J.D. Kestell as Vrystaatse Veldprediker in die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902
Inleidend
Een oortuiging wat in die Anglo-Boereoorlog (ABO) in die gemoed van J.D. Kestell geleef het, was dat ‘n verlies van sy staatkundinge en politieke onafhanklikheid deur die oorlog nie die einde van die Afrikaner as kultuurgemeenskap hoef te beteken nie (Kestell 1902:94-95). Sy kultuurverbintenis wat spruit uit ‘n vrywillige assosiasie met ‘n sekere kultuurgemeenskap, word nie geskep deur staatswetgewing nie en kan, hoogstens, as ‘n steeds veranderende verskynsel wetlik beskerm of onderdruk word. Boonop lei dwang van die owerheid teen die kultuurbesit van ‘n groep dikwels tot weerstand en hernieude kultuurgroei by daardie groep. ‘n Regeringsbeleid van verengelsing het Afrikaans en Afrikanerwees by talle Afrikaners gestimuleer en meegebring dat hierdie taal en sy voorloper Nederlands, in die Suid-Afrikaanse grondwette van 1910 en 1961 beskerm is (Malan 1959:55).
Kestell het hierdie oortuiging met die Vrystaatse Driemanskap in die ABO naamlik president M.T. Steyn, generaal C.R. de Wet en ds J.D. Kestell self gedeel: Steyn die staatsman, De Wet die krygsman en Kestell as geestelik-godsdienstige leier (Van Schoor 1993:4). Dit was Steyn wat die stryd van die Boererepublieke (die Zuid-Afrikaansche Republiek of ZAR en die Republiek van die Oranje-Vrystaat of Rep van OVS) tot die bittereinde benadruk het: Ter wille van die selfrespek van die Afrikaner en die respek van ander vir hom en sy kinders. ‘n Stryd tot die bittereinde ter wille van die nie-staatlike kante van sy voortbestaan. Sonder hierdie respek was sy toekoms donker (motiveringsrede voor die ABO in die Vrystaatse Volksraad op 27 September 1899, OVS Volksraadsnotule 27:09:1899: 145-146). Volgens president Steyn sou die volharding van Afrikaners tot die bittereinde – die bittereinde as ‘n fase in die ABO waaroor Boere verskil het (kyk Kestell en Van Velden 1982:83,135,141) – met sy geregverdigde weerstand teen die oorlogsugtige Britse imperialisme aan hom die morele oorwinning besorg (Strauss sa:9). Na die oorgawe van ongeveer 4 000 Boere aan die Britse magte op 29 Julie 1900 op Surrender Hill, tussen Fouriesburg en die latere Clarens, praat De Wet – Kestell wys op sy helder en pittige styl – in ‘n laer van Vrystaatse burgers. Hy glo dat die Here die Boere sal help “en het niet (zal) toelaten… dat wij als een volk… verdwijnen” (Kestell 1902:94). Die president vind dus steun vir sy bittereinderhouding oor die voortbestaan van die Afrikaner by sy bittereinderhoofkommandant. Hulle houding: Al word ons deur die ABO verwond, ons sal emosioneel en moreel nié toe- of oorgee nie. In 1997 publiseer M.C.E. van Schoor ‘n biografie oor Steyn: “’n Bittereinder aan die Woord”.[1] In ‘n publikasie in 2005 vat hy hierdie lyn verder: “Die Bittereinde Vrede”. Volgens Van Schoor was die houding van die Bittereinders as die afgevaardigdes van die ZAR en die Rep van OVS by vredesluiting op 31 Mei 1902, instrumenteel in hul vredesluiting met Brittanje. Die vrede is gesluit op die voorwaardes van die Britse Kabinet, maar was onder die omstandighede tog aanvaarbaar vir 54 van 60 Bittereinders (Kestell en Van Velden 1982:169-173). In die debat van die Bittereinders wat by Vereeniging tot die besluit van 54-6 gelei het, som J.H. de la Rey die saak op: Die Britse voorstel “beteken nie veel nie, maar beding tog die een en ander” (Kestell en Van Velden 1982:135). Die Afrikanervolk, sy onafhanklikheid en politieke ideale is nie verlore nie. Die vrede van 31 Mei 1902 is nie die einde van alle Boererepublieke, nou en later nie. Die Britse imperialisme met sy minagting vir ‘n eties-verantwoorde volkereg stimuleer die nasionalisme van Afrikaners (Wessels 1975:63; Strauss 2021:https://doi.org/10. 19108/ koers.86.1. 2490). Volgens J.D. Kestell het die Boererepublieke die Britse vredesvoorwaardes van Mei 1902 aanvaar om die Afrikaner “nie heeltemal te laat vernietig nie, maar… die kern wat… oorgebly het, te bewaar en daaruit in die toekoms weer ‘n Suid-Afrikaanse volk te ontwikkel” (Kestell en Van Velden 1982:10).
