Deur Mariëtte Odendaal
As jy so deur die argiewe van gemeentes blaai, kom jy dikwels af op fassinerende stories. Een daarvan is dié van die wilde loot Conrad Frederick Genal, ’n Duits-gebore soldaat wat nie net van sy verpligtinge as Franse Vreemdelegioen-soldaat ontsnap het deur in die Suez-kanaal te duik en daarvandaan deur Afrika te swerf nie, maar ook later in Suid-Afrika as geïnterneerde tydens die Eerste Wêreldoorlog ontsnap het.
Genal se storie lees amper soos ’n ouderwetse James Bond-verhaal.
Genal se nomadiese lewe het in die 1890’s begin toe hy as soldaat uit die Franse Vreemdelegioen gedros het. Dié elite-eenheid van die Franse leër wat in 1831 gestig is, was per skip op pad na Noord-Afrika toe Genal in die Suez-kanaal geduik en ongemerk sy weg na Kaïro, Egipte gevind het.
Vandaar het hy al langs die kronkelende Nylrivier suidwaarts gestap en oorleef deur oral waar hy gekom het, fresko’s te skilder. Sy fooi was tien sjielings per jaart. (Daar was destyds 20 sjielings in ’n pond en ’n jaart was amper 1 meter lank.)
| verskaf : Die NG Kerk op Dewetsdorp. President FW Reitz het die hoeksteen op 26 Mei 1894 gelê. (Foto van die kerkgebou: Erkenning aan Willeen Olivier)
Net gou ter wille van diegene van ons wat nie presies weet wat ’n fresko is nie.
‘n Fresko is ‘n tipe muurskildering of dekoratiewe tegniek waar verf op ‘n nat muur aangebring word. Die term “fresko” kom van die Italiaanse woord fresco, wat “vars” beteken, omdat die verf op ‘n vars pleisterlaag aangebring word. Hierdie tegniek was ‘n baie gewilde kunsvorm in Italië tydens die Renaissance.
Die proses van die maak van ‘n fresko behels dat ‘n dun lagie vars pleister op ‘n muur aangebring word. Terwyl hierdie pleister nog nat is, word die kunswerk vinnig met waterverf op die oppervlak geskilder. Die kleure word dan deur die pleister geabsorbeer, wat ‘n permanente binding van die verf aan die muur meebring.
Een van die beroemdste voorbeelde van die fresko-tegniek is die fresko’s in die Sixtynse Kapel in die Vatikaanstad in Rome, geskep deur kunstenaars soos Michelangelo. Fresko’s het dikwels ‘n ryk kleurpalet en ‘n lang lewensduur, aangesien die verf deeglik met die muur geïntegreer is.
Terug by Genal. So, hoe het dit gebeur dat Dewetsdorp se NG Kerksaal vandag met een van Genal se fresko’s spog?
Nadat Genal se suidwaartse swerftog hom uiteindelik na Suid-Afrika gelei het, is hy as gebore Duitser tydens die Eerste Wêreldoorlog geïnterneer.
Teen hierdie tyd weet ons dat dié man hom egter nie laat inhok nie. Hy ontsnap uit aanhouding en vind sy weg na Kaapstad. Vandaar werk hy later sy swerftog gaandeweg weer noordwaarts terug deur die Vrystaat.
Hy kom onder andere tot rus op Dewetsdorp, waar die kerkraad hom kontrakteer om die pas voltooide kerksaal se mure te beskilder. Hulle bied hom vyftien pond aan vir hierdie stuk kunswerk.
Na maande van harde werk aan hierdie pragtige fresko’s is hy daar weg met twintig pond, ’n moontlike aanduiding van ’n hoogs tevrede kerkraad, of dalk ’n slim kunstenaar wat weet hoe om sy waarde in sjielings te motiveer?
Die kunswerk staan bekend as “Cape to Cairo”, waarin hy sy reis voorstel vanaf die Kaap deur Afrika tot by die Nyl in Egipte. ’n Mens sou eintlik verwag dat die naam van die kunswerk “Cairo to Cape” sou wees, aangesien hy nooit weer in Kaïro was nie; sy swerftog het in Durban geëindig waar hy op die ouderdom van 64 jaar aan ’n asma-aanval gesterf het.
