Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Kroniese Kronieke – narratiewe van ’n nuwe normaal Mites oor kroniese outo-immuunsiektes

Deur dr Suzanne van der Merwe,

besigheidshoof en woordvoerder van Kroniese Kronieke

Wanneer wanopvattings die las swaarder maak 

 Die las van ’n kroniese outo-immuunsiekte lê nie net in die ervaring van simptome nie, maar ook in die wanopvattings daaroor. Hierdie Vrypos-artikel sluit aan by Kroniese Kronieke se werk rondom selfbestuur, ondersteuning deur versorgers en professionele persone asook die werk- en gemeenskapsruimtes waarin mense met kroniese siekte leef. 

Drie wanopvattings staan hier sentraal: dat ’n goeie voorkoms beteken dat iemand goed voel; dat wat gister moontlik was, vandag ook moontlik moet wees; en dat daar ’n eenvoudige oplossing behoort te wees wat die persoon net nog nie probeer het nie. Elkeen kan die las van siekwees verswaar. Verantwoordbare kennis, ruimte vir mense se eie ervaring en ’n ondersteunende gemeenskap kan dié aannames help deurbreek. Binne Kroniese Kronieke se waardegedrewe raamwerk word wetenskaplike kennis en persoonlike verhale saamgelees: kennis help ons om siekte te verstaan; verhale wys hoe mense daarmee leef. 

Dr Suzanne van der Merwe, Besigheidshoof en woordvoerder van Kroniese Kronieke, in samewerking met Matilda Swanepoel, navorsingsdeelgenoot van Kroniese Kronieke.

Mite 1: As jy goed lyk, voel jy goed 

 

Stel jou die volgende voor. Jy daag op by ’n familiebyeenkoms, by die werk of by die kerk. Jy het aangetrek, jouself versorg en met moeite gereedgemaak om daar te wees. Iemand sê: “Jy lyk goed! Dit gaan seker nou baie beter?” 

 

Jy weet die woorde is vriendelik bedoel. Tog huiwer jy. Hoe verduidelik jy dat aantrek reeds ’n inspanning was wat jou moeg gelaat het? Dat jou hande, gewrigte, skouers en arms pyn en dat jy met moeite op jou voete staan? Jy is bly om almal te sien, maar wonder reeds hoe lank jy sal kan bly. Jy glimlag eerder as om te antwoord. Om alles te verduidelik vra ook energie en daarvan het jy min oor. 

 

Vir iemand met ’n outo-immuunsiekte kan sulke ontmoetings die afstand beklemtoon tussen wat ander sien en wat jyself beleef. Die eerste wanopvatting ontstaan wanneer ’n versorgde voorkoms as bewys van gesondheid beskou word. Daaruit kan verwagtings groei oor wat jy behoort te kan ,en selfs oordele word so geskep oor jou ingesteldheid, betroubaarheid of bereidwilligheid om deel te neem. Dan dra jy nie net die simptome nie, maar ook die las om telkens te verduidelik wat ander nie kan sien nie. Soms voel dit makliker om die aanname te aanvaar as om weer jou siekwees te moet verduidelik. 

 

Outo-immuunsiektes rig deur die immuunstelsel ’n aanval teen die liggaam se eie gesonde selle of weefsels. Hierdie groep sluit uiteenlopende siektes in soos rumatoïede outo-immuunsiekte, Crohnsiekte, lupus en Tipe 1-diabetes. Die aangetaste liggaamsdele, simptome en behandeling verskil. Een persoon se ervaring kan dus nie sommer as maatstaf vir iemand anders gebruik word nie. Hierdie verskille verklaar waarom ’n persoon se voorkoms nie as ’n betroubare aanduiding van hul ervaring gebruik kan word nie. 

 

Ook binne dieselfde diagnose kan mense se ervarings sterk verskil. By rumatoïede artritis kan pyn, styfheid en swelling saam met moegheid voorkom; die siekte kan ook probleme buite die gewrigte veroorsaak. Daarom vertel ’n versorgde voorkoms min van wat iemand werklik beleef. Die woorde “Jy lyk goed” kan steeds ’n welkome kompliment wees. Die probleem ontstaan wanneer ons daaruit aflei hoe iemand voel en wat hulle behoort te kan doen. Iemand kan lag terwyl hulle pyn het, of ’n aangename gesprek geniet en dit steeds uitputtend vind. Die vreugde van die oomblik en die werklikheid van siekwees kan langs mekaar bestaan. 

 

’n Eenvoudige vraag laat meer ruimte: “Hoe gaan dit vandag werklik met jou?” Dit vra ook die bereidheid om na die antwoord te luister selfs wanneer dit anders klink as wat jy verwag het. 

Mite 2: As jy dit gister kon doen, kan jy dit vandag ook doen 

 

“Maar gister kon jy dit doen.” ʼn Tweede wanvoorstelling wat gister se vermoë met vandag se moontlikhede verwar. Dit neem aan dat iemand met ’n kroniese siekte elke dag dieselfde behoort te voel en te kan doen. 

 

Gister kon jy saamgaan winkel toe. Vandag kanselleer jy ’n kuier. Verlede week het jy ’n taak afgehandel. Hierdie week vra jy hulp. Vir iemand wat van buite kyk, kan dit teenstrydig voorkom. Simptome van outo-immuunsiektes kan egter vinnig wissel. Opvlammings is onvoorspelbaar. Hoe die siekte verloop, verskil van persoon tot persoon en van dag tot dag – hierdie tydperke kan selfs korter wees.  