Dominee Kerstell (in hierdie amp en as pastor) se afskeidsboodskap aan die 60 Boere-afgevaardigdes op 31 Mei 1902 by Vereeniging was:
“Broers, ons staan by die graf van albei Republieke; maar nie by die graf van ons volk nie…” “…nou moet ons ‘n ander stryd ingaan, veel groter en… edeler…”. “Ons moet deur kraginspanning en opoffering… werk aan die weeroprigting van ons volk…” “Die volk wat na ons opgesien het en tot die einde toe getrou aan ons gebly het, sal nog steeds na ons opsien en… onder die veranderde omstandighede raad en hulp van ons verwag…” (Kestell en Van Velden 1982:11).
Kestell se “ons” was leiers van “nagenoeg” 20 779 Boerebittereinders wat tot die einde van die ABO in die veld volhard het en daarna ‘n rigting van “Suid-Afrika Eerste” wat die Afrikaners as ‘n kultuurgemeenskap huisves, sou inslaan (Kestell en Van Velden 1982:11). ‘n Rigting waaruit talle instellings van Afrikaners in die 20ste eeu gebore is, ook die Republiek van Suid-Afrika in 1961.
Hierdie slotwoorde van Kestell na die ABO toon onteenseglik: Die gerespekteerde en beminde dominee was ‘n Vrystaatse Afrikaner in murg van been…
Veldprediker ‘n Vrystater
Dat J.D. Kestell sonder teenspraak deur ‘n spontane konsensus onder Vrystaatse Boerebittereinders as een van die Vrystaatse Driemanskap beskou is, is genoeg om hom as ‘n egte Vrystater te tipeer. Kestell is beskou as ‘n persoon wat in die hartskamer van die Vrystaatse Afrikaner van 1899-1902 beweeg en ‘n gewaardeerde bynaam onder sy volksgenote, “Vader Kestell”, verwerf het. As ‘n vader wat sorg, het sy eie mense hom met liefde en respek aanvaar. ‘n Beeld wat hy met sy geestelike leierskap en ywer vir die geestelike en materiële welsyn van Afrikaners, verwerf het (Nienaber 1971:91). As ‘n veldprediker wou hy homself nie bewapen of met krygsake bemoei nie. Sy diens as pastor-prediker op kommando was vir hom ‘n uitvloeisel van sy diens in die Ned Geref Kerk Harrismith: Die gemeente waarin hy by die uitbreek van die ABO op 11 Oktober 1899 werksaam was (Van Schoor 1992:80). Sy teenwoordigheid “te velde” tot die vrede van 31 Mei 1902 het hom op daardie stadium die enigste veldprediker of dominee by die Vrystaatse kommando’s in die ABO gemaak (Kestell 1902: 285; Van Schoor 1992:114,130; Van der Watt 1980: 196).
President M.T. Steyn se aanbod van ‘n veggeneraalskap aan hom vroeg in die ABO, het Kestell beleefd van die hand gewys. Hy was ‘n geroepe veldprediker. Hierop het die staatshoof een van sy gevleuelde sêgoed in die ABO geuiter: “… van vandag af beskik ek in de Wet oor ‘n generaal duisend op die krygsakker en in u, dominee, ‘n generaal duisend op die geestelike akker” (Van Schoor 1992:89).
