Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Kontemplatiewe aanbidding: Taizé dienste?

Daar is verskillende maniere waarop ons as gelowiges God saam kan aanbid. Kontemplatiewe aanbidding is een so ‘n manier. Ek deel graag van die insigte wat tot dusver in my eie reis na ‘n dieper verstaan van kontemplatiewe aanbidding na vore getree het. Hiermee erken ek ook dat hierdie skrywe inleidend is en dat daar veel meer is wat ‘n mens onder elk van die volgende punte sou kon sê.

In sy werk genaamd Christian Contemplative Thought and Practice in the Contemporary World (2019) verduidelik Douglas E. Christie dat daar vandag verskillende terme aangewend word om te verwys na praktyke van stilwees, refleksie en nadenke wat sentraal staan in kontemplatiewe aanbidding. Woorde soos Christelike meditasie, “centering prayer”, kontemplatiewe praktyke kan onder andere hieronder gelees word. ‘n Eietydse gebruik van die begrip “kontemplatief” is dus buigbaar en vloeiend.

Alhoewel ‘n groeiende belangstelling in kontemplatiewe praktyke opmerklik is, is dit nodig (veral wanneer ons dan ook verder vanuit ‘n gereformeerde tradisie na kontemplatiewe aanbidding wil kyk) om kennis te neem van hoe kontemplatiewe spiritualiteit in die verlede ontvang is. In sy werk Om te “preek met die pen” as vorm van die Kartuisertradisie van praedicare manibus (“preek met die hande”) (2013) wys Hansen hoe die mistieke al in die verlede met suspisie en weerstand ontvang is binne gereformeerde kringe. Of daar ‘n verband bestaan tussen die mate waarin kontemplatiewe geleenthede deur gemeentes aangebied word en die wyse waarop kontemplatiewe praktyke in die verlede ontvang is, is ‘n ander vraag. Vanuit die reaksie op ‘n vraag na kontemplatiewe aanbiddingsgeleenthede wat deur NG gemeentes in die Vrystaat aangebied word in ‘n predikantegroep op Facebook, kan afgelei word dat die kontemplatiewe geleenthede wat deur gemeentes in die Vrystaat aangebied word, taamlik min is.

Sou ons dan ook verder wil nadink oor kontemplatiewe aanbidding soos voorgehou in sogenaamde “Taizé-dienste”, is dit belangrik om kennis te dra van die Taizé-gemeenskap in Frankryk wat agter die Taizé-liedere en gebede lê. In A community called Taizé: A story of prayer, worship and reconciliation (2008) vertel Jason Brian Santos hoe Taizé ontstaan het as ‘n klein dorpie in Frankryk waar ‘n ekumeniese gemeenskap van monnike net ná die Tweede Wêreldoorlog bymekaar gekom het. Die beweging en die gemeenskap is begin deur broer Roger Schutz, ‘n Protestant, wat oortuig was van die belangrikheid van Christelike eenheid. Vinnig het dit gebeur dat mense die gemeenskap besoek het en saam met die Taizé-inwoners gebid het. Verskeie aanpassings is gemaak aan liedere wat in die gemeenskap gesing word in ‘n poging om die besoekers wat van verskillende lande en denominasies afkomstig was, te akkommodeer. Vandag nog stroom talle mense jaarliks na hierdie klein dorpie in Frankryk, waarvan ‘n groot aantal besoekers jongmense is. Dit is volgens Santos onmoontlik om die essensie van die Taizé-gebede te begryp sonder dat ‘n mens ook die teologie en kultuur van versoening verstaan wat agter die gebede skuil. Daar is ‘n onuitgesproke gehoorsaamheid aan Christus se opdrag om ‘n versoenende gemeenskap te wees, wat in die Taizé-gemeenskap gesien en beleef word. Dit is juis die verstaan van versoening wat alle aktiwiteite in die gemeenskap rig en stuur.

‘n Soortgelyke Taizé-ervaring te vinde hier in ons eie midde is die Taizé-dienste aangebied deur NG Gemeente Berg-en-Dal. Aangesien ek al self van die geleenthede bygewoon het, wil ek poog om so ‘n Taizé-geleentheid kortliks te beskryf. Wanneer mens by so ‘n Taize-diens aankom, ontvang jy ‘n gedrukte program wat gewoonlik netjies langs ‘n paar kerse op die tafel by die ingang lê. Daarna vind elkeen gewoonlik in stilte hul plek in die kerkbanke en wag saam met die ander gelowiges vir die kerkklok wat lui om 18:00. Die diens begin dan en ontvou in eenvoud volgens die liturgie wat in die gedrukte program aangetref word. Periodes van stilte, kerslig, gebed, skriflesing en herhalende sang vorm deel van die liturgiese handelinge wat so ‘n diens inkleur. Afgesien van die kort meditasie-boodskap wat op ‘n latere stadium in die liturgie aangetref word en deur die liturg voorgehou word vanwaar hy voor in die liturgiese ruimte teen die kant op ‘n stoel sit, is die afwesigheid van ‘n persoon wat voor staan ​​om die gemeente in aanbidding te lei, opmerklik. Om hierdie Taizé-geleenthede self ook eerstehands te ervaar, nooi ons by Berg-en-Dal almal hartlik uit na die Taizé-dienste. Die Taizé-dienste word een keer per maand op die laaste Sondag van die maand aangebied. Die volgende Taizé-geleentheid vind plaas op 22 Oktober om 18:00. 

116 | Maatskaplike NOODLYN