Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Kroniese Kronieke – narratiewe van ’n nuwe normaal Stadium 5-nierversaking met hemodialise

Deur dr Suzanne van der Merwe,

besigheidshoof en woordvoerder van Kroniese Kronieke

Wanneer drie dae van elke week aan lewensondersteuning behoort

Hierdie artikel bied inligting vanuit Kroniese Kronieke se voortgaande navorsing oor die persoonlike ervaring van kroniese siekwees. Die fokus val op selfbestuur, ondersteuning deur versorgers en professionele persone, en die werks- en gemeenskapsruimtes waarin mense met kroniese siektes leef. Vanuit ’n waardegedrewe raamwerk wat ook binne geloofskringe resoneer, word wetenskaplike kennis en persoonlike verhale in gesprek gebring.

Dr Suzanne van der Merwe (Besigheidshoof en Woordvoerder: Kroniese Kronieke) in samewerking met Johan Jansen van Vuuren (Navorsingsdeelgenoot)

“Tot hiertoe en nie ’n tree verder nie. Ek neem jou nou hospitaal toe.”

Met dié woorde het Johan Jansen van Vuuren se lewensmaat op 7 Mei 2025 ingegryp. Johan se vel het ondraaglik gejeuk, sy enkels was geswel, en aanhoudende naarheid en braking het hom uitgeput. In die hospitaal het die nefroloog, ’n nierspesialis, die diagnose oorgedra: Stadium 5-nierversaking. Dialise moes onmiddellik begin.

Volgens die mediese terugvoer was Johan se nierfunksie ongeveer ses persent en die skade permanent. Op hierdie stadium kan die niere nie meer afvalstowwe en oortollige vloeistof voldoende verwyder of die liggaam se chemiese balans handhaaf nie. Hemodialise neem ’n deel van hierdie werk oor: die bloed beweeg deur ’n dialiseerder buite die liggaam, word gefiltreer en keer daarna na die liggaam terug. Dit genees nie nierversaking nie, maar hou die lewe in stand.

Omdat behandeling dringend nodig was, is ’n sentrale veneuse dialisekateter in ’n groot aar in Johan se nek- en borsgebied geplaas. Sy eerste sessie van ongeveer vier uur het dieselfde aand begin.

“Ek kan nie beskryf hoe dit voel wanneer jy jou bloed deur die pypies uit jou liggaam sien vloei nie,” vertel hy. Die masjien was nie net onbekende tegnologie nie; dit het ook die skielike besef verteenwoordig dat sy voortbestaan nou van herhalende behandeling afhanklik sou wees.

Vandag word Johan se week deur ’n vaste ritme bepaal: hemodialise op Maandae, Woensdae en Vrydae. Voor elke sessie word hy geweeg, en sy bloeddruk en algemene toestand word nagegaan. Daarna volg die aansluiting en ongeveer vier uur langs die masjien. Reistyd, wagtyd, voorbereiding en herstel beteken egter dat dialise veel meer as twaalf uur van sy week opeis.

Die dag ná dialise is dikwels ook nie ’n gewone dag nie. Johan ervaar erge moegheid en naarheid en moet gereeld ’n groot deel daarvan rus. Tydens sommige sessies daal sy bloeddruk, en kan hy duiselig, sweterig en baie swak voel. Jeuk, krampe en hoofpyn kan verdere ongemak veroorsaak. Sommige dae sien hy kans vir die behandeling; op ander voel dit soos “’n onoorkombare berg”.

Hierdie onsigbare dimensie strek verder as fisieke simptome. Dialise beïnvloed sy emosies, produktiwiteit, verhoudings, werk en vermoë om vooruit te beplan. Hy was wel terug by die werk, waar sy werkgewer hom ondersteun en die nodige ruimte vir die drie weeklikse sessies gebied het. Dit het hom gehelp om steeds meer as net ’n pasiënt te wees.

Selfbestuur het intussen deel van elke dag geword. Johan moet sy vloeistofinname, voeding, medikasie, gewig en simptome noukeurig bestuur. Sy sogenaamde drooggewig – sy gewig sonder oortollige vloeistof – help die dialisespan bepaal hoeveel vloeistof tydens behandeling verwyder moet word. Te vinnige of oormatige vloeistofverwydering kan onder meer lae bloeddruk, naarheid en krampe veroorsaak. Daarom is sy eie waarneming en kommunikasie met die behandelingspan belangrik.

Die dialisekateter moet ook noukeurig teen infeksie beskerm word. Maandelikse bloedtoetse bied aan Johan ’n manier om sy behandeling saam met die mediese span te volg. Hy vergelyk die uitslae en stel persoonlike doelwitte. Selfbestuur beteken hier nie dat hy vir die siekte verantwoordelik is nie, maar dat hy binne ernstige beperkings aktief aan sy versorging deelneem.

Hy doen dit nie alleen nie. Sy lewensmaat vervoer en bemoedig hom; sy ouers en ander ondersteun hom; en sy mediese fonds dra die groot finansiële koste van behandeling. Ondersteuning word sigbaar in praktiese teenwoordigheid: vervoer, geduld, luister en begrip wanneer sy liggaam of behandelingsprogram planne verander. Tydens dialise lees Johan geestelike materiaal, dink hy en bid hy. Hy beskryf dialise as ’n “tweede kans” – nie omdat die behandeling maklik is nie, maar omdat dit hom aan die lewe hou. Sy geloof ontken nie die trane of die dae waarop hy nie wil gaan nie. Dit help hom om die behandeling stap vir stap te ontvang en sy vrees aan God toe te vertrou.

Daar is nou ook ’n nuwe, konkrete vorm van hoop: Johan is in die finale proses om goedkeuring vir ’n nieroorplanting te ontvang. ’n Oorplanting is nie ’n eenvoudige of gewaarborgde uitkoms nie, maar die moontlikheid open ’n ander horison. Intussen is dialise nie bloot ’n wagtyd waarin sy lewe uitgestel word nie. Dit is die moeilike, gedissiplineerde ritme waardeur hy vandag leef.

Johan deel sy verhaal omdat hy self nie voorheen besef het hoeveel hemodialise van ’n mens vra nie. Sy nuwe normaal word gekenmerk deur verlies, afhanklikheid en uitputting, maar ook deur werk, ondersteuning, geloof en hoop. In hierdie ritme van drie behandelings per week bly hy meer as sy nierfunksie, meer as die masjien en meer as ’n pasiënt wat op ’n oorplanting wag.

Lees Johan se volledige persoonlike verhaal en verdere inligting oor Stadium 5-nierversaking en hemodialise op die Kroniese Kronieke-webblad.

Oorweeg jy dit om jou verhaal met Kroniese Kronieke te deel?

Kontak dr Suzanne van der Merwe by suzanne@kroniesekroniekeonline.com

Vir meer inligting kan jy hul webwerf besoek.  

Volg hulle op Facebook en YouTube.

Kry die Kroniese Kronieke-boek, Lamentoso, te koop op die aanlyn-winkel.