Dat Steyn se aanvoeling raak was, sou hy self bevestig toe hy na die ABO bygevoeg het dat Kestell in die oorlog vir hom meer beteken het as ‘n hele kommando. Boonop het die staatshoof ‘n voorbeeld vir sy kultuurgenote gestel om die geestelike leier respekvol aan te spreek as “u dominee” (Nienaber 1971: 91). Kestell sou as prediker, sielsorger, verpleër en motiveerder by die Boere inval. As veldprediker sou sy take om twee dinge draai: Die motivering van die Vrystaatse burgers om die reg van die Boererepublieke op onafhanklikheid te handhaaf en sy opdrag om kommandolede met Gods Woord te lei, te bemoedig en te vertroos (Van Schoor 1992:76,123-124; Kestell 1932:92,93). Kestell sou preek, boekevat, biduur hou, sterwensbegeleiding doen en by godsdienstige feesdae soos “Dingaansdag” en nuwejaar, voorvat (Kestell 1902:35,70; Van Schoor 1992:77,103,115,118). Bekend is ds Kestell se verpleging van gewonde Tommies na die Slag van Platrand op 6-7 Januarie 1900. ‘n Sersant van die Imperial Light Horse het hierby opgemerk: “You are preaching a good sermon today” (Van Schoor 1992:84).
Nienaber noem Kestell klein van “persoon”, nederig van gemoed en saggeaard. Tog was hy ‘n inspirasie met ‘n “magnetiese invloed op sy volk”. Hy was nie ‘n besondere redenaar nie, maar toehoorders het met ontroering na sy “diep-innige” woorde geluister. Sy inspirasie het twyfelaars krag gegee en Afrikanerleiers “met nuwe moed besiel”. Volgens Nienaber het “sy volk” aan Kestell die “hoogste eer bewys waartoe hy in staat was”: Hy is saam met Steyn, De Wet, mev Rachel Steyn en mej Emily Hobhouse in die binnehof van die, vir hulle, kosbare Vrouemonument begrawe (Van Schoor 1993:16-17).
Vir Kestell het niemand naas die Bybel op sy eie volks- en openbare lewe soveel invloed gehad as M.T. Steyn nie (Van Schoor 1992:253). In sy begrafnispreek by die afsterwe van laasgenoemde in 1916, noem Kestell hom ‘n man van God wat tot die wese van dinge kon deurdring. As teks neem hy Klaagliedere 5:16: “De kroon van ons hoof is afgevallen!” (Van Schoor 1992:250). Daarmee gebruik hy woorde waarmee duisende Afrikaners hulle kon vereenselwig. Vir hulle was Steyn die Afrikaner van die Afrikaners en siel van die vryheidstryd (Scholtz 1998:78; Giliomee 2003:360).
C.R. de Wet was daarvan oortuig dat die Here nie sal toelaat dat die Afrikaner en sy kultuur-eie verdwyn nie. Hierdie oortuiging moet die burgers nie sorgeloos maak nie. Hulle moet bereid wees om te offer op die altaar van vryheid: Geld, goed, gemak en die lewe. Die Boere moet die Britse oormag in die ABO aanhou teister. As pastor en geesgenoot steun Kestell vir De Wet die krygsman byna onvoorwaardelik. Dit is asof Kestell se bedanking vir die veggeneraalskap hom speen van enige begeerte tot militêre vernuf as iets waaroor hy persoonlik moet beskik. Dit word ‘n vernuf wat hy met vrede aan ander oorlaat en in De Wet, van ‘n respekvolle afstand af, bewonder. Volgens die dominee het die krygsman hom gehipnotiseer. As ‘n herder en fyn ontleder van menslike gedrag het Kestell vir De Wet dopgehou: Sy krag het daarin gelê dat hy met niemand intiem is nie, maar met almal vriendelik. Boonop was hy soos alle groot leiers so geheimsinnig soos ‘n “Sfinks” (Kestell 1902:99-100).
As lid van die Vrystaatse Driemanskap was Kestell ‘n geswore Vrystater en ‘n deurdagte veldprediker. As ‘n konsekwente Christen was hy oortuig dat God roep. God Drie-enig regeer vanaf sy troon met ‘n gelowige M.T. Steyn wat die staatskroon dra, C.R. de Wet wat militêr stry sodat Steyn hierdie kroon kan behou en J.D. Kestell wat vanuit hierdie raamwerk die Evangelieboodskap verkondig.
