend sonder om te kul
strome van lewe wat deur jou pype krul

windpomp; statig en stil
geduldig tot Gods ontwil
braaf genoeg om tog te verskil
soms is dit juis ’n bittere pil

ja, ou windpomp, so statig en so stil

En wat het die retraite vir jou beteken, Louwrens?

Dit bly vir my ’n ongelooflike voorreg om ruimtes te skep waar mense kan stil word en weer met hulleself, die wêreld rondom hulle en God in kontak kan kom.

Ons leef in ’n wêreld vol geraas, verwagtinge en voortdurende besigwees. Dikwels is daar so min ruimte om bloot teenwoordig te wees en aandag te gee aan wat in en rondom ons gebeur.

Wat my telkens tydens hierdie retraites tref, is dat ons nie noodwendig nog woorde, antwoorde of aktiwiteite nodig het nie. Soms is die grootste geskenk wat ons vir mekaar kan gee, bloot ’n veilige ruimte waarin ons kan stil word, luister en ontvanklik wees vir die lewe waarmee God reeds in ons en rondom ons aan die werk is.

Vir meer inligting kontak ds Louwrens Scheepers by louwrens@integernetwork.com