 

Dié wisseling kan beplanning vir die persoon met ’n kroniese siekte onseker maak. Jy wil graag ja sê, maar weet nie hoe jy daardie oggend sal voel nie. Jy wil betroubaar wees, maar kan nie jou liggaam se samewerking waarborg nie. Wanneer ander dit as wispelturigheid of ’n gebrek aan belangstelling vertolk, kan skuldgevoelens bykom. Dan word die vraag “Wat kan ek vandag hanteer?” verdring deur “Hoe bewys ek dat ek regtig probeer?” 

 

Selfbestuur van kroniese siekwees vra dat ’n mens jou vermoë leer ken binne die beperkings en uitdagings wat die siekte stel en verantwoordelike keuses daarbinne maak. Dit kan beteken dat jy rus inbou, vroeër vertrek, hulp vra of ’n plan verander. Soms is ’n kleiner deelname die manier waarop jy steeds betrokke kan wees. Naastes kan hierdie ruimte help skep: “Ons sal bly wees as jy kan kom. Laat weet hoe dit met jou gaan; ons kan die plan aanpas.” So ’n uitnodiging gee iemand ruimte om eerlik te antwoord sonder dat hulle deelname aan die groep op die spel geplaas word. 

Mite 3: Daar moet ’n eenvoudige oplossing wees 

 

“Daar moet tog iets wees wat help.” Wanneer iemand vir wie ons lief is aanhou swaarkry, soek ons oplossings. ’n Dieet, aanvullings, nuwe behandelings of iemand anders se suksesverhaal bied iets om aan vas te hou. Die begeerte om te help, is verstaanbaar. Die derde wanopvatting lê nie in die hoop dat behandeling kan help nie, maar in die aanname dat daar ’n eenvoudige oplossing is wat die persoon net nog nie probeer het nie. “Jy moet dit net probeer” kan dan soos ’n verwyt klink: as jy steeds siek is, doen jy dalk nie genoeg nie. 

 

Ondersteunende leefgewoontes het ’n plek. By rumatoïede artritis word toepaslike beweging, rehabilitasie en voedingsbenaderings binne ’n omvattende behandelingsplan oorweeg saam met siekte-modifiserende medikasie. Saam bied dit soms geen eenvoudige verbetering van lewenskwaliteit nie. Alternatiewe produkte en behandelings behoort altyd met die gesondheidspraktisyn bespreek te word en nie in sitkamers en haarsalonne gepropageer te word nie.  

 

Met mediese behandeling kan siektebeheer en lewensgehalte verbeter, maar die uitkoms verskil steeds volgens die siektetoestand en die persoon. Dat iemand behandeling ontvang, beteken dus nie dat alle simptome of beperkings vanself verdwyn het nie. ʼn Kroniese siekte dui juis op die blywende aard daarvan. 

 

Die persoon het moontlik reeds baie probeer, saam met professionele persone keuses oorweeg en teleurstellings verwerk. Aanhoudende raad kan dié ervaring miskyk en nog druk byvoeg. Eerder as om op ’n bepaalde produk of gewoonte aan te dring, vra: “Is daar vandag iets waarmee ek jou kan help?” 

 

Ook geloofstaal vra sorg en nie oordeel nie. “Jy moet net sterker glo” of “Jy kom darem werklik min in die kerk” kan iemand laat wonder of voortgesette siekwees ’n geestelike tekort openbaar. Binne Kroniese Kronieke se pastorale benadering wil ons ruimte gee vir geloof wat bid, kla, vra en aanhou hoop. Ondersteuning behoort iemand se waardigheid te bevestig en nie kroniese siek persone voor mens en God aan te kla nie. 

Van aannames na saamreis 

 

Die drie mites verskil, maar voeg dieselfde las by: die persoon wat siek is, moet nie net met simptome saamleef nie, maar ook hul ervaring verduidelik en verdedig. ’n Goeie voorkoms is nie ’n maatstaf van gesondheid nie; gister se deelname waarborg nie vandag se vermoë nie; voortgesette siekwees beteken nie dat iemand ’n eenvoudige oplossing miskyk nie. Dié insig raak hoe ons ’n verjaarsdag beplan, take by die werk verdeel, ’n afwesigheid verstaan of iemand in die gemeenskap verwelkom. Ons hoef nie alles van elke siekte te weet nie. Ons kan begin deur te luister, ruimte vir wisselende vermoë te maak en toestemming te vra voordat ons raad aanbied. 

 

Vir die persoon wat siek is, kan dit ruimte skep om behoeftes eerlik te verwoord: “Ek wil graag saam wees, maar hierdie aktiwiteit is vandag te veel. Kan ons iets rustiger kies?” Ons kan niemand se liggaam namens hulle bewoon nie, maar ons kan help dat hulle minder alleen daarin voel. By die volgende ontmoeting kan ons dus die glimlag raaksien én ruimte laat vir die verhaal daaragter: “Dis goed om jou te sien. Wat sal vandag vir jou werk?” Só word saamreis prakties: nie deur die siekte weg te redeneer nie, maar deur nie die las met ons aannames swaarder te maak nie.

Oorweeg jy dit om jou verhaal met Kroniese Kronieke te deel?

Kontak dr Suzanne van der Merwe by suzanne@kroniesekroniekeonline.com

Besoek Kroniese Kronieke se webblad vir meer inligting oor outo-immuunsiektes.

Volg hulle op Facebook (@kroniesekronieke) en YouTube (@KronieseKronieke).

Kry die Kroniese Kronieke-boek, Lamentoso, te koop op dié aanlyn-winkel.