Veldprediker ‘n geestelike leier
Soos later in sy lewe sou veldprediker Kestell na die pen gryp om sy mense se saak voor ‘n breë gehoor te stel. Kort na die aanvang van die ABO op 11 Oktober 1899 rig hy ‘n ope brief aan die “British Nation” wat op 24 Oktober 1899 in De Express verskyn. Daarmee toon Kestell dat hy ‘n prinsipiële denker én geestelike leier onder sy mense is.
Later sê Kestell prontuit: Ek wou die Britse volk oortuig dat die ABO nie die Boere se vryheidsdrang sal blus nie. Elke poging om die Afrikaner te vernietig – soos nou in 1899 – oortuig die Boer net meer dat hy deur God in hierdie land geplaas is en dat sy voortbestaan verseker is, selfs al sou die ABO die Republieke vernietig.
“… if you desired to crush the life out of us, you should have done so when we crossed the Orange River in 1835 and 1836… as one people we exist not only in the two Republics, but throughout South Africa… from the Zambezi to the shores of Table Bay.” (Van Schoor 1992:78).
Kestell was ‘n pastor-prediker maar ook ‘n segsman wat kon raakvat as dit kom by die Boeregemeenskap. Vir hom en die Vrystaatse Driemanskap was hulle reg op volkskap – soos die van ander volke – vasgelê in die “heilige – onaantasbare – God” – se plan vir die menselewe. “Mijn plicht was om aan te moedigen en op God te wijzen”. Die Here sal verhoed dat die “Afrikaansche volk… vertreden worden” (Van Schoor 1992:95).
Soos president Steyn was Kestell oortuig dat Brittanje die aggressor in die ABO is en dat die Republieke uit noodweer op selfverdediging geregtig was. Kestell het Brittanje se miskenning van die reg van die Republieke op staatkundige onafhanklikheid as ‘n onreg beskou (Kestell sou praat van die “heilige” strewe van die Rep van VS na onafhanklikheid, Kestell 1902:280). Soos sy president het hy geglo dat sommige lede van die Britse Regering die Afrikaner, ‘n struikelblok vir Britse Imperialisme in Afrika, wou uitwis. So ‘n hatigheid bots egter met die wil van God (Kestell 1902:42;285; Van Schoor 1992:95,103).
Omdat die saak van die Republieke verantwoord was, het ds Kestell geglo dat hulle vir die goeie uitkoms van die ABO op God kan vertrou. As jy suksesvol wil wees, moet jy seker maak dat jy met jou optrede aan God se kant of die kant van die reg is. Vir Kestell was die ABO ‘n heilige of geheiligde oorlog omdat die Boere op hulle weerstand geregtig was (Van Schoor 1992:88). Daarom was die oorgawe van Marthinus Prinsloo met 4 000 Boere op 29 Julie 1900 op Surrender Hill, by die Brandwaterkom langs die grens van Basoetoeland, vir Kestell die “de treurigste dag in de geschiedenis van onzen oorlog” (Kestell 1902:70). Vlugtende kommando’s, mismoedige offisiere en die sprekende stilswye van burgers het hom emosioneel platgedruk en tot wanhoop gestem. Toe hy opnuut besef dat die mens God nie kan manuplieer nie, was hy skaam vir hierdie gemoedstoestand. Dit was dan hy wat ander uit die Bybel bemoedig het en ‘n maand vroeër – weer sy aktiewe pen – aan die president geskryf het dat hy saam met hom die stryd tot aan die einde sou voortsit. Kestell sou in die ABO nie weer toegee aan hierdie soort wanhoop nie (Kestell 1902:75-76, 163; Van Schoor 1992:91,99).
Omdat hy hier geleer het wat dit is om “moedeloos te zijn”, het Kestell as ‘n bittereinder later ook begrip vir neerslagtigheid as rede waarom burgers die wapen neerlê. Wat hy nié kon verstaan nie, was dat Boere die wapen teen hulle eie mense opneem (Kestell 1902:170; Van Schoor 1992:112).