Ons weet dat hy ook die mure van die Impala Hotel te Barberton en dié van die hotel op Kaapmuiden, Mpumalanga, geskilder het. Hopelik is dit nog, soos in Dewetsdorp se NG Kerksaal, te sien. Gaan vind gerus uit as jy weer daar op besoek is.
| verskaf : (verskaf deur ds Horace van Coller, leraar van NG Gemeente Dewetsdorp): NG Gemeente Dewetsdorp se muurskildery.
Net vir ekstra gees – meer oor die gemeentegeskiedenis van die NG Kerk Dewetsdorp
Die NG Gemeente Dewetsdorp, Ring van Smithfield, was met sy stigting op 15 Desember 1882 die 24ste gemeente in die Vrystaatse Sinode, maar vandat die moedergemeente Bethlehem by Bethlehem-Wes ingelyf is, is dit die 23ste oudste gemeente in die Vrystaat.
Reeds in 1875 het die gedagte ontstaan om ’n eie gemeente te stig. Op 10 Februarie 1875 is ’n memorandum deur 172 burgers onderteken en aan veldkornet JI de Wet oorhandig om dit aan die Volksraad voor te lê. Hierin is die Volksraad versoek om ’n dorp op die plaas Karreefontein te stig.
Nadat hierdie versoek geweier is, is die plaas vir £1 500 gekoop deur ’n komitee bestaande uit die here O Carroll, GE Stegman, C van der Wath en JI (Kootjie) de Wet, vader van die gevierde generaal CR de Wet.
Onmiddellik daarna is erwe beskikbaar gestel en ’n stuk grond vir ’n kerk afgebaken. Hierna is ’n kerk gebou en die leraars van Bloemfontein, Smithfield, Edenburg en Wepener het getrou een maal per maand hier diens gehou.
Op versoek van ds. Johannes Wynand Louw van Wepener het hierdie buitepos vanaf 1879 geressorteer onder Wepener. Van toe af is die sakramente plaaslik bedien, lidmate is aangeneem en voorgestel en huwelike bevestig.
Ná herhaalde versoeke is die dorp eindelik in 1880 gestig en na oom Kootjie de Wet genoem.
Nadat daar in 1882 ’n versoek gerig is aan die Suidelike Ring, wat in September 1882 op Philippolis sitting gehou het, is ’n ringskommissie bestaande uit di Fraser (Philippolis), Olivier (Bethulie) en ouderling CCW Klopper (Rouxville) afgevaardig om ’n gemeente hier te stig; dit geskied op 15 Desember 1882. Die gemeente sou uit 551 lidmate en 1 422 siele bestaan.
Eerw JH Otto, skoolhoof, het die gemeente van 1879 tot 1920 as eerste skriba, kassier en orrelis gedien. Ná herhaalde vrugtelose beroepe is die eerste leraar, prop Wynand Andries du Toit, op 7 Februarie 1885 bevestig. Ná ’n geseënde bediening van langer as 13 jaar is hy op 16 Augustus 1898 saam met sy vrou en dogtertjie aan die gemeente ontruk toe al drie in ’n treinongeluk naby Laingsburg in die Karoo dood is.
Sy opvolger, ds AJ Malherbe (1903-1913), het die gemeente opgebou uit die puinhope van die verwoestende Tweede Vryheidsoorlog. Ds PJ Pienaar, later Armesorgsekretaris in die Vrystaat, het die gemeente van 1913 tot 1925 bedien. Ds JH Badenhorst, later organiserende sendingsekretaris in die Vrystaat, het van 1926 tot 1949 hier gearbei en is op 22 April 1950 deur ds FA Dreyer opgevolg.
In 2015 het die gemeente 120 doop- en 530 belydende lidmate gehad, vergeleke met 142 en 548 ’n dekade vantevore. Tans het dit 56 doop- en 384 belydende lidmate.
Bronne
Geskiedenis van die kerksaal se fresko: Frikkie Oothuizen.
Gemeentegeskiedenisargief: Morné van Rooyen.