Veldprediker ‘n pastor
As ‘n veldprediker wat deur middel van die Woord die burgers lei, bemoedig en vertroos, moes J.D. Kestell oor toepaslike pastorale gawes beskik het. Immers, die dood van makkers, die nood van kommando’s wat deur ‘n oormag agtervolg word en die individuele sielswroeginge van ‘n uitmergelende oorlog, moes ook die pad van hierdie veldprediker wat vertrou word, die dominee wie se preke van eenvoud en geloof getuig, kruis. Daar is gewys op Kestell se pastorale ‘aanslag’ waarmee hy Steyn en De Wet as persone getipeer en benader het. Sy slotsom was: Steyn het ek soos ‘n broer liefgehad, maar De Wet het ek gevrees (Kestell 1902:99-100). Hierdie tipering was bepalend vir die omgang van die veldprediker met dié persone en sy verstaan en waardering van hulle. Om die impak van Steyn en De Wet na waarde te weeg, moes hy hulle persoonlikhede in konteks ontleed. Juis omdat hy ‘n pastor-prediker van geaardheid was, het Kestell ruimskoots hiervan gebruik gemaak. Dit was so deel van sy mondering dat hy dit selfs gepubliseer het.
Met dieselfde ontledende aanslag het Kestell gehore opgesom en die moraal van kommando’s gepeil.
Daarom kon hy die impak van die oorgawe by Surrender Hill peil – ons het daarop gewys – en aan sy opperbevel deurgee. ‘n Peiling wat kon help om vegtende burgers gemotiveerd te hou.
Dat Kestell met sy pastorale insig in mense in historiese oomblikke ‘n deurslaggewende of beslissende inset kon lewer, blyk uit sy insig by die samesprekings oor vrede in die ABO deur die 30 Transvalers en 30 Vrystaters by Vereeniging in Mei 1902. J.D. Kestell is saam met D.E. van Velden as notulehouers gebruik by hierdie byeenkoms van die verteenwoordigers van die twee republieke: Die ZAR en Rep van OVS. Kestell het as waarnemende staatsekretaris van die Rep van OVS opgetree en Van Velden van die ZAR (Kestell en Van Velden 1982:9).
In die laaste fase van hierdie vergadering waarin die 60 aangewese Boere oor die vredesvoorwaardes van die Britse Kabinet moes besluit, van 29 tot 31 Mei 1902, het daar ‘n situasie ontstaan waarin dit vir die meerderheid duidelik geword het dat hulle nou by die einde van die bittereinde[2] van die ABO – uit ‘n Boere-oogpunt – gekom het.
Uit die notule wil dit voorkom asof die bydrae van generaal J.H. de la Rey op hierdie punt beslissend was. As ‘n bekende Boerebittereinder en ‘n geesgenoot van president Steyn het hy gesê: “ek sê u dat hierdie byeenkoms die einde van die oorlog is… Hier word van geloof gepraat. Wat is geloof? Geloof is: ‘Heer laat U wil geskied’. Nie: ‘My wil geskied om oorwinnnaar te wees nie…’ Hierna was Kestell oortuig dat die einde van die ABO in sig was. Juis daarom het hy De la Rey waarskynlik redelik volledig genotuleer (Kestell en Van Velden 1982:135).
In sy “Met de Boeren-commando’s” vertel die veldprediker-pastor dat ‘n gees van “tegenzin in verderen tegenstand” algaande van die Vereenigingsberaad besit geneem het. Dat hulle hulle tevergeefs teen dié gees verset, het tot die meeste Boere deurgedring (Kestell 1902:273). Behalwe argumente ter vergadering wat die einde van die bittereinde van die ABO ondersteun, het Kestell se aanvoeling as pastor hom van hierdie gees as ‘n bepalende faktor bewus gemaak. ‘n Emosionele golf het op die vergadering ontwikkel as gevolg van die debatte, verslae, houdings en omstandighede waarin byeengekom is. Die finale besluit om die Britse voorstelle met 54-6 te aanvaar, is nie net met logiese argumente geneem nie. De la Rey se kort sinnetjie van ‘dit is die einde van die oorlog’ het ‘n dieper emosionele oortuiging blootgelê wat deur ander argumente ondersteun is.
Die bittereinder Kestell het hierdie einde van die bittereinde vanuit ‘n pastorale oog raakgesien.
Veldprediker ‘n bittereinder
Sy blote teenwoordigheid op Vereeniging as ‘n gestuurde Vrystaatse funksionaris, toon dat Kestell teen die bittereinde steeds ‘n veldprediker-bittereinder was: Die enigste Vrystaatse veldprediker. ‘n Dominee wat tot op die einde getrou sou bly. Hy wat met ‘n pastorale aanslag en emosionele intelligensie besef het: Hierdie beraad stuur af op vrede. Dit is die einde van die ABO.
Kestell het deur die ABO as ‘n Rep van OVS-veldprediker gegaan en daaruit gekom met ‘n hartsverbintenis aan die omvattende lewensherstel van die Afrikaner in die twintigste eeu. Die ontwikkeling van die edelste in Afrikaners én in die totale bevolking van Suid-Afrika as ‘n ontwikkeling wat Suid-Afrika intens nodig het. Met hierdie roeping sou hy die beeld van ‘n ‘Vader Kestell’ kry wat hy nooit weer sou prysgee nie.
Kestell is die ABO sonder militêre wapens in. Sy wapens as veldprediker was sy Bybel, middele ter versorging van gewondes én ‘n afskrif van daardie veelgeroemde toespraak van president Steyn in die Vrystaatse Volksraad in September 1899 ter motivering van die Rep van OVS se betrokkenheid by die ABO. ‘n Stuk wat hy volgens eie getuienis “oor en oor vir myself” gelees het terwyl hy in die veld was. Wat meer is, Kestell was daarvan oortuig dat hy die president op sy woord kon neem…
Soos wat Kestell – soos verwoord deur M.C.E van Schoor – as veldprediker dit opsom:
“Soos wat Marthinus Theunis Steyn en die oorgrote meerderheid van die Vrystaatse burgers sy oproep tot die bittereinde sou nakom, het ek die Here dag na dag gebid om ook my, as volle Vrystaatse burger, tot die einde getrou te maak” (Van Schoor 1992:75).
Bibliografie
Giliomee, H. 2003, The Afrikaners. Biography of a People, Tafelberg, Capetown.
Kestell, J.D. 1902, Met de Boeren-commando’s. Mijne ervaringen als veldprediker, Höveker en Wormser, Amsterdam.
Kestell, J.D. 1932, Abraham Paul Kriel. Sy lewe en werk, Nasionale Boekhandel, Kaapstad.
Kestell, J.D. en Van Velden, D.E. 1982, Die vredesonderhandelinge, Human en Rousseau, Kaapstad.
Malan, D.F. 1959, Afrikaner-volkseenheid en my ervarings op die pad daarheen, Nasionale Boekhandel, Kaapstad.
Nienaber, P.J. 1971, Vader Kestell, Tafelberg, Kaapstad.
OVS Volksraadsnotules 1899.
Scholtz, G.D. 1998, Die Tweede Vryheidoorlog 1899-1902, Protea Boekhuis, Pretoria.
Strauss, P.J. 2021, Die Bittereindervrede van 31 Mei 1902: ‘n histories-etiese perspektief, https://doi.org/ 10.19108/koers.86.1.2490).
Van Schoor, M.C.E. 1992, John Daniël Kestell 1854-1941. Outobiografies beskryf, Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, Bloemfontein.
Van Schoor, M.C.E. 1993, Die Nasionale Vrouemonument, Oorlogsmuseum van die Boerepublieke, Bloemfontein.
Van Schoor, M.C.E. 2005, Die Bittereinde Vrede. Vredespogings en -onderhandelinge voor en tydens die Anglo-Boereoorlog 1899-1902, Kraal, Brandfort.
Van der Watt, P.B. 1980, Die NG Kerk 1824-1905, NG Kerkboekhandel, Pretoria.
Wessels, F.J.H. 1975, Die struktuur van die tussenstaatlike – ‘n normatiewe analise, Wessels, F. (red), Op al sy akkers, Sacum, Bloemfontein.
[1] Van Schoor, MCE 2005, Die Bittereinde Vrede, Kraal-Uitgewers, Brandfort; Van Schoor, M.C.E. 2009, ‘n Bittereinder aan die woord. Marthinus Theunis Steyn, Oorlogsmuseum van die Boerepublieke, Bloemfontein.
[2] Vir ‘n bespreking op Vereeniging van die ‘bittereinde’ kyk Kestell en Van Velden 1982:79,83,85,135,141, 144-145.